Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In voeling met die natuur soos Bientang was
Aniki Joseph

Soms moet ’n mens ander paaie aandurf om ’n stukkie van die hemel te proe. Weg van jouself, weg van die doolhof van inligting, doodloopstrate en die harlaboerla van alledaagse oorlewing. Weg van vrees. Net om jouself weer in die skoonheid van eenvoud te vind.

Die stof slaan dwarrelend op teen die motor toe ons stilhou in Stanford. Tweebuffelsmeteenslagmorsdoodgeskietfontein. Só is die letters ingeryg op die groen plaat aan die vooraansig van die sinkdakhuisie vol antieke skatte. Wither’s se geborduurde linne wapper spierwit op ’n stoep. Dit het die reuk van vars gewaste lakens wat songedroog is. Ons drink koffie by die Egret & the Owl-boekwinkel onder toegerankte stoeppilare en ontdek ’n formidabele versameling literatuur.

Ons ry grondpadlangs tot in Baardskeerdersbos, tussen Gansbaai en Elim. Tydsaam, oplettend en versigtig … met die eindbestemming in gedagte. Die klipgeplaveide watervore verleen ’n ouderwetse eenvoud en rustigheid aan die piepklein dorpie. Die omgewing roep gedagtes van vergange dae se negosiewinkelreuke op. Volgens oorlewering het die plek se naam ontstaan omdat manne altyd hul baarde hier agter ’n ou waenhuis onder ’n bos laat skeer het vir die Strandveldse danse.

Ons drink koffie uit ’n fles by ’n groengeverfde sementtafel langs Sannie se paadjie in Franskraal en verlustig ons aan die seemeeue teen die asuur lug.

Ons drink koffie uit ’n fles by ’n groengeverfde sementtafel langs Sannie se paadjie in Franskraal en verlustig ons aan die seemeeue teen die asuur lug, die akwamaryn van die skommelende watergolwe en steenwit klipsome verder af teen die ontoelaatbare strand.

By Gansbaai is daar ’n winkel met die naam Baai-Gones, straatname soos Tiekiedraai, adresse soos HysiBydiC en die skelet van ’n byna 15 m lange Noordkapper-walvis teen ’n restaurant se dak. In Perlemoenbaai word ons begroet met ’n advertensie vir “Emo se lekker lippe klap sap”.

Die kronkelpad van Hemel-en-Aarde met sy lowerryke plantegroei verklap min van die eertydse melaatses wat hier tussen 1817 en 1846 in ’n hospitaal met hoë tronkvenstertjies afgesonder is. Sendelinge van Genadendal het na die geestelike welsyn van die melaatses omgesien. Van die melaatses het self tuin gemaak en ook rantsoene onder mekaar verdeel. Meer as 400 van hulle is hier ter ruste gelê.

Die legende lui dat Bientang baie jare selfversorgend in die grot gewoon het.

Ons besoek die Khoi-strandloper Bientang se grot in Hermanus. Dit is omskep in ’n restaurant met ’n asemrowende see-uitsig. Die legende lui dat Bientang baie jare selfversorgend in die grot gewoon het. Haar groente en vrugte het sy gegroei op die plek waar die restaurant se kombuis vandag staan.

Sy het vars water bekom by ’n stroompie wat vandag steeds onder ’n trap by die ingang van die grot sypel. Bientang was spiritueel en het met die walvisse gekommunikeer wat jaar ná jaar hierheen teruggekeer het. Sy het in harmonie geleef met haar omgewing.

Wanneer die aandlug stil oor die dag vou, herinner die melaatses en Bientang se verhale my aan verhoudings. Met mekaar en die natuur.

“The Ancients knew something we seem to have­ forgotten.” – Albert Einstein.

  • Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Toer  |  Walvisse  |  Mensdom  |  Natuur  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.