Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inge-Burger by die Bulle
Burger Odendaal het in sy wildste drome nooit gedink hy sal eendag kaptein van die Bulle wees nie.Foto’s: Isabel Venter

Wanneer Burger Odendaal (26) uitdraf vir ’n wedstryd, sal hy eers voor die kantlyn kniel en aan die grond raak.

“Dis iets wat ek sedert my hoërskooldae by Monnas (die Hoërskool Monument in Krugersdorp) doen,” vertel die Bulle-kaptein.

“Een van my Monnas-rugbyafrigters, Richard Visagie, het altyd vir ons gesê ‘touch the ground’.

“Dit was sy manier om ons te herinner: Bly nederig. Vandag nog, voordat ek oor daardie kantlyn trap, vat ek ’n oomblik om eers die grond te raak.”

’n Droom word waar

Hy het in sy wildste drome nooit gedink hy sal eendag kaptein van die Bulle wees nie, sê Odendaal op Loftus se A-paviljoen.

“Ek dink die Bulle het tegelyk die beste, maar ook die moeilikste ondersteuners ter wêreld.

“Maar dis net my mening,” voeg hy vinnig by, met lagplooitjies wat om sy groenbruin oë rimpel.

Wanneer die Bulle wen, voel dit asof ’n mens op water loop, sê hy. Maar wanneer hulle verloor, voel dit soms asof die Bul-ondersteuners die span wil afskryf.

“Noem my Burger asseblief, ek is nie ’n oom nie.”

Dis te verstane, meen hy, veral as jy na die Bulle se erfenis van uitmuntendheid kyk.

“Ek bedoel, kyk na die legendes wat die span opgelewer het, hoeveel Superrugby- en Curriebekers hulle al gewen het. Op ’n tyd was hulle amper onoorwinlik.

“Ek het nooit verwag dat ek die span se kaptein sou word nie. Dit het ’n lang tyd geneem om in te sink.

“Maar dis die grootste eer en voorreg wat ek nog in my lewe verleen is.”

Maar, soos Spiderman se oupa sou sê: Groot mag gaan gepaard met groot verantwoordelikheid.

“Dis wel ’n bietjie intimiderend om die Bulle te lei. Ek moes veral werk aan my verhouding met die media en hoe ek met hulle kommunikeer,” erken hy.

“Ek is oor die algemeen nie ’n ou met baie woorde of iemand wat graag gesels nie. Maar ek moes dit gou aanleer.”

Hy kon nie vir beter ondersteuning van sy spanmaats en die Bulle se bestuurspan gevra het nie.

“Hulle almal het dit eintlik vir my baie maklik gemaak. Buitendien, ek dink nie ek is die enigste kaptein in die span nie; daar is ’n hele paar leiers in die Bulle se span.

“Trevor (Nyakane), die onderkaptein, Josh Strauss, wat vir Skotland gespeel het, en Morné Steyn, wat ook nou weer terug is by Loftus – dis wonderlik om manne van dié kaliber te hê wat agter my staan.”

Die gesprek draai terug na ’n sportman se mediabeeld en die uitdagings waarmee professionele sportlui te doen het.

Vandag word daar nie net van hulle verwag om ’n beroepsatleet te wees nie, maar ook ’n ambassadeur en ’n rolmodel met ’n onkreukbare beeld.

Odenhaal wil onthou word vir sy karakter, nie sy wedstrydrekord nie.

Hoe moeilik is dit in ’n era waar jy op sosiale media soos ’n valk dopgehou word en Jan Publiek met hul selfoon regstaan om enige indiskresie die kuberruim vol te twiet?

“Jy moet versigtig wees oor wat jy op sosiale media kwytraak, maar iets wat jy in ’n onderhoud of mediakonferensie sê, kan ook maklik verdraai word as jy nie jou woorde mooi tel nie.”

Ek vra hom uit oor die besluit om verlede naweek se geelkaart teen hom op Instagram te deel. Dit is ’n platform wat mense gewoonlik gebruik om op te spog en hoogtepunte uit te lig.

“10% van die lewe is wat met jou gebeur en die ander 90% word bepaal deur hoe jy op die gebeure reageer.

“Dis nie lekker om my eerste geel in ’n blou trui te kry nie, maar ’n mens moet net vorentoe beweeg,” lui die onderskrif.

“Dit was ’n moeilike een,” gee hy versigtig toe. “Dit is iets wat ná die wedstryd teen die Blues baie bespreek is.”

