Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ingrepe eerder op maatskaplike vlak nodig

Met nagenoeg 20 000 mense wat elke jaar in die land vermoor word, word enige poging om misdaad te bekamp met ope arms verwelkom.

Philda Essop

Suid-Afrikaners bestee jaarliks miljoene indien nie miljarde rande nie daaraan om hulself en hul eiendom te beveilig. Nie almal beskik egter oor die geldelike vermoëns om vir sulke private dienste te kan betaal nie.

In sommige gebiede voer mis­dadigers ’n skrikbewind en is dit ’n veiligheidsrisiko om net in die straat te loop.

Lede van die weermag is verlede week in dele van die Kaapse Vlakte ontplooi ná ’n vlaag van geweld waartydens tientalle mense óf doelbewus doodgeskiet is óf in die kruisvuur van bendes beland het.

Die ontplooiing van die weermag volg ná herhaalde oproepe daarvoor deur politieke partye en lede van die burgerlike samelewing.

Pres. Cyril Ramaphosa het ver­lede week in die parlement, met verwysing na die ontplooiing, gesê lewens moet gered word. Die weermag is volgens hom daar om reg en orde te herstel in “gemeenskappe wat deur bendebedrywighede geterroriseer” word.

Vir sommige is die ontplooiing ’n antwoord op hul gebede. Uiteindelik kan hulle uitsien na ’n mate van kalmte in hul gemeenskappe, want die blote teenwoordigheid van militêre voertuie in hul gemeenskappe is genoeg om misdadigers die skrik op die lyf te jaag.

As daar werksgeleenthede was vir die talle jeugdiges wat ledig is, sou bendebedrywighede nie gedy nie.

Sommige kommentators meen egter die weermag hoort nie in gemeenskappe nie. Sê dít egter vir die inwoners van Manenberg, Hanover Park, Mitchells Plain of Bishop Lavis wat daagliks in vrees leef, wat nie weet of al hul familielede vanaand veilig by die huis gaan opdaag of dalk deur ’n dwaalkoeël getref gaan word nie.

Wat egter pla van die weermag se ontplooiing, is die koste verbonde daaraan. Ramaphosa het in ’n brief aan die parlement aangedui dat die ontplooiing tussen 18 Julie en 16 September gaan plaasvind en dat die totale koste van die ontplooiing R23,3 miljoen sal beloop.

Dit is baie geld. Geld wat ’n reuseverskil aan ander uitgawes in dié arm gemeenskappe kan maak. Dit is ’n feit dat die oorsprong van baie van die misdadigheid, bendebedrywighede en dwelm- en alkoholmisbruik in die gemeenskappe sy oorsprong by werkloosheid en ’n gebrek aan behoorlike dienslewering het.

As daar werksgeleenthede was vir die talle jeugdiges wat ledig is, sou bendebedrywighede nie gedy nie. Werk beteken dat mense beter behuising en onderwys kan bekostig. Beter gehalte onderwys sal beteken dat klasse kleiner is en onderwysers meer tyd aan onderrig kan bestee. Dit sal uiteindelik daartoe lei dat kinders langer in die skool sal bly, nie halfpad deur uitval nie en hulself moontlik verder in ’n ambag of beroep sal bekwaam.

As soveel geld byvoorbeeld gebruik word om sentrums op te rig waar jeugdiges vaardighede kan aanleer, sou dit ’n soveel beter besteding van belastingbetalersgeld gewees het.

Die regering moet dringend op maatskaplike vlak in ons gemeenskappe ingryp, anders gaan die weermag straks ’n permanente verskynsel daarin word.

Meer oor:  Philda Essop  |  Uit Die Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.