Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inferno laat voëls soos blare uit lug val

Vernietigende brande is deesdae iets wat elke jaar in die Wes-Kaap verwag kan word, skryf MC Botha.

Woonplekke gaan op in vlamme in Asazani, Zwelihle, omtrent tien jaar gelede. Foto: MC Botha

Cervantes was die eerste skrywer wat meer as vier eeue gelede al opgeteken het dat daar net twee sekerhede in die lewe is: jy sal sterf en jy sal belasting betaal. Het hy vandag geleef, kon hy byvoeg: daar sal jaarliks in die midsomer vernietigende brande wees in Kalifornië, Australië en die Wes-Kaap.

Wat laasgenoemde betref, het dit vanjaar gebeur van Wuppertal tot by Bettysbaai, Hermanus en Franskraal.

Maar ’n halfeeu gelede – voor die koms van walvisse – het Hermanus bekendheid verwerf as dié dorp waar brande gereeld voorkom. Omtrent elkeen van die meer as tien hotelle het die een of ander tyd afgebrand – die laaste was die Royal in 1981. Twintig jaar vroeër het altesaam 66 huise in drie verskillende brande in die slag gebly, waarna die munisipaliteit eindelik die boodskap gekry en die bou van rietdakhuise verbied het.

In die opgetekende geskiedenis was die grootste brand wat die land tot nog toe ervaar het egter in Februarie 1869 toe die ganse aarde tussen Riversdal en Uitenhage – ’n afstand van 450 km – in ’n smeulende puinhoop verander het. Ooggetuies op dorpe en plase het vertel dat ’n bergwind “soos ’n orkaan” gewaai en ’n ongekende, ondraaglike hittegolf veroorsaak het.

Welige plantegroei wat na die goeie winterreënseisoen opgeskiet het, was reeds besig om uit te dor, en boere het soos gebruiklik dié tyd van die jaar oral in die streek verstokte plantmateriaal aan die brand gesteek.

Helaas het smeulende kooltjies in die versengende hitte en stormwind ’n ongeëwenaarde selfontbranding tot gevolg gehad noord én suid van die Swartberge, die Langkloof en die Tsitsikamma waar die digste woude was. Al die brande in die verskillende distrikte het in rasende vlammeseë verander, asof tonne hoogs vlambare vloeistof uit die hemel op die aarde uitgestort word.

Yslike vlamme verswelg uitheemse bome aan die voet van die Onrusberg. Foto: MC Botha

Talle inwoners het inderdaad gedink die oordeelsdag het aangebreek en dat die aarde besig was om deur vuur verswelg te word. ’n Boer langs die Gouritsrivier het sy opstal, honde en varkboerdery in vlamme sien opgaan; op Groot-Brak is die hele bruin woonbuurt uitgewis; in Knysna het voëls van bokant die yslike vlamtonge soos dooie blare uit bome neergeval, terwyl ’n pa en seun wat naby Humansdorp met ’n ossewa probeer vlug het, saam met die osse en die wa verkool het.

’n Vrou het vertel dat sy slange sien rondseil het met hul bekke oopgesper.

Plek-plek was die rook so dig dat die son heeltemal verdwyn en mens en dier versmoor het. The George Advertiser het berig dat sowat 30 mense dood is, maar oor die hele gebied sou die getal veel meer wees. Baie se lewens is gered omdat hulle hul tot die naaste rivier of dam gehaas het en betyds in die water kon spring.

Voorheen het mense van olifantpaadjies gebruik gemaak om deur ruie bosse en die digte Outeniekwawoude te kom, maar die inferno het letterlik die weg gebaan vir ’n makliker begaanbare deurgang wat uiteindelik bekend sou staan as die Tuinroete.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Mc Botha  |  Hermanus  |  Wes-Kaap  |  Riversdal  |  Uitenhage  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.