Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is die opstande Venezuela se nuwe daeraad?

Teoreties is dit moontlik om die Marxisme met die liberale demokrasie te versoen.

Dit het egter nog nooit in die geskiedenis gebeur het nie. Marxistiese regimes het nog áltyd binne enkele jare ná hul magsoorname tot totalitêre diktature ontwikkel, selfs al het hulle demokraties aan die bewind gekom.

Leopold Scholtz

Die laaste jare kon nog ’n voorbeeld hiervan in die Latyns-Amerikaanse staat Venezuela gesien word.

Daar het die Marxistiese populis Hugo Chávez in 1999 aan die bewind gekom tot hy in 2012 oorlede is. In dié tyd het hy die land se demokratiese vryhede ingekort, sy eie ondersteuners as regters aangestel, ensovoorts.

Nicolas Maduro het hom in 2012 opgevolg. Chávez was charismaties en die arm massa het hom as ’n held vereer, maar Maduro is ’n vaal, onverbiddelike persoon wat veel minder in die belang van sy mense as in sy eie mag belangstel. Die gevolg was ’n ekonomiese agteruitgang en verval sonder weerga.

Twee jaar gelede het die Venezolaanse kiesers besluit hulle het genoeg hiervan gehad. Die opposisie het ’n oortuigende oorwinning in die parlementêre verkiesing behaal en selfs ’n tweederdemeerderheid in die Kongres gekry.

Maar Maduro het eenvoudig sy marionette op die regbank oortuig om die parlement se mag te kanselleer en alle gesag in die president se hande te plaas.

Omdat Maduro die weermag en polisie met flinke salarisverhogings omgekoop het, het hulle hom gesteun, wat beteken het dat die verkose parlement op die kantlyn moes toekyk.

Daarteenoor raas Moskou, Maduro se groot bondgenoot, kwaai oor Amerika en Guaidó se bondgenootskap. Venezuela is Rusland se grootste bondgenoot in ’n streek wat Amerika as sy agtertuin beskou.

Sedertdien het die ekonomie heeltemal in duie gestort. Die inflasiekoers staan tans op 2 miljoen persent en sal na verwagting vanjaar nog tot 10 miljoen persent styg.

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds is die werkloosheidskoers 33%.

Teen die agtergrond van ’n ineenstortende staat het miljoene Venezolane die laaste tyd die strate ingevaar om Maduro tot ’n val te bring. Die speaker van die parlement, die dinamiese Juan Guaidó, het homself tot tussentydse president uitgeroep, met die belofte om die demokrasie te herstel.

Tot dusver staan die weermag en polisie nog agter Maduro, al is daar tekens van krake in hul steun. Wat ook relevant is, is dat Amerika Guaidó as president erken het, waarna Maduro diplomatieke betrekkinge met Washington verbreek het.

Daarteenoor raas Moskou, Maduro se groot bondgenoot, kwaai oor Amerika en Guaidó se bondgenootskap. Venezuela is Rusland se grootste bondgenoot in ’n streek wat Amerika as sy agtertuin beskou.

Hoe nou vorentoe? Die situasie toon ooreenkomste met dié in Zimbabwe, maar dis ’n ope vraag hoe sake gaan ontwikkel.

Tog lyk dié opstand anders as voriges. Maduro kan waarskynlik nie alte rustig slaap nie.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Rubrieke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.