Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is die lesse uit die Bosniese konflik geleer?

Die skuldigbevinding van die Bosnies-Serwiese lt.genl. Ratko Mladic aan volksmoord en misdade teen die mensdom het wêreldwyd groot aandag getrek.

Eerstens weens die massamoorde wat in die Bosniese burgeroorlog (1992-’95) onder sy verantwoordelikheid gepleeg is, maar ook omdat die gebeure ’n voorbeeld is van hoe ’n vredesoperasie nié uitgevoer moet word nie.

In 1992 het Joego-Slawië uiteengeval in sy ses deelstate, waarvan Bosnië-Herzegowina een was. Drie etniese groepe – die Serwiërs, Kroate en Moslems – het daar in ’n burgeroorlog betrokke geraak. Met hulp uit Serwië (nog ’n deelstaat) het die Bosnies-Serwiese magte die oorhand in die konflik gehad.

Om die Moslem-burgerlikes te beskerm, het die Verenigde Nasies troepe na Bosnië gestuur en enklaves in Bosnies-Serwiese gebied geskep waar die VN-troepe ’n skans teen die Serwiërs sou vorm. Die enklave Srebrenica is beskerm deur ’n Nederlandse bataljon, bekend as Dutchbat.

Dit was ’n haastig saamgegooide eenheid en met sy 450 dienspligtiges aansienlik swakker as wat ’n infanteriebataljon op papier is. Die eenheid het feitlik geen swaar wapens gehad nie, net enkele ligte pantserkarre met masjiengewere, en geen artillerie of mortiere nie. Lugsteun is beloof as dit nodig sou blyk.

Dit vorm steeds ’n wond op die kollektiewe Nederlandse psige, waarvan die roof vandeesweek wéér afgetrek is.

Onder Mladic se meedoënlose leiding het die Bosniese Serwiërs Srebrenica in Julie 1995 aangeval, ingeneem, sowat 8 000 Moslem-mans in busse gelaai, die berge in geneem en hulle feitlik almal laat vermoor. Dutchbat, onder leiding van lt.kol. Thom Karremans, het toegekyk sonder om ’n vinger te lig.

Ter verdediging van die Nederlanders moet gesê word dat hulle in ’n militêr onmoontlike posisie was. Hulle was sonder swaar wapens en veel swakker as die aanvallers.

Bowendien is die beloofde lugsteun nie gegee nie omdat Mladic gedreig het om 50 gevange Nederlandse dienspligtiges te fusilleer as hy één VN-bomwerper in die lug sien.

Jy kan ook daarop wys dat die Nederlanders nie kon wéét dat die Moslem-mans vermoor sou word toe hulle weggevoer is nie. Ofskoon ’n blinde kind met ’n stok moes kon aangevoel het dat Mladic se bedoeling nie was om hulle in ’n vyfsterhotel te gaan pamperlang nie.

Waar Karremans egter gefaal het, was toe hy toegelaat het dat ook die Moslems wat in Dutchbat se basis skuiling gesoek het, uitge­lewer word. Selfs mense wat vir die Nederlanders gewerk het, is uitgelewer en vermoor.

Dit vorm steeds ’n wond op die kollektiewe Nederlandse psige, waarvan die roof vandeesweek wéér afgetrek is.

Dus: Sorg by vredesoperasies dat die troepe wat die opdrag gaan uitvoer, behoorlik vir die taak toegerus is. Of moenie daarin betrokke raak nie.

Meer oor:  Ratko Mladic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.