Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ingryping is nóú nodig om ‘natuur se tuiniers’ te red
Tony Weaver

Ek het baie van die vakansies van my kinderjare in die bos deurgebring, en ’n groot deel van my volwasse werklewe op die grasvlaktes en berge en in die woestyne en reënwoude van Afrika verwyl.

Ek het al van Afrika se skaarsste diere gesien: swartrenosters en woestynolifante in die Kaokoland; Ethio­piese klipbokke en geladabobbejaan in Ethiopië se Simien-gebergtes; Ethiopiese wolwe en reuse-blesmolle in die Bale-gebergtes; 13 verskillende primaatspesies op een dag in Uganda se Kibale-woud; en selfs ’n skaars melanistiese swart luiperd in Kenia se Aberdares Nasionale Park. Maar ek het nog net een keer ’n ietermago gesien – een wat in ’n veldbrand in Zambië se Kafue Na­sionale Park dood is.

Sowat 1 900 ietermago’s moet doodgemaak word vir een ton skubbe. In 2018 is op 48 ton skubbe beslag gelê, die ekwivalent van sowat 91 000 ietermago’s. ’n Hengse hoeveelheid meer beland ongesiens in die mark, want dit is baie makliker om met ietermago-skubbe as renosterhorings of olifanttande te smokkel.

Ietermago’s is tans die soogdier op aarde wat die meeste gestroop word, maar omdat so min oor hierdie sku en geheimsinnige diere bekend is, geniet hulle nie naastenby dieselfde soort aandag as die meer charismatiese spesies soos renosters, olifante en leeus nie.

Vier spesies ietermago hou in Afrika: Die witpens-ietermago (phataginus tricuspis), reuse-ietermago (smutsia gigantea), die Kaapse of Temminck se ietermago (smutsia temminckii) en die langstert- of swartpens-ietermago (phataginus tetradactyla).

Die filmvervaardigers Bruce Young (ook regisseur van die hoog aangeskrewe dokumentêre film Blood Lions) en Johan Vermeulen wou al vier dié spesies op film vasvang. Die uiteinde is die dokumentêre film Eye of the Pangolin. Die film is nou gratis op YouTube beskikbaar as deel van ’n veldtog van die nieregeringsorganisasie Pangolin Africa om die grootste moontlike blootstelling aan die lot ietermago’s te gee.

Ietermago’s, ook bekend as miervreters, was nog altyd deel van die bosvleis-spyskaart in Afrika, maar is voorheen op ’n volhoubare manier gejag vir hul vleis en nie hul skubbe nie. Nou het die dier se skubbe en foetusse in aanvraag begin kom vir die gebruik in tradisionele medisyne in China en Viëtnam, waar dit gebruik word om enigiets van rumatiek tot kanker mee te “behandel”.

Hoewel baie min navorsing nog gedoen is, deels omdat hulle so skugter is, begin wetenskaplikes nou besef dat ietermago’s ’n belangrike rol in die ekologie van veral woude speel. Hulle gebruik hul yslike voorpote om miere en termiete uit te grawe. Sodoende word die boonste laag grond omgedolwe, maak hulle kompos daarvan, en begrawe hulle sodoende sade wat later ontkiem.

In die film sê Lisa Hywood van Zimbabwe se Tikki­Hywood-stigting: “ . . . as die ietermago’s verdwyn, verloor ons die aarde se groot tuiniers. Ons weet met redelike sekerheid hoeveel olifante en renosters daar is, maar het geen benul hoeveel ietermago’s daar is nie.”

Deur Eye of the Pangolin regstreeks op YouTube uit te reik, is onkonvensioneel en ’n berekende skuif van die vervaardigers en hul borge om soveel as moontlik publisiteit te kry en kennis oor die lot van die ietermago’s te versprei. Laai dit af en versprei die woord.

Dringende ingryping is nodig om die natuur se groot tuiniers van uitwissing te red.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Ingryping  |  Wildbewaring  |  Natuurbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.