Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is blitzkrieg gou ná verkiesing

Wat is pres. Cyril Ramaphosa se plan nou eintlik?

Vele ervaar steeds ’n soort naskok van wat gesien is as die ineenstorting van Ramaforie. En verstaan ook nie die soms stadige pas waarteen die president bepaalde kwessies – veral oor ongure karakters in die ANC – hanteer nie.

Barnard Beukman

Selfs al gesels ’n mens ’n bietjie rond in die breër en nouer Cyril-kamp, het elkeen ook ’n eie vertolking van dinge. Maar uit die variasies het een woord herhaaldelik begin uitstaan by uiteenlopende mense: blitzkrieg. Sommige bied dit as die plan op die tafel aan en ander as hul eie voorstel. Maar die woord doem telkens op.

Die denke daaragter is die besef dat met sommige kernkwessies vanjaar dringende ingryping nodig is om die fiskale si­tuasie te stabiliseer en ekonomiese groei reg te stimuleer. Daarby ook met al die regte elemente vir Ramaphosa se ambisieuse plan om grootskaalse buitelandse beleggers in te kry.

Daar is ook ’n besef dat hy ná die verkiesing nie ’n vyfjaar­termyn het totdat hy op die volgende ANC-leierskonferensie gekonfronteer word nie, maar in werklikheid ’n twee en ’n half jaar-termyn. Baie van die “regte dinge” wat gedoen moet word, is ook nie noodwendig intern gewild in die ANC nie.

Indien alles – soos tans – deur pynlik stadige interne konsultasie gevoer moet word, gaan nodige inisiatiewe ’n stadige dood sterf – soos die nasionale groeiplan onder Jacob Zuma.

Die plan is dus glo om net ná die verkiesing die res van vanjaar te gebruik om in ’n omvattende blitzkrieg grootskaalse skuiwe, inkortings, veranderinge, afskaffings en nuwe toepassings byna oornag deur te voer. Sommige daarvan bykans ondenkbaar uit ’n ANC-perspektief.

Dit gee die president dan twee jaar om hopelik die positiewe resultate daarvan te wys en ook om weer intern op sy voete te kom. Betyds vir enige uitdaging op die leierskonferensie.

Is dit alles een groot politieke sprokie van wensdenkery?

Dié soort gesprekke vind plaas midde-in steeds verdelende interne debatte oor van die kernkwessies, soos grondherverdeling, die status van die Reserwebank en of Nasionale Gesond­heidsversekering finaal nek omgedraai moet word. En veral in watter mate nog aan staatsondernemings soos Eskom vasgeklou moet word. En of die verbode p-woord, privatisering, nie maar tog die uitweg is nie.

Oor een ding is daar wel konsensus in die gesprekke – Ramaphosa het agter die skerms reeds drastiese vordering gemaak met sy magskonsolidasie in die nasionale werkkomitee en nasionale uitvoerende komitee van die ANC. En hy staan vir alle praktiese doeleindes baie sterker as ’n jaar gelede, met ’n werkende meerderheid. Dit sluit ’n standhoudende interne streekkoalisie in KwaZulu-Natal in.

Daarom dat hy die selfvertroue het om al hoe meer die waters te toets met uitlatings soos sy bykans direkte veroordeling van Jacob Zuma se rampspoedige nege jaar in die presidentsamp. En vir eens het sy voorganger half jammerlik alleen gelyk toe hy beswaar aangeteken het in ’n lagwekkende poging om die “suksesse” van sy termyn te lys.

Is dit alles een groot politieke sprokie van wensdenkery?

Wel, Ramaforie was ’n sprokie van wensdenkery wat geskep is deur waarnemers wat nie verstaan het dat ’n Nasrec-kongresvloerminderheid tot ’n naelskraapse meerderheidstem onderhandel moes word nie. En dat die gepaardgaande “eenheidsdanse” ’n noodwendige gevolg was.

Waarvoor ons nou dophou, is of hy ’n ewige gevangene daarvan gaan wees en of hy wel oortuigend kan uitbreek.

* Barnard Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Verkiesing  |  Barnard Beukman  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.