Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Insekgeregte laat liefde sy perke ken
Aniki
Aniki Joseph

Indien jou onlangse interaksie met ’n insek van enige aard iets te doen gehad het met ’n spuitkannetjie insekdoder, dink weer . . . Jy het dalk flussies ’n moontlike maaltyd uitgewis!

“Moet ek jou nou régtig daarheen vergesel?” vra manlief benoud. Die uitdrukking op sy gesig lyk vir ’n oomblik soos dié van ’n kleuter wat probeer om ongesiens die brokkoli op sy bord in die glas melk te versteek. “Ek reken net, ons kan gaan smul aan vars seekos by die Waterfront.”

“Deur dik en dun. Dit is wat jy plegtig voor die kansel in die teenwoordigheid van getuies beloof het,” herinner ek hom en glimlag soet.

Die verkeer onderweg na Woodstock is druk. Ek verkyk my aan die kleurvolle heldergeel, skelpienk, lemmetjiegroen en blouselblou geboue. Tussen die historiese geboue verrys nuwe woonstelblokke en industriële staalstrukture. Alles onverstoord. Kosmopolitaans en histories. Netjies ingepas. Mengelmoes-kardoes.

Mario Barnard van die Gourmet Grubb ontvang ons hartlik. “The Insect Experience” duidelik in groot swart letters teen ’n wit advertensiebord, spel die somtotaal van die doel van ons besoek vandag. Mario dra ’n swart sjefuitrusting met ’n rooi borsspeld van die Afrika-kontinent aan sy linkerbors.

Die spyskaart teen die muur lees in Engels: Basil Pesto Tagliatelle. Mopani Polenta Fries. Wild Mushroom and Herb Croquettes. Ice Cream. Bugaroons. Alles gemaak van insekte. Op die toonbank staan ’n aantal keramiekbakkies met insekte vir die proe. Swartgerookte of geelgestreepte gedroogde mopaniewurms, venstervlieglarwes of ligbruin meelwurms. Daar pryk ook ’n boepensbottel met insek-hondebeskuitjies.

Ek lig versigtig ’n gerookte mopaniewurm. Ruik. Proe.

Ek lig versigtig ’n gerookte mopaniewurm. Ruik. Proe.

Manlief het verdwyn! Weg. Soos ’n groot speld. Voortvlugtig, vermoed ek.

“Waarvan is die roomys gemaak?” vra ek en wys na die suiwelproduk in die koelkas, geskep deur ’n waagmoedige entrepreneur. Ek leer dié romerige lafenis bestaan uit entomelk, onverwerkte heuning en kakao. Die Bugaroons, afgelei van macaroons, is ’n ronde koekie met ’n meringue-agtige tekstuur, gemaak van onder meer insekmeel.

Ouma het haar kleindogters geleer die pad na ’n man se hart loop inderdaad deur sy maag. “Jy beweeg op dun ys vandag!” betig ek myself.

“Het jy geweet meer as 2 miljard mense wêreldwyd eet insekte as deel van hul tradisionele dieet? Insekte bevat 20% meer proteïne as hoender en 18% meer as beesvleis. Insekte produseer boonop 80 keer minder metaan. Insekmeel is inderdaad ’n gesondheidsproduk. Die venstervlieg is kos. Voedinggewys is insekte die perfekte alternatief vir vleis,” borduur ek nogtans later voort. “Insekgeregte op ’n spyskaart kon dalk nie al jou kulinêre sintuie prikkel nie, maar dit was ’n interessante, leersame avontuur.”

“Liefde hét perke,” brom manlief. Dan breek lagplooitjies in vergiffeniskreukels om sy oë.

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Uiteet  |  Kos  |  Insekte  |  Seekos  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.