Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Interessante verkiesing wag op Frankryk

Dit duur nog meer as ’n jaar voor Franse kiesers stembus toe moet gaan om ’n president te kies, maar reeds nou al lyk dit of dit ’n interessante uitslag kan wees.

Die gemiddelde van alle peilings het onlangs gewys dat die veglustige regs-populistiese Marine le Pen vir die eerste keer gewilder as die ewe veglustige gematig-regse pres. Emmanuel Macron is. As die peilings korrek is, kan sy 26% van die stemme in die eerste ronde behaal teenoor die 24% vir Macron, wat die politieke sentrum in Frankryk nogal laat skrik het.

Die Franse stelsel bepaal dat die suksesvolle kandidaat ’n volstrekte meerderheid van die stemme – dus meer as 50% – moet trek. Omdat dit op nasionale vlak nooit gebeur nie, vind die verkiesing in twee rondes plaas.

Die eerste is eintlik maar ’n uitdunronde. Slegs die twee kandidate wat die meeste stemme behaal, kan aan die tweede deelneem; die res sak almal uit.

Die peilings wys dus dat Le Pen marginaal gewilder as Macron is. Maar dit geld net vir die eerste ronde. In die tweede sal Macron na verwagting 56% van die stemme behaal teenoor Le Pen se 44%. In 2017 het Macron in die eerste ronde met 24% teenoor Le Pen se 21,3% gewen, en in die tweede met 66,1% teenoor die 33,9% vir Le Pen.

Natuurlik moet ’n mens peilings altyd maar baie versigtig benader, want uiteindelik is daar slegs één peiling wat geld en dit is die verkiesingsuitslag self. Tog, selfs al sou Le Pen luidens die nuutste peilings steeds in die tweede, beslissende ronde verloor, vaar sy duidelik beter as die uitslag van 2017.

Die peilings wys dus dat Le Pen marginaal gewilder as Macron is.

Wat sou die rede wees?

Le Pen kom uit ’n regs-ekstremistiese agtergrond. Haar pa is wyle Jean-Marie le Pen, wat berugtheid verwerf het met ’n stelling waarin hy die Nazi’s se gaskamers (waar ’n geskatte 6 miljoen Jode vermoor is) afgemaak het as bloot “ ’n detail in die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog”. Die Nazi-besetting van Frankryk in 1940-’45 was vir hom “nie buitengewoon onmenslik nie”.

Nadat sy die leiding van haar pa se party in 2011 oorgeneem het, het Marine aanvanklik dié se rigting voortgesit. Maar sy het ingesien dat dit sou beteken dat sy nooit in der ewigheid haar intrek in die Elyséés-paleis sou kon neem nie.

Dus het sy die party van ekstreemregs aansienlik nader aan die politieke sentrum laat swaai. In die proses het ’n breuk tussen pa en dogter ontstaan.

Daardeur het die politieke landskap in Frank­ryk wel verander. Pleks van die tradisionele geveg tussen sosialiste en konserwatiewe, het dit ’n mededinging tussen gematig regs en behóórlik regs (ofskoon ruim binne die grense van die liberale demokrasie) geword.

Die volgende jaar sal bepalend wees vir die Franse politieke toekoms.

  • Dr. Scholtz is ’n skrywer en onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Frankryk  |  Verkiesing  |  Franse Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.