Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In rugby gaan dit oor wen, basta met res!

Hy vind die kritiek oor die vervelige spel in die Curriebeker-reeks vreemd, want Suid-Afrikaanse rugbyspanne was nog nooit juis bekend vir avontuurlike hardlooprugby nie, skryf Pieter Labuschagne.

Die Leeus se Willem Alberts probeer in ’n onlangse Curriebeker-wedstryd twee verdedigers van die Blou Bulle ontwyk. Foto: Gallo Images

Was dit te wagte dat daar in Suid-Afrika in die naweë van 2019 se Wêreldbeker-rugbytriomf kritiese stemme ná die aanvanklike opgewondenheid gehoor sou word?

Só iets is nie ongewoon in sport nie met kritiese denke wat gewoonlik later na die oppervlakte borrel. Dit is egter betreurenswaardig in Suid-Afrika – ’n land wat hartstogtelik na enige vorm van sukses smag en so lank moontlik op die positiewe energie wou kapitaliseer.

In ’n TV-besprekingsprogram oor rugby het twee rugbykenners, Nick Mallett en Swys de Bruin, na die verbeeldinglose, voorspelbare en selfs vaal rugby in die Curriebeker-reeks verwys.

Mallett het ook na die Wêreldbeker-halfeindstryd tussen Suid-Afrika en Wallis verwys en was baie krities oor die voorspelbare spel van die twee spanne wat allesbehalwe opwindend was.

Die All Blacks en Nieu-Seeland se streekspanne word dan gewoonlik as voorbeelde voorgehou van hoe daar gespeel moet word.

In wese veronderstel Mallett met dié aanname dat die spel oninteressant en nie opwindend is nie as daar nie met die bal gehardloop word nie.

Mallett en De Bruin het aangedui dat hulle wil sien dat die Springbokke en Curriebeker-spanne na meer opwindende rugby oorskakel met aanvallende spelers wat voortdurend met die bal in die hand in gapings inhardloop. Die klem in moderne rugby moet volgens hulle minder op kragspel wees wat deur voorspelers oorheers word.

Die All Blacks en Nieu-Seeland se streekspanne word dan gewoonlik as voorbeelde voorgehou van hoe daar gespeel moet word.

Die twee kenners se voorstelle en menings hou egter groot gevaar vir Suid-Afrikaanse rugby in. Daar is voorbeelde in die geskiedenis waar Springbok-afrigters en spelers van hul tradisionele sterkpunte afgewyk het net vir hul spanne om te verloor.

Ons wil in die ‘gutters’ speel!

Siya Kolisi en pres. Cyril Ramaphosa saam met jubelende Springbokke ná die sege oor Engeland in die 2019 Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

In die hoogs kykbare dokumentêre reeks oor die Springbokke se 2019 Wêreldbeker-triomf in Japan, Chasing the Sun, spreek Rassie Erasmus, die destydse hoofafrigter, sy span voor die kwarteindstryd teen Japan toe. Erasmus verduidelik dat die vlugvoetige Japannese op die “dansvloer” wil speel, vlugvoetige rugby teen ’n hoë tempo.

Dit was juis dié vlugvoetige taktiek wat die Japannese in 2015 gehelp het om ’n skoksege oor die Springbokke in daardie jaar se Wêreldbeker-toernooi te behaal.

Erasmus het aan sy span gesê dat die Bokke hul rugby in die stormwatersloot (gutter) wil speel: kragspel wat deur die voorspelers oorheers word.

Hy het Frans Malherbe as voorbeeld gebruik, wat as sterk skrumwerker nie vir 50 tot 60 minute wil of kan rondhardloop nie.

Erasmus se basiese benadering voor en tydens die Wêreldbeker-toernooi was deurentyd op die tradisionele sterkpunte van Springbok-rugby gegrond: oorheersing deur die voorspelers, ’n sterk voorry, kragspel, dryfmaalbewegings, dodelike verdediging en ’n goeie stelskopper.

Die feit dat die Bokke die Wêreldbeker omhoog gehou het, het gewys dat dit die regte benadering was.

