Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is CR in beheer van ’n kruitvat?
'Op ’n manier dokumenteer ons spesifiek wat met vroue gebeur in hierdie omstandighede.' Foto: Jaco Marais

Ek en ’n goeie vriendin bekla die afgelope week ons lot ná afloop van die strooptogte en die buitery. Jy is reg, sê sy. Ons is getrigger. Ek en sy haat albei die woord trigger omdat ons al te veel gesien het hoe studente dit gebruik om hulself te verontskuldig. Maar ons is getrigger.

Ek en sy het in die doodsnikke van apartheid by die Universiteit van die Noorde klasgegee, net voor die noodtoestand. Ons was midde-in daardie geweld – studente wat slaags geraak het met lede van die weermag en geboue afgebrand het. Ons het daardeur geleef. Toe kon ons onsself troos dat daar ’n politieke doelwit was. Voorverlede week se geweld het ons teruggeneem na daardie trauma.

Dieselfde politieke party wat toe deur die studente geloof is as die party wat vryheid sou bring, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die geweld en politieke onstabiliteit wat ons pas ervaar het. Die ANC het gedink hulle kan die staat uithol met hul faksiegevegte, wat die Staatsveiligheidsagentskap lamgelê het en die minister en kommissaris van polisie in opstand teen mekaar gebring het. Die staat se onvermoë om beheer uit te oefen was helder soos daglig.

Pres. Cyril Ramaphosa lyk soos ’n buikspreker se pop. Net sy lippe beweeg.

Pres. Cyril Ramaphosa lyk soos ’n buikspreker se pop. Net sy lippe beweeg. Dit is moeilik om te glo hy is in beheer van die kruitvat wat ontplof het. Die kruitvat is nie die etniese nasionalisme wat aangewakker is deur oudpres. Jacob Zuma se tronkstraf nie. Dit is net ’n deel daarvan.

’n Groter probleem is verontmensli-king deur die stadige geweld van armoede. Weens die pandemie het werkloosheid vererger en meer en meer mense ly honger en is blootgestel aan swak dienslewering. Baie van die buiters was opportuniste wat ’n moontlikheid gesien het om lewensmiddele aan te vul.

Thiven Reddy skryf in sy boek South Africa, Settler Colonialism and the Fail-ures of Liberal Democracy (2015) wat gebeur as mense se lewens nie na waarde geskat word nie en sonder betekenis is. Hy noem dit die politiek van gestroopte lewe wat lei tot die buitengewone politiek van nimmereindigende protes.

Die protes is ingebed in ’n kultuur van geweld wat baie vinnig kan oorgaan in die opstand van die gepeupel, uitgedruk in buitery en vandalisme, soos ons gesien het.

Daarby dra relatiewe deprivasie, wanneer mense hulself met ander vergelyk, by tot mense se optrede. Mense wat sosiaal gemarginaliseer is, meet hulself aan ’n kleptokratiese elite. Daagliks verneem hulle hoeveel geld die politieke elite van die staat steel. Wat ons op ons televisieskerms gesien het, was net ’n konkrete voorbeeld van wat die politieke elite elke dag doen en mee wegkom.

Wat dit ons ook gewys het, is dat die oppergesag van die reg geen betekenis het nie. Ons het gesien dat die polisie geen vermoë het om die wet af te dwing nie. Miskien het hulle nie die nodige opleiding nie of dalk was hulle bang vir ’n tweede Marikana, of net bang.

Die staat glo deur die polisie nou van een plakkershut na ’n ander te stuur om buit terug te neem gaan hulle die oppergesag van die reg herstel. Dis wensdenkery. Die rolmodelle vir die buiters is die polisie en die politici. Ons kan seker wees dat buit wat vernietig moet word, deur die polisie herversprei sal word.

Kyk ook na die demografie van die buiters. Die meerderheid was jong mans, sonder werk, sonder beginsels, sonder hoop.

Wat gaan ons met hierdie toksiese manlikheid doen? ’n Groter tronkbevolking is ’n groter las op die belastingbetaler en kalwer almal wat moet herbou se welwillendheid uit.

  • Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Cr  |  Plunderaars  |  Chaos  |  Plundertogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.