Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is daar nie belangriker dinge as die taalstryd nie?

Is dit nog enigsins nodig om energie op ’n taalstryd te mors terwyl daar veel ernstiger probleme in die land is wat om aandag roep, wonder Gert van der Westhuizen.

Gert van der Westhuizen.

Selfaangestelde taalstryders bemoei hulle daagliks met wat hulle ’n stryd om die oorlewing van Afrikaans noem.

Hulle is onder meer omgekrap omdat Afrikaans nie meer ’n hoftaal of ’n onderrigtaal op Suid-Afrikaanse kampusse is nie. Verdwyn die taal van bierblikkies – lui die argument – gaan dit later nie meer op televisie, in die howe en op universiteite gepraat word nie.

Van die taalstryders is werklik bekommerd oor die oorlewing van Afrikaans. Ander kan weer nie daarmee vrede maak dat Afrikaans nie meer sy dekade lange posisie van bevoorregting het nie.

Baie van ons wat daagliks met en in Afrikaans werk, deel en verstaan nie altyd dié vrese nie. Vir ons is die taal nie net springlewendig nie, hy ontwikkel nog daagliks en laat hom behoorlik op elke liewe kultuurgebied in die land geld.

Ons kan geskiedenis lees in Afrikaans. Daar word in Afrikaans gedig, romans word in Afrikaans geskryf, (goeie) televisiereekse en rolprente word in Afrikaans vervaardig en musiek word in Afrikaans gemaak. Een van die dae vier ons 80 jaar van Afrikaanse radio en ons gee al hoe meer aandag aan Afrikaanse se wonderlike verskeidenheid wat Kaapse Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans insluit.

Dit is asof die Afrikaanse kultuur heelwat meer polsend is as in enige stadium in die verlede. Ons kan nou sonder die skuldgevoel van ouds weer trots wees op Afrikaans en ons onbeskaamd daarin uitleef.

Dié beskouing van Afrikaans sal deur die taalstryders as naïef afgemaak word. Die taal is in groot gevaar, sal hulle sê, en die aanslag daarop is deel van ’n diaboliese veldtog waarmee die regering blankes wil ondermyn. Die oënskynlike polsende Afrikaanse kultuur sus ons maar net aan die slaap sodat ons die groot bedreiging nie raaksien nie.

Almal wat oor die land bekommerd is, wil daarvan ’n beter plek maak vir almal wat daarin bly. Al moet ons dit in Engels doen.

Is dit werklik so? Ek wonder dikwels hoe die deursnee-Afrikaner oor dié kwessie voel. Op die onlangse Aardklop-kunstefees op Potchefstroom was die toekoms van Afrikaans by een van die gespreksreekse onder die loep. Daar het nie veel mense opgedaag om na die onderskeie argumente te luister nie.

Hulle het wel die saal byna volgepak toe daar oor grondhervorming en die politieke toekoms van die land gepraat is. Hulle moes moeite doen om dié gesprekke by te woon. Die gesprekke het nie in die hartjie van die feesterrein plaasgevind nie en jy moes ’n langerige draai loop om daar uit te kom.

Sê dit iets van waar mense se prioriteite lê? Aardklop kan seker nie as ’n meningspeiling gebruik word nie, maar dit is tog ’n Afrikaanse kunstefees waar 99% van die mense wit en Afrikaans is. (Gits, selfs ’n restaurant oorkant die straat van die feesterrein se spyskaart is net in Afrikaans.)

Maar ’n gesprek oor die toekoms van Afrikaans kon feesgangers blykbaar nie juis opgewonde maak nie.

Is dit omdat hulle reeds moed opgegee het? Of is dit miskien omdat daar baie belangriker en dringender dinge in die land is wat om ’n oplossing smeek as Afrikaans se posisie? Dinge soos korrupsie, staatskaping, die ekonomie, misdaad, werkloosheid, grondbesit, landbou, die verval van klein dorpies en die agteruitgang van plaaslike regerings.

Miskien is daar tog hieruit ’n les te leer vir die taalstryders. Dalk sal dit hulle help om byvoorbeeld te besef ’n party soos die DA kan nie ’n stryd vir Afrikaans een van sy prioriteite maak as hy ’n geloofwaardige opposisieparty wil word wat hoop om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak nie.

Die oorlewing van Afrikaans sal veel eerder verseker word deur kultuurorganisasies soos die ATKV wat die taal bevorder deur onder meer uit te reik na alle Suid-Afrikaners sonder om dit ’n politieke kwessie te maak.

Politieke partye het nou veel belangriker dinge om oor bekommerd te wees.

Almal wat oor die land bekommerd is, wil daarvan ’n beter plek maak vir almal wat daarin bly. Al moet ons dit in Engels doen.

Die oorlewing van Afrikaans sal veel eerder verseker word deur kultuurorganisasies soos die ATKV wat die taal bevorder deur onder meer uit te reik na alle Suid-Afrikaners sonder om dit ’n politieke kwessie te maak. 

As ons Afrikaans se oorlewing wil verseker, kan ons doen wat die taalkundige prof. Wannie Carstens onder meer op Aardklop voorgestel het. Ons kan ’n Afrikaanse koerant of boek lees en na Afrikaanse radio luister en na Afrikaanse televisieprogramme kyk. Ons kan ’n Afrikaanse toneelstuk of rolprent gaan kyk.

Of ons kan 'n Afrikaanse kunstefees bywoon. 

Sal ons nie dán meer vir die taal beteken as om net politieke vrese en emosies op te jaag nie?

  • Van der Westhuizen is ’n artikelskrywer by Netwerk24.
Meer oor:  Atkv  |  Gert Van Der Westhuizen  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.