Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Internasionale politiek bied geen sekerhede

Die internasionale politiek is soms soos om op 100 aaneengeskakelde skaakborde tegelyk te speel. Elke skuif wat jy op die een maak, het ’n invloed op die ander borde, maar op só ’n manier dat jy daardie invloed nie vooraf kan bereken nie.

Wanneer Amerika dus aankondig dat sy minister van gesondheid Taiwan binnekort gaan besoek, is die vraag watter invloed dit op die internasionale politiek sal hê.

Een antwoord wat ’n mens onmiddellik en met absolute sekerheid kan gee, is dat dit die temperatuur van die reeds gespanne betrekkinge tussen Amerika en China met ’n hele paar grade gaan opjaag. Maar dis ’n algemene antwoord wat nie veel sê nie. Meer as dit kán ook nie met sekerheid gesê word nie.

Een moontlikheid is dat dit ’n verdere stap onderweg na ’n oorlog tussen die twee kan wees, een wat ook Rusland, Japan en ander lande in Oos-Asië kan insuig. Of die Chinese kan sien dat Amerika nie met hom laat speel nie en dat hy – al is dit voorlopig – sy aggressiewe houding laat vaar.

Is dit wys om ’n aggressiewe diktatuur vroeg reeds te konfronteer? Wat sou gebeur het as Brittanje en Frankryk Adolf Hitler reeds met sy besetting van die Rynland in 1936 gekonfronteer het?

Wat sou gebeur het as Amerika die Sowjetunie nié met die Berlynse krisisse van 1948-’49 en 1961 en die Kubaanse missielkrisis van 1961 resoluut geblokkeer het nie?

Die antwoorde op dié vrae wys dat hulle eers deur die gebeure agterna beantwoord kon word. Niemand kon enige sekerheid hê terwyl sake nog aan die ontwikkel was nie.

Doen Amerika die regte ding om China te konfronteer? ’n Absolute antwoord is onmoontlik.

Hitler sou heel moontlik afgeskrik kon gewees het, al weet ons uit sy lewensbeskouing dat dit slegs tydelik sou wees. Die Sowjetunie sou Wes-Berlyn ingepalm en ’n vermoë ontwikkel het om Amerika op sy voorstoep in die Karibiese See af te dreig.

En dít, so kan geredeneer word, sou die gevaar van ’n allesverwoestende kernoorlog juis verhóóg het.

Om die skaakbord-metafoor van die begin anders te stel: Die internasionale politiek is soos ’n paar tot die tande toe bewapende stokblinde mans wat in ’n kamer met allerlei onbekende hindernisse rondstrompel. As hulle teen mekaar vasloop, kan die bloed loop en álmal se lewens beëindig.

Dus, doen Amerika die regte ding om China te konfronteer? ’n Wiskundige, absolute antwoord is onmoontlik.

As die geskiedenis ’n leidraad kan wees, is dit dalk – dálk – die regte ding om China te wys dat daar ’n grens is wat hy nie moet oorsteek nie. Die land se toenemend aggressiewe houding is ’n gevaar vir die wêreldvrede.

Of pres. Donald Trump se motiéwe (daar is immers ’n verkiesingsveldtog aan die gang) suiwer is, is ’n ander saak. Maar dis ook volkome irrelevant.

Meer oor:  Wêreldburger  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.