Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In rou en hoop gedompel in ’n brandkoue tyd
Esté Gross Foto: Fathom Media

Die akkerbome in my straat wat eers met goudgeel munte aan hul takke gespog het, se bros en bruin blare verkrummel onder my stewels op die teerpad.

Dit is ’n brandkoue winter in die land. Ek vryf my hande saam vir hitte en stap om die blok om my kop skoon te kry.

Buurman Charlie onder in die straat is op sy knieë, besig om die onkruid uit die plaveisel voor sy hek met ’n vurkie uit te karring. Ons groet. Toe ek weer by Charlie verby kom, vee hy die blare-oes ritmies met ’n besem weg.

Voor my oprit tel ek die koorsboom buite my hek se takke met hul skel dorings op; ’n motorband het al so deurgeloop en my duur te staan gekom.

’n Doring haak aan my trui en rafel ’n deel uit, nes die onlangse onrus in die land wat tot diep in my binneste krap.

Ek sluit die deur oop en gun myself ’n paar minute om te huil oor die vrees, verlies en swaarkry in die lug, want dit plak soos kleefplastiek aan my hart.

Ek maak ’n koppie koffie. Toe die ketel se knippie afklik, besluit ek dat routyd vir eers verstreke is, ek wil eerder vashou aan hoop en dink aan die talle doringtakke en pap bande wat ek wel gespaar is in my lewensloop.

Hy is eintlik mooi; dorings, bonkige knoppe en al. En daar is voëls wat graag in sy takke nes maak. Ek sal hom mis as iemand hom eendag neervel.

Buite op my stoep kyk ek weer na die koorsboom.

Hy is eintlik mooi; dorings, bonkige knoppe en al. En daar is voëls wat graag in sy takke nes maak. Ek sal hom mis as iemand hom eendag neervel.

’n Gebeurtenis wat my altyd sal bybly, is van die student Donald Currey wat op 6 Augustus 1964 onwetend die (tóé) oudste boom in die wêreld genaamd Prometheus – ’n antieke denneboom (bristlecone pine) – in Nevada in die VSA afgekap het. Sommige kenners het destyds gemeen dat die boom amper 5 000 jaar oud kon gewees het.

Die VSA se bosboudienste wat by die voorval betrokke was, was ook nie bewus van die antieke status van die boom nie en het toegelaat dat die oue van dae neergevel is vir navorsing oor klimaatsverandering. Die faux pas het Currey glo lewenslank gepla. Tog het daar iets goeds hieruit gespruit. Dit het glo daartoe aanleiding gegee dat die Great Basin Nasionale Park gestig is om juis dié soort den, Pinus lon­gaeva, te beskerm. Daar is intussen ook elders van dié bome gevind wat nóg ouer is.

Dit gaan lank neem om dit wat in die land afgebrand is in woede, onkunde, armoede en vernielsug weer op te bou.

As ’n boom eers afgekap is, is hy stom en stomp.

En ons menswoud word ook uitgedun deur die pandemie. ’n Mens kan nie jou takke strek en aan die hemel raak nie.

Ja, ons sal uithou, moed hou en weer opbou. Maar dit is nodig om te rou oor dit wat in die roet weggewaai het. En oor alles en almal wat ons in hierdie brandkoue winter moet groet.

  • Gross is ’n omroeper en sangeres.
Meer oor:  Esté Gross  |  Brandkoue Tyd  |  Koue  |  Bome  |  Koorsboom  |  Winter  |  Hout
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.