Rassie Erasmus is ook gekritiseer vir die Springbokke se spel toe hy hoofafrigter was, maar niemand kan daarmee stry dat hy suksesvol was nie. Foto: Gallo Images

Wêreldbeker-eindstryde word selde met opwindende hardlooprugby gewen – daarvan getuig die min skouspelagtige drieë wat in sulke wedstryde gedruk word.

Die Springbokke se eerste twee seges in Wêreldbeker-eindstryde was op tradisionele kragspel gegrond en daar is nie ’n enkele drie gedruk nie.

Die twee drieë in 2019 teen Engeland is redelik laat in die wedstryd gedruk in ’n stadium toe die Engelse reeds voor die kragspel van die Bokke geswig het en gapings begin ontstaan het.

’n Mens kan net hier noem dat die Franse se flambojante hardlooprugby hulle wel al twee keer seges oor die All Blacks in uitspeelrondes besorg het, maar hulle is ná nege Wêreldbeker-toernooie (en drie eindstryde) nog sonder ’n trofee.

Waar het ons dit al gehoor?

Die legendariese Springbok-losskakel Bennie Osler het gereeld onder kritici deurgeloop wat gemeen het hy skop te veel. Foto: Gallo Images

Die pleidooi dat die Springbokke aanvallende hardlooprugby moet speel, is amper so oud soos die Bokke se deelname aan internasionale rugby.

Dit is in die verlede suksesvol deur hul teenstanders gebruik om die Bokke te ontspoor.

Een van die mees uitstaande losskakels wat Suid-Afrika al opgelewer het, Bennie Osler, het tot sy eie nadeel ook voor die aandrang op hardlooprugby te speel, geswig.

In 1933, ná die eerste toets teen die besoekende Wallabies, het die media en die besoekers Osler erg gekritiseer. Hy is met versoeke geteister om aanvallende rugby te speel en nie te skop nie.

Dit het hy in die tweede toets gedoen.

Die uiteinde was ’n nederlaag teen die Wallabies wat met hul eie spelpatroon die Bokke moeg gehardloop het.

Osler het hom nie weer aan sulke praatjies gesteur nie en vanaf die derde toets weer sy eie spel gespeel en die Bokke het voortgegaan om die reeks te beklink.

Die aanname dat kragspel en oorheersing deur voorspelers 'vervelig' is, is ’n eensydige siening.

Dit het ook in 19060-61 gebeur met die Springbokke se toer in Brittanje toe al die tuisunies geklop is. Dié suksesvolle span is ook deurentyd gekritiseer en daar is na sy vervelige rugby verwys.

Die Bokke het in die laatste wedstryd teen die Barbarians besluit om hardlooprugby te speel, maar die Barbarians het afgesien van hul normale aanvallende rugby en hulle op kragspel toegespits.

Die Bokke het verloor en hul onoorwonne vertoningslys was daarmee heen.

In die apartheidsera het die wekroep gereeld die ronde gedoen dat Noord-Transvaal meer met die bal moet hardloop. Dié provinsie se oorheersing in die laat 1960’s en 1970’s het egter bewys dat dit nie noodwendig wenrugby is nie. Die wekroep het destyds uit veral die suide van die land gekom.

Die aanname dat kragspel en oorheersing deur voorspelers “vervelig” is, is ’n eensydige siening.

In die halfeindwedstryd van die 2019 Wêreldbeker-toernooi teen Wallis was die kragspel van die voorry in die skrum iets besonders om te aanskou. Die rolmaalbeweging van 40 meter wat Faf de Klerk se drie uitgeloop het, was vir baie net so mooi soos enige drie wat na hardlooprugby gedruk word.

Speel volgens jou sterkpunte

Die Springbokke het Engeland in die 2019 Wêreldbeker-eindstryd flenters geskrum. Foto: Getty Images

Sport word nie op ’n lukrake wyse beoefen nie.

Die beoefening van sport en die uitdrukking wat daaraan op die sportveld in die vorm van spelpatroon en strategie gegee word, is in wese ’n verlengstuk van die sosiale ingesteldheid, kultuur, ontwikkelingsgeskiedenis en DNS van ’n gemeenskap.

