Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inperking: Saam met ander reis jy verder

Die ruimtetuig waarin hy en sy gesin hulle in die tyd van inperking bevind, is glad nie so ’n vreemde plek nie, skryf Jo Prins.

Jo Prins

In hierdie tydkapsule waarin ons deur die ruimte tuimel, dink ek die laaste paar dae nogal heelwat aan die doku-drama Mars en meer fiktief Lost in Space op Netflix.

Aan huis is dié ruimtetuig waarin ons in meer as een opsig na ’n nuwe wêreld op pad is, glad nie so ’n vreemde plek nie – die truuk is om elke ruimte tot jou beskikking ten volle te benut.

Die ander truuk, natuurlik, is om jou afleiding by die mense om jou te soek, en wanneer dít te veel raak, die kajuitkoors hok te slaan met ’n behoorlike roetine.

Vyf dae die inperking in, het óns vyf siele – afhangende van hoe jy glo, want een is ’n hond – almal baie spesifieke rolle.

Daar is nie ’n vasgestelde taaklys in die kombuis teen die swartbord op of so iets nie, maar almal weet daar word nou meer van elkeen verwag.

Manon, my tienjarige, het haar “studio” in die garage opgerig en doen kuns met wat ook al haar hand vind – sy is besig om agter te kom sy is nóg meer kreatief as wat sy gedink het.

Vanoggend toe ek by die trappe afkom is my vrou, Mariska, ook in die garage via Skype op die tabletrekenaar besig met haar fiksheidsinstrukteur.

Dit sou ’n saai affêre gewees het as ek nie ’n behoorlike speellys op my foon gehad het nie.

Met koffie loer ek in om hallo te sê en sien die lyflose kop wat vir Mariska sê om die soveelste plank te doen daar waar sy op haar dubbeldikte oefenmat op die grond is.

Wanneer Mariska met haar gim-sessie klaar is, meld ek met my fietsrypakkie aan om die bergfiets vir ’n uur op die rollers te pak. Dit sou ’n saai affêre gewees het as ek nie ’n behoorlike speellys op my foon gehad het, en dit via Bluetooth na die koordlose oorfone om my kop kon gooi nie.

Met Flora Cash se “You’re Somebody Else”, Muddy Waters se “Mannish Boy” en Ezra Furman se “Restless Year” pak ek die denkbeeldige heuwels en paadjies in die berge aan.

Later die oggend moet my negejarige, Alexander, sy uurlange Robotics-klas oor sy iPad volg. Ek sit en kyk na hom waar hy en ses ander kinders vir die klas inskakel en hulle die verstommende dinge van kodering aanpak en presies hoe om bewegende robotte uit Lego te bou.

Wanneer ons later op Mars land, dink ek, gaan ons dié knaap se vaardighede veral nodig kry.

‘Saam reis jy verder’

Terwyl my vrou van die huis af ure insit vir die beleggingsbank vir wie sy werk, gooi ek solank ’n bondel wasgoed in en wend ’n poging aan om skottelgoed te was.

Die kinders kry rooibostee en beskuit (deel van die oggendritueel) en dan mag hulle vir ’n uur lank voor die TV lê.

Dan is dit aantrek, hare en tande en vir ’n uur geen elektronika nie – dus Lego speel, of lees vir ten minste ’n halfuur.

Manon moet elke dag minstens vyf bladsye lees en Alexander drie. In die verlede het hy al probeer om vir ’n halfuur lank na dieselfde bladsy te staar . . .

Die hele dag se program word gewissel tussen toestel (iPad of TV) en dan geen toestel (lees, Lego of kuns in die garage).

’n Baie belangrike weerligafleier vir veral kajuitkoors, is die uur of wat se buite speel met die hond. Stitch, die Boston-terrier, is sy gewig in goud werd.

Die oprit het ook ’n fietsbaan en ’n sokkerveld geword.

As ons dan verder wíl reis, sal ons eers aansienlik meer vrede met mekaar moet maak. Maar dié vrede lê in kennis van die ander en verdraagsaamheid.

Maar, soos met Lost in Space of Mars, besef ek al hoe meer dis nie die bestemming of die gevare op ons pad wat die grootste uitdagings bied nie – dis onsself, in hoe ’n mate ons met mekaar oor die weg kom.

Twee Xhosa-spreekwoorde kom in hierdie opsig by my op: “ ’n Mens is ’n mens as gevolg van ander mense,” en: “Op jou eie reis jy vinniger, maar saam reis jy verder.”

As ons dan verder wíl reis, sal ons eers aansienlik meer vrede met mekaar moet maak. Maar dié vrede lê in kennis van die ander en verdraagsaamheid.

In hoe ’n mate ons as ’n spesie hiertoe in staat is, het ek my bedenkinge.

Maar as ons in die nie so nabye toekoms in ’n tuig Mars wil tegemoet gaan om van ’n steierende planeet of ’n verdoemende virus weg te kom, en ons kan mekaar nie as naastes eien nie, kan ons nou netsowel die strate invaar.

Ek weet wel dat ek en my crew gereed is . . . gereed om vérder te reis.

* Prins is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jo Prins  |  Mars  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.