Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Intimidasie, nie oorlog, dalk Poetin se spel

Die donderwolke pak al weer saam langs die grens tussen Rusland en Oekraïne. Berei Rusland oorlog voor, of wat is hier aan die gang?

Dié vraag maak waarnemers in die Weste nogal senuweeagtig. ’n Oorlog tussen Rusland en Oekraïne bemoeilik die internasionale politiek behoorlik.

Aan die een kant het Rusland tot 80 000 soldate aan die Oekraïense grense saamgetrek, waarvan 40 000 aan laasgenoemde se westergrens, en nog 40 000 op die Krim-skiereiland, die gebied wat die Russe in 2014 met geweld van Oekraïne afgeneem het. Die Russe verklaar die sametrekking as “oefeninge”, maar enigiemand met ’n bietjie militêre kennis kan sien dat dit veels te omvangryk is om blote oefeninge te wees.

Aan die ander kant is ’n volskaalse oorlog nou ook nie in Rusland se belang nie.

Aan die ander kant is ’n volskaalse oorlog nou ook nie in Rusland se belang nie. Hy is militêr steeds vele male sterker as Oekraïne, maar dié het sy weermag sedert 2014 aansienlik versterk, en hy sal dus ’n hoë prys van die Russe in ’n konflik kan eis.

Hoe moet ’n mens die saak dan wel sien? Pres. Wladimir Poetin is gewoond daaraan om nie in sy kaarte te laat kyk nie; hy basuin nie sy planne wyd en syd uit nie. Enige poging om sy optrede te verklaar, berus dus op gissings, logika en onvolledige kennis.

As Poetin nie op oorlog uit is nie, is daar wel ’n ander moontlikheid – om Oekraïne en die Weste te intimideer. Dis bekend dat hy die grense van die Sowjetunie sou wou herstel as hy kon, maar as dit onmoontlik is, wil hy wel alle gebiede waar etniese Russe in die meerderheid is, terugkry.

Dis wat hy met die Krim gemaak het. En Oos-Oekraïne, wat in dié tyd van Oekraïne afgeskei is, word ook hoofsaaklik deur etniese Russe bewoon.

Dit klink dus logies dat Poetin hoop dat die gebied deur sy intimidasie soos ’n ryp appel vanself in sy skoot sal val. Veral omdat niemand in die Weste tans gretig is om militêr in Oos-Europa ingesuig te word nie.

Dis des te meer die geval omdat die geopolitieke aandag van Amerika, Europa en Navo tans meer ooswaarts gerig is. Die oë kyk veral na China, wat na talle Westerse leiers se mening ’n steeds groter gevaar vorm – militêr, ekonomies en polities.

’n Sekondêre blik word gerig op die onstabiele Midde-Ooste. En dan veral op Afganistan, waar Westerse soldate teen 11 September onttrek sal wees.

In sulke omstandighede, so kan ’n mens redeneer, meen Poetin moontlik dat hier sprake is van ’n magsvakuum waarin hy kan stap sonder om gestraf te word. Op kort termyn is dit ’n slim taktiek, maar dis natuurlik ’n ope vraag of dit op die duur strategies ook verstandig sal blyk.

  • Dr. Scholtz is ’n skrywer en onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.