Die verskynsel kan waargeneem word in die wyse waarop die rugbyspelers van Suidsee-eilande soos Fidji en Samoa en natuurlik Nieu-Seeland met die bal hardloop.

Dit is waarskynlik deel van hul fisieke anatomie met sterk beenspiere en ’n lae swaartekragpunt. Die benadering is wesenlik ook ’n manifestasie en uitdrukking van hul kultuur en geestelike ingesteldheid.

In Suid-Afrika met sy tradisionele groot, sterk pakke verkies spanne weer kragspel en om te oorheers, gee aan hulle energie.

Dieselfde geld die Franse rugbyspan, met die flambojante rugby wat hulle veral in die tydperk voor professionalisme gespeel het.

Dié flambojansie is inherent deel van die Franse kultuur.

In die moderne era kan dié tendens gesien word in Georgië se geneigdheid om ’n sterk pak in die veld te stoot. Dit is deel van hul fisieke ingesteldheid en die spelers se groot liggaamsbou.

In Suid-Afrika met sy tradisionele groot, sterk pakke verkies spanne weer kragspel en om te oorheers, gee aan hulle energie.

Pieter Labuschagne

Die mees suksesvolle Springbokspan, die toerspan van 1937 na Nieu-Seeland, het sy sukses om ’n sterk pak gebou. Elke keer wanneer die kaptein, Phillip Nel, ’n keuse tussen ’n skrum of ’n lynstaan gehad het, is die skrum verkies.

Die sukses van die Springbokke in die 2019 Wêreldbeker-toernooi is om die agt voorspelers in die beginspan en die ses plaasvervanger-voorspelers van die “bomb squad” gebou.

Die 14 groot sterk voorspelers is die hoofrede waarom die Wêreldbeker in Suid-Afrika staan.

Erasmus het met sy span se sukses voor die toernooi in Nieu-Seeland teen die All Blacks onteenseglik bewys dat die manne in swart kwesbaar is wanneer hulle druk ervaar weens kragspel en agter die voordeellyn moet speel. Die Springbokke sal nie die All Blacks maklik klop deur hul hardlooprugby te probeer na-aap nie.

In die hitte van ’n Wêreldbeker-eindstryd sal oop hardlooprugby altyd voor ’n konserwatiewe benadering van voorspeler-oorheersing swig.

Konserwatiewe kragrugby is ook mooi

Emile Zátopek in aksie. Foto: Getty Images

Een van die beste atlete wat die wêreld opgelewer het, was Emile Zátopek van die eertydse Tsjeggo-Slowakye. Zátopek het in die 1952 Olimpiese Spele die 5 000 m, die 10 000 m en die marathon gewen – ’n ongekende prestasie.

Hy het ’n onaantreklik styl gehad en waarnemers het altyd gesê dit lyk soos iemand wat kaalvoet op gebreekte glas hardloop.

Zátopek het in reaksie gesê hardloop is nie ysskaats waar jy met elegansie en ’n vloeiende styl ’n indruk op die skeidsregters moet maak nie. Jy moet net die wedloop wen deur vir jou teenstanders weg te hardloop.

In die eerste plek gaan dit vir my en baie ander ondersteuners oor wen in rugby – nie hoe mooi jy hardloop en hoe jy ingewikkelde bewegings uitvoer nie.

Ek het nog niemand gehoor wat hoogs tevrede ná ’n nederlaag in die Curriebeker-reeks of Wêreldbeker-toernooi, sê: “Ons het nou wel verloor, maar ons het die mooiste aantreklikste hardlooprugby gespeel.”

Soos die meeste rugbyondersteuners wil ek aan Erasmus baie dankie sê vir die oorwinning in 2019 en ek hoop die Bokke hou aan wen, al beteken dit dat hulle die hele tyd in die “gutter” moet speel.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa wat al verskeie vakkundige artikels oor sport geskyf het. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Springbokke  |  Wêreldbeker-Toernooi  |  Rassie Erasmus  |  Nieu-Seeland  |  Engeland  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Wallis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.