Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Interessant dog baie verwarrend

Die politiek is op ’n interessante dog verwarrende plek.

Die regerende ANC bly gewikkel in ’n verbete stryd tussen korruptes en voorstanders van “skoon” regering, met die skaal wat op die oog af net-net in die guns van laasgenoemde begin swaai. Aan die opposisiekant het die DA pas ’n virtuele beleidskonferensie afgehandel waarvan die presiese betekenis oor die volgende weke nog uitgepluis sal moet word.

Daar is egter min twyfel dat die normaalweg bestendige DA die laaste tyd vir homself ’n gat gegrawe het waarin hy net al hoe dieper wegsak. Die party se probleem is nie net sekerheid oor beleid nie, maar ook oor leierskap.

John Steenhuisen, die tussentydse leier, hoop om die heeltydse leier te word, maar hy sukkel om hom as onbestrede kandidaat te vestig. Die party se voormalige Gautengse leier, John Moodey, het hom verlede week aan die leierstryd onttrek en uit die party bedank.

Die DA se hantering van die leierstryd is erg onbeholpe en skadelik.

Die DA se hantering van die leierstryd is erg onbeholpe en skadelik.

Soos sy voorganger, Mmusi Maimane, is Steenhuisen ietwat lig in die broek en hy kan nie in dieselfde geselskap as sy hoofteenstander, pres. Cyril Ramaphosa van die ANC, gereken word nie. Hy weerspieël eenvoudig nie dieselfde gravitas as Ramaphosa nie, wat beteken dat hy nie genoegsaam ernstig opgeneem word deur sy eie kollegas en leiers van ander partye nie.

’n Bykomstige probleem vir die DA is die teenwoordigheid van sy voormalige leier Helen Zille, voorsitter van die party se invloedryke federale raad.

In aftrede is Zille geneig om van haarself ’n oorlas te maak wat van die kantlyn soos ’n wafferse Donald Trump daarvan hou om omstrede twiets die wêreld in te stuur wat haar party in die verleentheid stel.

Die enigste ander opposisieleier wat lyk of hy die ANC en Ramaphosa kan aanvat, is Julius Malema van die EFF.

Hy het egter probleme van sy eie, met hardnekkige bewerings dat hy en van sy medeleiers (soos Floyd Shivambu) meegedoen het aan die multimiljardrand-stroping van die VBS-bank.

Partye in die res van die opposisie-veld is te klein en nie noemenswaardige opponente vir hul groter teenstanders nie. Die DA moet egter sy oë op die VF Plus hou wat ’n aansienlike aantal kiesers by hom afgerokkel het in die laaste algemene verkiesing. Dit is egter nie die soort kiesers wat die DA noodwendig wil hê nie.

Die DA het die steun van swart kiesers nodig indien hy hoop om die ANC suksesvol die stryd aan te sê. Maar terselfdertyd kan hy nie bekostig om sy tradisionele wit steunbasis te vervreem nie.

Intussen lyk dit of Ramaphosa se besluit om die vermeende korruptes in sy party die stryd aan te sê, besig is om vir hom vrugte af te werp.

Intussen lyk dit of Ramaphosa se besluit om die vermeende korruptes in sy party die stryd aan te sê, besig is om vir hom vrugte af te werp. Sy adjunk, David Mabuza, het die naweek in ’n lang artikel in The Sunday Times sterk ten gunste van sy baas se teenkorrupsie-veldtog betoog.

Onthou egter, Mabuza se lojaliteit jeens sy baas was nog altyd verdag. Tydens die president se opgang na die leierskap van die ANC is Mabuza beskou as iemand met ’n verskuilde agenda wat Ramaphosa se belange ondermyn het, terwyl hy glo die belange van die Jacob Zuma-faksies bevorder het.

In sy artikel kon Mabuza nie duideliker wees oor waar hy nou staan nie. Dit is egter ’n ope vraag of die president sy verklaarde sentimente sal aanvaar of dit op ’n afstand sal hou. Die ANC is ’n verraderlike party waar alles nie altyd is soos dit lyk nie. Ramaphosa sal dus voortdurend op sy hoede moet bly.

Dit sal interessant wees om te sien hoe hierdie verwarrende politieke landskap in volgende jaar se munisipale verkiesing sal manifesteer.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Da  |  Korrupsie  |  Anc  |  Beleidsverandering  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.