Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is 3 mans meer as ’n mondvol?

Sal ’n poliandriese huwelik ’n goeie ding vir ’n vrou wees? Sal dit haar bemagtig of haar probleme verdriedubbel? wonder Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Drie was nog altyd vir my ’n goeie getal vryers – baie soos hoe die koningsgesinne altyd kinders gehad het: een vir die troon, een as opvolger en een vir ’n “spare”.

Wetgewing word nou voorgestel waarvolgens vroue ook toegelaat sal word om ’n poliandriese huwelik te betree. Mevrou kan dus nou Mevrou Doktor, Mevrou Professor en sommer die hele boksemdaais wees.

“Mamma ek wil ’n man hê” kan nou met oorgawe gesing word, want as dié wet aanvaar word, kan jy ’n Fransman, ’n Italiaanse man . . . of dan sommer ’n hele paar plaaslik uitgebroeide mans aanskaf.

Natuurlik heers daar ontsteltenis in die patriargale parlementsgange. Skok. Afsku, selfs. Die politieke party Al Jama-ah wil sommer die strate invaar. Soos ’n klomp Yamaha-klaviere, vals note en al.

Vir hierdie patriargale spulletjie is dit heeltemal aanvaarbaar dat ’n man danksy religieuse redes meer as een vrou mag hê, maar andersom? Aikona!

Natuurlik sal die idee van een vrou wat koningin kraai oor haar eie harem mans bekommer. Want ’n vrou wat keuses het, is ’n kragtige vrou. ’n Vrou met meer as een man sal heel moontlik vinniger welvaart kan opbou en veiliger wees omdat die mans haar sal kan beskerm – selfs ook teen interne mishandeling.

Dit kan ’n baie bemagtigende posisie vir ’n vrou wees.

“Ag nee bleddie hel, my kind! Wat wil jy nou loop maak met drie mans? Dis sommer origheid.”

Aan die woord is my ma, die logiese stem van my gewete en bewaarder van my sedes.

“Drie mans is drie keer se moeilikheid, hoor nou wat ek vir jou sê.”

“Wel, die kerke reken dit sal die familie skade berokken,” gee ek toe.

“Dit sal die vrou skade berokken! Dit is wat dit sal doen!” sê sy.

En meer wasgoed, meer vullis, meer kos om te maak, meer toilette om te was, nêrens ’n toilet in die huis met die sitplek afgeslaan nie, vuil skoene en onderbroeke orals, skeerstopsels in die wasbak en ’n konstante leë yskas.

Ek deel my bemagtigingsteorie met haar: meer hande, meer hulp, meer geld, meer beskerming.

“Is dit so?” mymer sy. “En meer wasgoed, meer vullis, meer kos om te maak, meer toilette om te was, nêrens ’n toilet in die huis met die sitplek afgeslaan nie, vuil skoene en onderbroeke orals, skeerstopsels in die wasbak en ’n konstante leë yskas.”

Ek dink hieroor. Sy is reg. Maar daar sal tog geld wees om ’n huishoudster aan te stel. Dalk ’n ekstra wasmasjien.

“Jy sal ekstra televisies ook moet koop,” val Ma my gedagtes in die rede.

Om nie te praat van ’n afstandbeheerder nie. Ek kan my dit net voorstel. Al die manne wat baklei oor die remote control. Of sal hulle almal saam sit en sport kyk? Visioene van die manne om die braaivleisvuur terwyl ek braaibroodjies by die dosyne maak én met hulle huis moet hou, vlieg my kop binne.

Meer as een man op een slag in die bed behoort Mevrou Poli Amorie nie te erg te pla nie.

Drie mans wat winde los. Drie mans wat opinies het oor als. Drie mans wat my tyd en aandag soek. Drie volbloedmans onder een dak.

“Ja, Dogter, het jy al daaraan gedink? Wat gaan jy maak as almal terselfdertyd saam met jou in die bed wil spring?”

Hierdie kwessie pla dan ook vir eerwaarde Kenneth Meshoe.

“Ons almal weet hoe is mans,” het hy op ’n onlangse nuuskonferensie gekerm-skerm. “Wat as hulle almal saam op een slag die aand saam met die vrou wil deurbring?”

Behalwe vir die erge seksistiese ondertone van hierdie stelling, vergeet die liewe eerwaarde natuurlik een ding . . . die vrou is gebou soos langafstandatleet. Sy kan ’n hele paar rondes doen. Anders as ’n man, wat entoesiasties wegspring en binne 1 minuut vier sekondes oor die wenstreep kom.

Meer as een man op een slag in die bed behoort Mevrou Poli Amorie dus nie te erg te pla nie – want dan het sy mos haar eie aflosspan . . .

• Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Kenneth Meshoe  |  Vroue  |  Mans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.