Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inentings: Waar gaan dit eindig?

Inentingstegnologie is nie net neutrale gereedskap wat ter wille van openbare gesondheid ontwikkel word nie.

Alida Kok

Inentings en massa-inentingsveldtogte is ook regeringsgedrewe politieke projekte waardeur staatsmag en nasionale identiteit uitgedruk word.

Die uitdrukking van staatsmag deur die politiek van inentings is selfs meer prominent wanneer ’n regering sy eie entstowwe kan vervaardig. ’n Staat behou sy soewereiniteit wanneer hy nie van ander regerings of multinasionale korporasies afhanklik is vir entstowwe nie. In die gevalle waar ’n staat van ander vir entstowwe afhanklik is, is hy ook kwesbaar vir uitbuiting en politieke inmenging deur entstofverskaffers.

Nes in ander uitdrukkings van staatsmag – soos diensplig, ’n belasting- en ’n polisiediens – is massa-inentingsveldtogte ’n uitdrukking van die staat se vermoë om dwang toe te pas. So kan die staat met dwang die immuniteit van sy bevolking vorm – of dit nou deur kriminalisering of institusionalisering is.

Die weiering om ingeënt te word of dat jou kind in­geënt word, is nie ’n strafregtelike oortreding nie, maar kry teenkanting en word weens institusio­nali­sering deur die meeste mense nie eens oorweeg nie.

Individue se deelname aan massa-inentingsveldtogte is ’n aanduiding van hul persepsie van ’n verpligting teenoor hulself en ander. Mense het natuurlik ’n behoefte om deel van die geheel te wees en om ’n bydrae tot die gesamentlike gesondheid van die samelewing te lewer. Inentingstegnologie kan dus burgerlike plig by sommige aanwakker en angs by ander veroorsaak.

Angs word aangewakker omdat inentings aan gesonde mense toegedien word. Die outonomie van ’n gesonde liggaam moet dus oorskry word sodat die samelewing kan voordeel trek. As ’n entstof moontlik onveilig of skadelik is, word gesonde individue op die altaar van ’n verwronge openbare gesondheidstelsel opgeoffer.

Weens dié vrese lyk dit of die wêreldwye wedloop om bevolkings teen Covid-19 in te ent, besig is om ’n nuutgevonde entstof-skeptisisme te veroorsaak.

Weens dié vrese lyk dit of die wêreldwye wedloop om bevolkings teen Covid-19 in te ent, besig is om ’n nuutgevonde entstof-skeptisisme te veroorsaak wat nie net betrekking het op Covid-19 nie.

Dit lyk of al hoe meer ouers skepties word oor die lang lys inentings wat kinders tradisioneel van hul geboortedag tot in hul tienerjare ontvang.

Openbare gesprekke oor die newe-effekte van entstowwe ontvang opnuut internasionale aandag, veral nadat heelwat van die teen-inentingsgemeenskap se grootste proponente, soos Robert­ Kennedy jr., van sosialemediaplatforms verwyder is.

Onder jong, opgevoede Afrikaanssprekende ouers in Suid-Afrika is daar ook heelwat paartjies wat as deel van dié golf van entstof-skeptisisme besluit om hul kinders nie volgens die regering se skedule in te ent nie. So ’n besluit word telkens in die geheim geneem, aangesien dit kan bepaal of ’n kind by ’n kleuterskool of laerskool toegelaat word.

Wat is die betekenis dus van ons regering se Covid-19-massa-inentingsveldtog as slegs 0,69% van die bevolking tot op hede ingeënt is? Dit wys dat die regering nie die staatsmag het om ’n inentingsveldtog suksesvol deur te voer nie en kwesbaar is vir uitbuiting en politieke inmenging deur dié wat entstowwe verskaf. Dit moedig nog meer mense aan om oor entstowwe en die regering se rol in die toediening daarvan skepties te wees.

Ten spyte daarvan dat kommentators die regering kritiseer vir die stadige pas waarin inentings toegedien word, kan ’n mens raai dat talle mense die Covid-19-entstof nie vertrou nie en beplan om nie ingeënt te word nie.

Waarheen is die veldtog dan op pad as dit klaarblyklik nie gaan slaag nie?

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Hulp  |  Inentingsprogram  |  Pandemie  |  Inentings  |  Inspuit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.