Odendaal het op die mediakonferensie erken hy’s verlig dat dit darem net ’n geelkaart was en nie ’n rooie nie.

Daar is kenners wat meen sy straf was so ’n bietjie swaar.

“Marius van der Westhuizen het 100% volgens die reëls geblaas, maar Odendaal se duikslag was op die keper beskou nie ’n duikslag wat straf verdien het nie en sulke beslissings bedreig die fisieke aard van rugby,” skryf Cobus Claassen, Beeld se rugbyskrywer.

Hy is oor die algemeen nie ’n ou van baie woorde nie, sê Odendaal.

Pote Human, die Bulle se afrigter, het dit as ’n “tawwe beslissing” beskryf.

“Ek het besluit ek wil juis daardie foto opsit vir al die Blou Bul-ondersteuners. Ons Superrugby­seisoen het maar moeilik begin; jy wil nooit jou seisoen inlui met drie verloorslae nie.

“Ek is nie bang om my slegte oomblikke met die mense daarbuite te deel nie en ek hoop hulle hou aan om die Bulle te ondersteun.

“Ons as span mag nie nou moed verloor nie! Ons mag nie omrol en dood speel nie! Ons moet aanhou hard werk en hopelik sien die ondersteuners ons harde werk raak.

“Ek dink die ouens is regtig so opgewonde om nou ’n oorwinning agter die rug te kry.”

’n Bokkie op die bors?

Droom hy van groen en goud, en ’n bokkie op sy bors?

“Kyk, ek is reeds ongelooflik bevoorreg om van kleins af rugby te kon speel en dit op ’n professionele vlak te doen. ’n Klomp mense deel my liefde, maar kry nooit die geleentheid nie.

“My pa was gelukkig genoeg om die Wêreldbekereindstryd in 1995 op Ellispark by te woon en ek, my sussie en my ma het dit tuis in Krugersdorp op die TV gekyk.

“Dus is dit een van my ma se gunsteling-rugbystories om te vertel: Ek was maar twee jaar oud toe Suid-Afrika ons eerste Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen het.

“Een van my eerste rugby-herinneringe is toe ek so ses of sewe was en ’n bulletjiewedstryd gespeel het.

“Dit was in die hartjie van die winter en op daardie ouderdom speel jy maar kaalvoet. Die rugbyveld was spierwit geryp en dit was bitterlik koud.”

Die bulletjies het met ywer begin, maar dit was nie lank nie, toe is almal in trane, onthou hy. Die wedstryd moes gestop word sodat almal eers skoene kon aantrek.

“Toe speel ons weer.

“Wanneer jy ’n klein mannetjie is en jy kyk vir die Bokke . . . daar word ’n saadjie geplant en jy dink: ‘Eendag.’

“Dit bly ’n droom vir enige rugbyspeler om jou land te verteenwoordig – om met ’n Springbok op jou bors uit te draf.”

Hy word ernstig, praat nadenkend.

“Dis steeds ’n droom vir my, maar soms voel dit asof daardie droom so ’n bietjie wegglip.

“Ek sal steeds alles gee om eendag daardie kruin te bereik, maar vir nou is ek ’n Bul wat die beste van myself vir die klub gaan gee en die beste van my tyd as rugbyspeler gaan maak.”

Hy word in April 27 jaar oud.

Daar is mos nog baie tyd om te droom, vra ek. Jy is mos nog jonk?

Hy lag.

“Weet jy, dit was altyd so ’n bietjie sleg vir my wanneer die kinders my handtekening kom vra en hulle noem my ‘oom’. Ek voel asof ek steeds ’n laaitie is.

“Ek het altyd vir hulle gesê, ‘Noem my Burger, asseblief, ek is nie ’n oom nie.’ ”

Verlede jaar het sy ouer suster, Sanri Fourie, en sy swaer Jethro ’n seuntjie ryker geword. Dit was amptelik. Nou is hy oom Burger.

“Ek reken kinders mag my nou maar ‘oom’ noem. Maar dis ’n aanpassing.”

Odendaal is prakties wanneer hy oor sy raklewe in die rugbybedryf praat.

“Ek dink nie daar is ’n spesifieke tyd wat ’n mens kan sê nou peak ’n rugbyspeler en nou moet hy aftree nie.

“As ek ’n voorspeler was, weet ek nie hoe lank ek rugby sou kon gespeel het nie. Net die tipe kontak wat daardie ouens vat, week in en week uit . . . Dis verskriklik op hul lyf.

