Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ingeënt teen ’n virus, met ’n bonus daarby

Oeps. Amper verby gehou. Soveel karre. Soveel mense. Kan daar, wonder ek grimmig, soveel 60-plussers in een kontrei wees wat almal op een dag kom om ingeënt te word?

Martie Retief Meiring

Ek besluit om dapper te wees. Parkeer “to hell and gone” en stap in ’n amper feestelike harwar om voor die dorpshospitaal in ’n ry in te val. Soveel mense het ek voor grendeltyd laas gesien.

Hier staan, al lyk dit na baie meer, 200 of 300 mense en wag om eers oor ’n uur of twee toegelaat te word om daardie jab te kry.

Ons kyk mekaar deur. Gryskoppe. Sommige pankoppe, sommige in rolstoele of met kieries.

Sommige lyk te jonk, sommige te oud. Sommige te vrolik, sommige te vraend.

Duidelik sien sommige nie kans nie en val uit die ry, maar daar kom steeds meer by en val in vir die wag.

’n Aangename hospitaalwerker kom uit om al langs die ry te waarsku dat daar dalk nie genoeg entstof sal wees vir ná 15:00 nie. Ons rystaners kyk mekaar aan, besluit om te waag.

Mans bring stoele uit en kort voor lank sit ons in lang rye, dankbetuigings hard en luid.

Vriende kom verby. Verbaas. Hoe het óns ook geweet van hierdie kans om teen die virus ingeënt te word? Die riemtelegram het gewérk.

Vriende het vriende, familie, bure gebel en verseker: “Almal” oor 60 moet kom.

Beduie die pad na die hospitaal. Jy sal wag. Jy is ’n walk-in, want jy het nog nie ’n antwoord op jou vroeëre registrasie gekry nie. Maar jy sal gehelp word. Net geduld. En, hopelik genoeg entstof.

Yvette en ek het dieselfde sonde: Ons wóú nog ons motorhuise en kaste uitdun en regpak om vir die kinders dit makliker te maak as ons “iets” sou oorkom.

’n Nuwe kameraderie ontstaan onder ons in die ry. Yvette en ek het dieselfde sonde: Ons wóú nog ons motorhuise en kaste uitdun en regpak om vir die kinders dit makliker te maak as ons “iets” sou oorkom.

Nog ’n rystaner is in die wynbedryf. Bietjie bekommerd, maar hy is tog opgetoë oor die rand se afwaartse neiging. Ja, sug iemand, nou lyk dit in die koerant of die minister van gesondheid met half ongesonde dinge verbind word.

Tog meen ’n sitgenoot die regering is nie te goed en ook nie te sleg nie. Kyk, hier is die entstof dan.

Ek onthou onderhoude jare gelede met Duitse tannies wat kon saam lag oor hoe hulle in die oorlog in lang rye vir brood gestaan het; hoe die geselskap in die rye hulle opgebeur het, al was hulle so honger dat hulle soms teen mekaar geleun het.

Hierdie ry is anders, maar ook nie. Ons is op die oog af gesonde 60-plussers.

Word ons ingespuit vir oorlewing? Is dit om die las op hospitale te verlig? Om die omgewing vir jonger mense veiliger te maak? Die hospitaalpersoneel is gaaf, geduldig, selfs prettig.

“Sien jou oor drie weke. Soet bly!”

Toe ek ver stap na waar my motor geparkeer staan, voel ek skielik patrioties.

Hoe verklaar jy dit?

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Inenting  |  Virus  |  Bonus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.