Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In plakboeke lê ’n hele familie se lag en traan
Wilhelm Jordaan

Die mens se giere kom en gaan . . . en kom weer terug. Soos die spreekwoordelike kat. So ’n gier is die maak van plakboeke wat verskyn het, verdwyn het en nou weer ’n opbloei beleef. Dit is daarop gerig om, soos bemarkingstaal beduie, “lewensmomente te verewig” ter wille van “ons memories”.

Dié gier hang saam met twee menslike “instinkte” – om na stories te luister en om na prentjies (kiekies) te kyk. ’n Filosoof het op ’n keer gesê die mens is “bedraad” om dit te doen, net soos ’n spinnekop bedraad is om ’n web te weef en ’n bewer bedraad is om ’n dam te bou.

Plakboekstyle verskil. Soms is dit bloot net ’n bietjie gesinspret – ’n bont versameling ditte en datte; versier met foto’s, snuisterye en blink goedjies wat, as jy die markplein wil glo, mense se skeppende impulse uitdruk. As jy klaar geplakboek het, word dit eintlik maar “scrap” – rommel wat jy ’n rukkie hou en later vergete in die vullisblik beland.

Daar is ook plakboeke wat familie-albums plunder. Kosbare ou foto’s word verwyder of verknip en by nuwer foto’s en gedenkstukkies gevoeg om saam “plakskilderye” of collages te vorm. Sodat ou dinge met nuwer dinge kan saampraat. Met byskrifte soos: “Hier is al die familie oor vier geslagte heen. Kyk hoe snaaks is hulle aangetrek! Kyk hoe anders lyk óns!” Of: “Hier is al die groot(oupas) en groot(oumas) saam.” Sulke plakwerk banaliseer die familiegeskiedenis juis omdat dit die verlede onteer. Soos Orhan Pamuk in sy roman The Black Book sê: “To retouch a photograph is to kill the soul.”

Nog ’n soort plakboek behels die omvattende optekening van familiegeskiedenisse deur foto’s, dokumente en nagevorste inligting. Foto’s en ander gedenkwaardighede, soos testamente en koerantberigte, behou hul chronologie om ’n storie te vertel. So ’n plakboek is wesenlik ’n protes teen naamloosheid in die massa en lewensvlugtigheid. Om te sê: “Ek, en die mense naaste aan my, maak saak. Ons het ’n klein geskiedenis wat ons gevorm het. Kyk na my plakboek en jy sal sien. Ek (ons) is nie bloot voetnote in die joernaal van die lewe nie. Ons hét ’n storie.”

Súlke plakboeke is durende erfgoed.

Onlangs blaai ek deur iemand se plakboek wat juis so lyk. Daar is byvoorbeeld twee teenstellende familiefoto’s. Op die een verskyn ’n boer en sy gesin; duidelik trots en welvarend. Die vrou dra ’n Brusselse kantrok met die fynste borduursels en die man ’n snyerspak. Ook die kinders is fyn geklee. By die omblaai na ’n volgende bladsy kom die pynlike teenstelling wat jou in die gemoed kneus. Dieselfde man en vrou 15 jaar later – ná die vernietigende droogte van die 1930’s in die noordweste van die land en die “swart griep”, wat duisende se lewe geëis het. Hulle is verslae en verwese met moeë monde en oë. Die vrou se rok is van goedkoop linne met die handgemaakte opnaaisels duidelik sigbaar. Die man se pak is blink en skaafdun.

Uit sulke plakboeke kom ’n familieverhaal met raakpunte aan soortgelyke familieverhale. En saam daarmee kom herinnering aan lewensvormende kragte en waardes wat steeds die familieverhaal rig.

Súlke plakboeke is durende erfgoed.

  • Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.
Meer oor:  Menings  |  Stemme  |  Wilhelm Jordaan  |  Plakboeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.