Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Inperking: Stille nag en ’n laksman

Op die eerste dag van die staat van inperking dink Murray La Vita aan hoe “die hele wêreld stil word”, en aan die dood in Venesië en ’n laksman.

’n Reuse-reklamebord teen die muur van ’n woonstelblok in Kaapstad.Foto: AP

“Kyk, daar sit ’n janfrederik,” sê my vriendin.

Ons sit vroegoggend van die eerste dag van die staat van inperking op die agterstoep van ons huis en ontbyt eet. Sy wys na onder in die tuin. Daar sit die voëltjie op die arm van ’n tuinstoel wat deel is van ’n stel wat eens aan my ouers behoort het.

Iewers het ek ’n foto van ’n nege- of tienjarige ek wat op dié stoel sit. In daardie tyd het ek ook op my rug op die grasperk van ons tuin gelê en na die nuwe Concorde in die blou hemel gekyk; ek het vir die eerste keer David Bowie se “Sorrow” oor die radio gehoor, ek het opgewonde geraak oor die verkleurmannetjies en paddas in ons tuin in die landelike Ferndale-uitbreiding 3, Randburg.

Ons sien die janfrederik nie dikwels nie.

Dit is omdat dit so stil is dat hy uitkom, sê my vriendin. Ja, sê ek, ek hoor die voëltjie en ’n maat gewoonlik net in die namiddag in die voortuin deur die venster van my studeerkamer. Dan boots ek hul gefluit na en verbeel my hulle reageer daarop; dat ons besig is om te kommunikeer

In gister se koerant het ek ’n foto gesien van die woonstelblok aan die bopunt van Langstraat in Kaapstad waarin die Lisa van Koos Kombuis se “Lisa se klavier” in die tagtigs gewoon het. Teen die voorkant van die gebou is ’n reuse-reklamebord: “STAY INSIDE if you can”.

Ek oorweeg dit om met my vriendin daaroor te praat (“Ja, die hele wêreld word stil, en luister in die donker uur/Na die naggeluide van Lisa se klavier”), maar sy is Engels en ken nie die lied nie.

Dood in Venesië

Ons praat oor die fopnuus dat dolfyne in die stil en van mens verlate Venesië se kanale begin swem het. Ek het in hierdie dae aan Die dood in Venesië van Thomas Mann gedink, sê ek vir my vriendin. Aan die einde van die boek tref ’n cholera-epidemie die stad en baie mense sterf.

Sy sê: “Het jy gisternag die nuwe maan gesien? Die nuwe maan verteenwoordig ’n tyd van vrugbaarheid; ’n tyd van nuwe begin.”

Sy lag wanneer ek weer eens sukkel om my gekookte eier netjies te “onthoof” en uit die dop te skep op die roosterbrood. Ek is bly sy lag want ons het gisteraand baklei omdat ek ’n toebroodjie wou maak en sy gesê het daar sal nie genoeg brood vir ontbyt oor wees nie.

’n Seuntjie bou ’n huis

Ek sê aan haar ek het my gisteraand misgis met hoe laat die tyd van stilte en gebed sou plaasvind – ek het gedink dit is om agtuur, maar teen agtuur was dit al verby.

Terwyl ek later in die bed gelê het – dit was dalk al ná middernag – het ek gedink aan ’n storie wat ek graag aan my kollega se seuntjie sou wou vertel toe ek gister by haar was om ’n permit wat joernaliste toelaat om uit te gaan, ’n perskaart en twee pare rubberhandskoene en ’n bottel handreiniger aan haar te gee.

Die seuntjie het by ’n tafeltjie in die kombuis gesit en was besig om tandestokkies in ’n stuk polistireen te steek. Hy was skaam toe ek hom groet en het onder die tafeltjie probeer inklim. Ek het gevra of hy besig is om ’n kunswerk te maak en hy het gesê nee, hy bou ’n huis.

Fluitspeler in die nag

In die stille nag dink ek toe ek wens ek het hom vertel van ’n man wat in die nag daar in sy buurt aan die voet van Duiwelspiek in ’n parkie op ’n leë skoppelmaai sit en op sy fluit speel. En dat uile dan aangevlieg kom en rondom hom kom sit met hul groot oë op hom gerig. Later is die hele parkie vol uile wat na hom sit en luister daar waar hy onder die nuwe maan vir hulle sit en fluitspeel.

Ek weet hy hou van spoke en spookstories, maar ek kon nie daarin slaag om ’n spookstorie op te maak nie. Miskien is daar tóg iets spookagtigs, iets goties aan die fluispeler omring deur uile in die nag. Dalk moet ek dit via my kollega per stempos op WhatsApp aan hom stuur. Nee, dit sal vreemd wees en dalk maak jy die kind bang, sê ek aan myself

’n Laksman

Murray La Vita

My vriendin staan van die ontbyttafel af op en stap met die trappies af tot onder in die tuin. Mettertyd kan ek haar nie meer sien nie. Sy het waarskynlik na haar plante aan die kant van die huis gaan kyk en is nou besig om dooie blare af te breek.

Dalk soek sy ’n plek waar sy groente kan plant. Ek het vroeër die week gesien daar lê pakkies saad op ’n kas in die kombuis: spinasie, tamaties, roket, sprietuie.

Dan hoor ek ’n geluid wat aan my bekend is. Ek kyk op na die boom in die hoek van die erf en daar sit die laksman.

* La Vita is 'n senior redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Kaapstad  |  Randburg  |  Stilte  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.