Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Intelligentsia se onsin-verklikkers moet altyd werk
Gerhard van Huyssteen

Net toe ek dog ek ontsnap uit my seisoenale depressie, toe beland daar op my rekenaarskerm ’n uitnodiging na ’n akademiese byeenkoms.

Die organiseerders kondig aan: “The aim is to facilitate the ­establishment of a telescoping perspective on the sensitive and controversial subject of languages from government ­legislation, policy, education, business and narrows down to the question of how modern electronic technology can be used to mediate between the ever growing and conflicting objectives of heritage preservation, decolonization, inclusive growth and social justice, ­globalization and the inevitable merging of once-segregated cultures that results in code-switched hybrid human lan­guages.” (sic!)

Ek lees weer. En weer. Loop ’n keertjie om my lowergroen swembad. (Akademici soos ek het nie regtig tyd en geld om ons swembaddens kraakblou te kry nie. Dis eksamentyd.) Ek gaan sit en lees weer. My twee poedelkinders, Hoekom en Sommer, voel hondsintuïtief aan hoe daar ’n melankolie oor ons huis skuif. Hoekom sit sy kop op my skoot; Sommer maak klein kreungeluidjies.

Ek lees weer en besluit toe maar dat my Engels seker nie goed genoeg is nie. Ek is immers ’n Vrystaatse boorling.

Ek bel Sophia Kapp, VivA se taaladviseur. Vertalings van tekste val buite haar posbeskrywing, maar ek vra mooi of sy asseblief kan help. Sy is immers ’n geakkrediteerde vertaler en ’n eertyds bekroonde dosent in die vertaalkunde.

“Gee vir my ’n vertaling wat so na as moontlik aan die bronteks is,” vra ek.

“Stuur aan,” sê sy.

Tien minute later kry ek haar e-pos terug. (Danksy vervangingsasteriske in ’n swetterjoel vloekwoorde kon sy die Noordwes-Universiteit se gemorsposfilters systap. Sy beken ook dat sy haar in die afgelope tien minute aan onwettige alkohol oorgegee het.)

Sy beken ook dat sy haar in die afgelope tien minute aan onwettige alkohol oorgegee het.

Hier is haar vertaalpoging: “Die oogmerk is om die vestiging te fasiliteer van ’n teleskoperende perspektief op die sensitiewe en kontroversiële onderwerp van tale, van(uit) regeringswetgewing, beleid, onderwys, sake, en dan ingefokus op die vraag hoe moderne elektroniese tegnologie gebruik kan word om te bemiddel tussen die immer groeiende en konflikterende oogmerke van erfenisbewaring, dekolonisering, inklusiewe groei en sosiale geregtigheid, globalisering en die onvermydelike ineenvloeiing van eens gesegregeerde kulture wat lei tot kodeverwisselde, hibriede menslike tale.”

Sophia sluit haar e-pos af met die vrywaarskuwing dat die vertaling volgens die Gigo-beginsel gedoen is: ­Garbage in, garbage out. En daarmee slaan sy die spyker op die kop van ’n probleem wat veel groter is as die vertaling van ’n paragraaf. Populistiese politici beskuldig akademici (soos ek) dat ons besig is met irrelevante navorsing. Want #Every-thingMustFall. As navorsers dan sulke diep knieknikke doen dat hul onderrokke Victoriaans uithoepel, kry jy denkdiarree soos hier bo: Garbage in, garbage out.

Die geskiedenis wys oor en oor dat dit die verantwoordelikheid is van joernaliste (soos Jacques Pauw nou), kunstenaars (soos Brink en Breytenbach in die onlangse verlede) en akademici (soos Kopernikus eeue gelede) om in woeste tye nugter te bly. Hou kop, maar nie jou bek nie. En waak veral teen garbage in, garbage out.

N.s: Ek vermoed die eintlike vraag van die beoogde simposium is heel nugter én besonder relevant: “Hoe moet spraakherkenners aangepas word om taalvermenging in Suid-Afrikaanse tale te kan hanteer?”

Meer oor:  Vertaling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.