Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inent: Oorlewing vereis vertroue
Anton van Niekerk

Ek het verlede week my eerste Pfizer-inenting teen Covid-19 ontvang in ’n goed georganiseerde proses en sonder newe-effekte van enige aard.

Dit verstom my opnuut dat die stories van die anti-vaxxers steeds uitdop. Dis tog merkwaardig watter stortvloed van “kundiges” ons tans bombardeer met hul bangpraatjies. Die volgende is ons voorland as ons die naaldeprik toelaat: onvrugbaarheid, ’n veranderde genoom, anafilaktiese skok, beroerte en, les bes, ’n spoedige en aaklige dood.

Gruwelstories oor die effek van inentings is nie nuut nie. In die 19de eeu is mense gewaarsku dat sterte en reuse- flap-ore uit hulle sou begin groei indien hulle inentings ontvang. Gelukkig kon hulle nie in die 19de eeu weet dat inentings hulle plaas op ’n Bill Gates-lys wat spoedig al hul private inligting sal kodeer nie.

Die merkwaardigste en interessantste beswaar wat ’n mens teëkom in hierdie geledere, is die aandrang daarop “dat die vaksine te vinnig ontwikkel” is en dat daar ’n magdom verhulde feite is wat eers onthul moet word alvorens die entstof “veilig verklaar” mag word. Ek vind hierdie beswaar “interessant” omdat dit tekenend is van ’n on- of wanbegrip van die wyse waarop ons in die moderne wêreld leef en oorleef.

Ons anti-vaxxer-vriende meen dat die risiko om ingeënt te word, tans te hoog is. “Risiko” is ’n interessante begrip en verskynsel.

Ons anti-vaxxer-vriende meen dat die risiko om ingeënt te word, tans te hoog is. “Risiko” is ’n interessante begrip en verskynsel. Dis volledig ’n produk van die moderne wêreld wat ontstaan het in die eerste helfte van die 17de eeu. Voor daardie tyd was risiko ’n ongekende verskynsel. Daar was gevaar, ja, maar gevaar was deurentyd die gevolg van goddelike of duiwelse ingrepe in die wêreld (soos die Sondvloed of die tien plae of die val van Rome).

Een van die mees deurslaggewende veranderinge wat die aanbreek van moderniteit sedert die 17de eeu meegebring het, was dat mense toenemend besef het dat gevare mensgemaak is – dat dit uitkomste is van die manier waarop ons as sosiale wesens elke dag lewe en van die dinge wat ons mekaar aandoen. Die idee van goddelike of diaboliese intervensies waarteenoor ons magteloos staan in die wêreld, het sedert die 17de eeu al hoe meer op die agtergrond begin skuif.

Gelyktydig hiermee het ’n tweede merkwaardige beskouing na vore getree. Dit was die idee dat, as mense ons bron van gevaar is, dan is mense by implikasie ook diegene op wie ons kan vertrou om ons van die gevolge van mensgemaakte gevare te vrywaar. Kortom: Die idee van vertroue begin ’n al hoe groter rol in ons samelewings speel.

Dit hang saam met die feit dat, veral weens die nywerheidsrevolusie, mense al hoe meer besef dat hulle nie absoluut selfvoorsienend kan oorleef nie. Die tyd van die kleinboer wat, soos sy voor- en nageslagte, met sy gesin leef en absoluut selfvoorsienend is, is verby. Arbeid word verdeel, soos in die groot nuwe industrieë.

Belangrikste van alles: Ons moet nou op ander mense begin vertrou om te oorleef. Dit word ’n enorme (mensgemaakte) risiko om ’n straat oor te steek, om in ’n motor te ry of in ’n vliegtuig te vlieg, om in ’n hysbak te ry. In ’n wêreld met hierdie mensgemaakte ontwikkelinge kan ek slegs oorleef as ek op ander mense, wat weet wat hulle doen, kan staatmaak – mense wat motors en vliegtuie en hysbakke veilig laat werk.

Presies dieselfde beginsel is van toepassing wanneer ons onsself laat inent. Natuurlik het bloedweinig van ons al die kennis wat die risiko’s, wat wel bestaan, tot die minimum sal beperk. Maar soos oral elders in die moderne wêreld moet ons op deskundiges kan vertrou. Sonder vertroue is lewe in moderniteit onmoontlik.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Vertroue  |  Inentingsprogram  |  Risiko  |  Pandemie  |  Inentings  |  Inspuit  |  Oorlewing  |  Hulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.