Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inperking het ons ou waardes laat herontdek

Die beste voordeel van die afskaling van die inperking tot vlak 3 is dat ons nou weer ’n redelike eerbare lewe kan lei. Nie dat ek my op vlak 4 aan te veel onwettighede skuldig gemaak het nie.

Ek moet egter erken dat ek, toe die nood op sy hoogste was, ’n bottel wyn gekamoefleer in ’n babadoek vir my dorstige buurman oor die ringmuur aangegee het. Daar was trane van dankbaarheid in sy oë.

Dat daar 40 jaar gelede laas ’n baba in my buurt gebore is, het my nie van hierdie onbaatsugtige weldaad weerhou nie.

Op sy beurt het my buurman sy laaste stopsel Boxer-twak, versteek in ’n potplant – gepas genoeg ’n steggie van ’n delicious monster – vir my oor die muur aangegee.

Dit het my so geraak dat ek met ’n knop in my keel vir ’n paar minute nie kon draw nie en net gepuff het, waarna ek ’n halfuur lank vir volk en vaderland gehoes het. Dit kom daarvan as jy vir meer as twee maande, soos kleintyd agter die kraalmuur, op “donkie delight” was.

Dis nie al waaraan ek my skuldig gemaak het nie. Ek het ook oor die straat gesluip om beskuit, wat ’n weldoener in my posbus versteek het, te gaan uithaal, en om ’n koppie meel by ’n buurvrou te gaan leen sodat my vrou vir ons ter viering van die eerste Bolandse winterreën pannekoek kon bak. Ons is maar katvoet vir ’n winkel.

Ek moet egter erken dat ek, toe die nood op sy hoogste was, ’n bottel wyn gekamoefleer in ’n babadoek vir my dorstige buurman oor die ringmuur aangegee het.

Dit het my teruggevoer na die bitter swaar dae, onbekend aan ’n gemaksugtige huidige geslag, toe verarmde Afrikaners wat deur droogte en depressie van bankrot plase na oorkant die spoor op plattelandse dorpe gedryf is, en daar as arbeiders van die hand tot die tand ’n worstelbestaan gevoer het, oor en weer by mekaar moes leen om nie honger te moet gaan slaap nie. Ek ken dit nie, maar om honger te moet gaan slaap moet bitter wees.

Toe sou ’n skraal, opgeskote kaalvoetkind met leë oë in bitter winterkoue geklee in net ’n hempie en ’n gelapte broekie of ’n verslete rokkie, aan ’n buurvrou se deur in die agterplaas van ’n Joodse winkel klop en skoorvoetend prewel: “Antie, my ma vra of antie nie vir ’n haar ’n halwe koppie meel kan leen nie.”

Ek het dit beleef toe my ma in die 1940’s namens die ACVV weekliks kos aan behoeftige gesinne by ons dorpshuis op Calvinia moes uitdeel. Die hartseer daarvan het my nooit verlaat nie.

Let wel, wetende dat die buurvrou se meelblik self boomskraap is, is dit nie eens ’n volle koppie meel waarvoor gevra word nie, maar net ’n halwe. Die lener het ten spyte daarvan dat sy haarself kan benadeel haar eie min met ander gedeel. Nader kan jy nie aan barmhartige mededeelsaamheid kom nie.

Amper soos oom Frikkie Bester van Moorreesburg wat elke sin begin het met “Ek wou halfweg sê . . . ”. Barmhartige mededeelsaamheid, dis wat ek hiermee “halfweg” probeer sê.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Inperkingsregulasies  |  Meel  |  Oortredings  |  Wyn  |  Babadoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.