“Dis ook ’n spel waarin dinge binne ’n oogwink kan verander.

“Ek wil dit nie oor enigiemand spreek nie, maar daar was al talle gevalle waar ’n ou ’n besering opdoen en dan nie weer rugby mag speel nie.

“Elke rugbyspeler weet ’n loopbaan in rugby is net so kort. Môre verander dit.

“Jy weet nie wat die toekoms vir jou inhou nie.”

Hy noem nie name nie, want hy hoef nie. Maar hier, tussen die blou paviljoene van Loftus Versveld, hang Derick Hougaard se naam amper soos ’n voorbode – die Liefling­legende wie se Achilles-tendon hom teruggeruk het na die ryk van die sterflikes en sy lewe onherroeplik verander het.

Bly nederig

Odendaal sê hy wil nie eendag onthou word vir die getal wedstryde waarin hy gespeel het nie.

“Eendag, wanneer jy jou tokse ophang, kom daar iemand wat dalk beter is as jy,” mymer hy.

“Daar word elke dag ’n kind gebore wat die potensiaal het om ’n Springbok te word.

“Ek wil onthou word vir my karakter.”

Watter tipe mens is hy?

Hy lag ongemaklik.

“Jy sal eerder my vriende moet vra. Maar as ek een ding kan uitlig, wil ek as ’n nederige mens onthou word. Dit sal vir my genoeg wees.”

Hoe moeilik is dit om nederig te bly in ’n bedryf waar rugbyspelers opgehemel word as superhelde en selfs halfgode?

“Dit hang af van persoon tot persoon – elke speler reageer anders op die situasie en hul omstandig­hede.

“Vir my is dit nie moeilik om nederig te bly nie. Dis hoe my ouers my grootgemaak het.

“Van kleins af, as ek net gelyk het of ek wintie wil wees, is daar gou vir my gesê ruk jouself reg.

“Ek kan net vir my ouers dankie sê dat hulle my die mens gemaak het wat ek vandag is.”

(Gister, ’n dag ná Beeld se onderhoud met Odendaal, het die Bulle laat weet hy het nie van ’n enkelbesering herstel nie. Hy gaan sy span dus nie in môre se Superrugby-wedstryd teen die Jaguares lei nie.)

Wanneer hy wil ontspan, speel Odendaal gholf.

“Ek geniet dit baie, veral in die rugbyseisoen.

“Ons kry elke week ’n dag af. Daar is ’n groep ywerige gholf­spelers onder die Bulle en ons probeer minstens een keer ’n week by die gholfbaan uitkom.

“Dis vir my ’n goeie manier om ’n blaaskans van rugby te neem – of jy nou ’n moeilike oefensessie agter die rug het, of miskien harde woorde met iemand gewissel het.

“Gholf kry my uit my kop uit. Dit gee vir my iets anders om op te fokus.

“Die volgende dag voel ek dan sommer fris en vars.

“Ek dink ook dit laat ’n mens anders na sekere dinge kyk.”

Sy voorgee is tans “ ’n 11 of ’n 12”.

Hy geniet ook ’n lekker roomys.

“Ek weet nie of julle Aroma Gelato and Waffle Lounge in Brooklyn ken nie?

“Hulle het die lekkerste roomysgeure. Ek is ’n groot aanhanger van hulle grondboontjiebottergeur.

“Ek is reeds baie lief vir grondboontjiebotter.”

Verkies hy ’n gladde tekstuur of ’n klonterige tekstuur?

“Glad. Beslis die gladde een.”

Sportlui, nes akteurs, is mos maar lief vir ’n ritueel voor ’n wedstryd? Het hy enige snaakse giere, geite of bygelowe?

“Ek is nie een vir bygelowe nie,” sêl Odendaal.

“Ek verbind my arm wat ek in 2014 gebreek het.

“Maar voor elke wedstryd skryf ek ’n inspirerende Bybelvers op my arm.

“Ek het ’n paar wat my staatmakers is, Psalm 121 kom altyd op. Dit stap al ’n lang pad saam met my. Ek was 16 jaar oud en op ’n rugbytoer in die Paarl.

“Tussen die berge het daardie Psalm ’n besondere betekenis vir my gehad.

“Dan is daar Joshua 1:9.

“ ‘Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.’

“Ook Filippense 4:14: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

“Dis seker die outjies wat die meeste op my arm verskyn,” sê hy.

Carla Lewis is ’n senior verslaggewer by Beeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.