Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inperking het sy voor- én nadele
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Ons is omtrent halfpad deur die nasionale staat van inperking en ek is seker ons het almal al ons oomblikke van moedeloosheid, ontevredenheid, desperaatheid en wanhoop gehad. Dis bloot menslik.

Ek kyk elke oggend na onder meer die BBC en CNN, en die aantal wêreldwye infeksies hou net aan met styg.

Amerika behoort vir ons ’n voorbeeld te wees van wat gebeur as ’n land nie inperking toepas nie. New York oortref nou Italië wat die daaglikse getal nuwe infeksies betref!

Dus, ten spyte van alles, gaan dit nog relatief goed in Suid-Afrika.

Die goeie nuus is dat misdaadvlakke in Suid-Afrika aansienlik laer is as gewoonlik, selfs op die Kaapse Vlakte.

Bheki Cele, minister van polisie, skryf dit toe aan die afname in drankverbruik. Hy stel voor dat as alles weer na “normaal” teruggekeer het, die beperkings op drankverbruik behou moet word. Wat hy dus voorstel, is ’n verbod op drank of prohibisie.

Ons moet versigtig wees om nie tendense aan een oorsaak toe te skryf nie. Drank het ’n invloed, ja, maar so ook die feit dat mense nie mag rondbeweeg nie. Dit is ook baie moeiliker om by huise in te breek as almal tuis is. Dus is drank nie die enigste oorsaak nie.

Kyk maar na die statistiek vir gesinsgeweld in die eerste week van inperking – meer as 2 300 aangemelde gevalle.

Kyk maar na die statistiek vir gesinsgeweld in die eerste week van inperking – meer as 2 300 aangemelde gevalle. Tot nou was dit moeilik om betroubare statistiek vir gesinsgeweld te bekom, maar nou weet ons hoe gereeld dit voorkom.

Stel jou voor dat jy in ’n klein ruimte “opgesluit” is saam met ’n geweldenaar wat nie sy emosies kan beteuel nie omdat hy nie kan drink nie. Al drink hy, kan hy dit ook nie beteuel nie. Dus is drank nie die enigste oorsaak nie. Motorongelukke het ook afgeneem, nie omdat mense minder drink nie, maar omdat daar minder voertuie op die pad is.

Om die gevare van ’n verbod op drank te verstaan, moet ons na die geskiedenis van die “temperance movement” (afskaffingsbeweging) in Amerika kyk, wat dit reggekry het dat drankverbruik vir 13 jaar verbode was tydens prohibisie (1920-1933). Dié verbod word toegeskryf daaraan dat die afskaffingsbeweging deur vroue gelei is wat aangevoer het dat mans te veel drink en dat dit lei tot gesinsgeweld en verbrokkelde huwelike.

Alhoewel dit vroue was wat die drankverbod voorgestaan het, was dit mans wat daarvoor in die Amerikaanse kongres gestem het, want vroue het nie stemreg gehad nie.

Die afskaffingsbeweging het daartoe bygedra dat vroue gouer stemreg gekry het, maar dit het ook beteken dat die staat die belasting op drank (ons “sondebelasting”) verloor het en dat korrupsie en georganiseerde misdaad gedy het op die rug van die sluikhandel in drank.

Baie mense het hulself ook tot dwelms gewend in die afwesigheid van drank. Ten einde laaste is die verbod opgehef omdat dit as inmenging in die vrye keuse van burgers beskou is.

Daar is ook ’n ander soort beperking wat eweneens ernstige gevolge het gedurende die inperking.

Baie apteke en kruidenierswinkels weier om kondome as ’n noodsaaklikheid te verkoop. Natuurlik is dit noodsaaklik – of is die verwagting dat mense ook selibaat sal bly?

Dis tog gek. Nie alleen is kondome nodig vir geboortebeperking nie, maar ook om die verspreiding van seksueel oordraagbare siektes en veral MIV/vigs te voorkom. Wil ons ná die inperking oor een virus ons probleme met ’n ander virus vermeerder?

Laat ek julle dan met iets positief laat. Gaan kyk gerus op Google hoeveel wilde diere nou weer in stede voorkom – wat ons moet laat nadink oor ons verhouding met die natuur.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Inperking  |  Geweld  |  Menings  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.