Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is diegene wat wel swaar trek, dan hónde in hul oë?

Ek oorreed Hein Adley (67) om met my te gesels in die nederige ure terwyl ons tydens vlak 4-dae op straat mag wees. Ons is gemasker en stap om straatblokke terwyl hierdie rietskraal man diep sake praat. Want inperking het hom hard geslaan.

Hein se Sassa-geld betaal sy huur. Dis nou vir die langerige kamer wat sit- en slaapplek bied, met ’n kombuis wat slegs uit ’n kassie met ’n waskom bestaan.

Hy deel ’n badkamer met ’n buurman, ingedruk tussen hul lang kamers. Hy verduidelik hul stelsel om privaatheid in hierdie muf plekkie te verseker, maar my ore slaan toe midde-in die oormaat eenvoud.

In goeie maande hou sy aftree-job hom aan die lewe. Dis die minibus wat hy vir ’n toermaatskappy bestuur en soms sal hy vir ’n skooluitstappie busry. Van hierdie inkomste kan hy kos koop, maar daar’s nêrens ruimte vir vermorsing nie.

Ek maak heel maand sommetjies in my kop. Elke twee jaar, wanneer ek die wit lisensie moet hernu, ja-ja, die PDP, het ek probleme, sit ek nooit die geyser aan nie, want die lisensie kos amper R400.

“Ek maak heel maand sommetjies in my kop. Elke twee jaar, wanneer ek die wit lisensie moet hernu, ja-ja, die PDP, het ek probleme, sit ek nooit die geyser aan nie, want die lisensie kos amper R400.”

Hein is pynlik ingelig oor die politieke situasie in die land. Uit gewoonte; en noodgedwonge. Want eers wanneer die toerismebedryf lostrek, sal die benoudheid rondom sy strotteklep weer skietgee, beduie hy onder sy potsierlike pers gesigmasker.

Hy kan nie bekostig om kieskeurig te wees nie.

“Wat die seerste maak, is dat my werkgewer my nog nooit gebel of gevra het of ek regkom nie. Ek’s weggesmyt. Seker bang ek vra hom geld.”

Dis asof die lewe hom nog net altyd die rugkant toegekeer het: Te jonk getroud, ná die “onverwagte” egskeiding verplig om so baie te betaal aan ’n eks wat niks waardeer nie.

“Ook nooit die kinders geleer om ‘dankie hond’ te sê nie. Eerder stringe verwyte.

“Daarom wou ek nooit weer trou nie. Maar dit werk toe ook nie uit nie, want elke meisie wat my los, trek weg met als wat ek het. Eenkeer net my skoene daar gelos. Skoene wat onder die weggeryde bed gestaan het.”

Als is wel wanneer ek met ’n toerbussie rondry; tussen vrolike mense in ’n vakansiebui, vol geselsies.

Saam met beperkte lewensmiddele het die lewensmoed ook gekrimp. Só dat Hein homself beloof het om nooit weer te skrik vir ’n bietjie eensaamheid nie, hy sou vir altyd alleen bly.

“Als is wel wanneer ek met ’n toerbussie rondry; tussen vrolike mense in ’n vakansiebui, vol geselsies. Sommige bring vir my middagete bussie toe – burgers en chips, kos wat ek net ruik as ek verby ’n kafee stap. Dan bêre ek vir my daarvan, om die volgende oggend iets anders as pap te kan eet.”

Eers wou hy nie glo dat die koronavirus verminderde toere kan veroorsaak nie. “Ek het heeltyd gedink aan die grappie wat sê, ‘Ek kan nie nog ’n krisis bekostig nie, my dag is reeds volgeboek.’

Kort voor inperking inskop, kry hy daardie WhatsApp: “Jammer ou pel, geen toere meer nie tot wie weet wanneer. Kom ons hoop Prins-toere* kan gou weer voortgaan.”

“Geen betaling vir my laaste rit nie. Geen reaksie as ek daarvoor vra nie. Dit lyk hy het my geblok.”

Daai grompot buurvrou het vir my die masker gegee, plus ’n halfgesnyde seep. Seker meer vir haar eie veiligheid as vir my.

Dis dag 63, sê ek. Hoe het jy reggekom tot nou? “Gelukkig het een vriend so twee keer ’n sak vol kos gebring. Groot redding. Ek moes leer om myself tevrede te hou. Weet jy watter troos was twee groen piesangs in die sak? Die versekering daar is iets vir volgende week!”

Hein lees graag koerante in die biblioteek, maar weens lockdown stap hy deesdae winkel toe om daar koerantopskrifte te beloer.

“Daai grompot buurvrou het vir my die masker gegee, plus ’n halfgesnyde seep. Seker meer vir haar eie veiligheid as vir my.

“Een buurman het kom sê hy’t nie geld nie, maar hy’t data vir my. Met die vermaning om dit versigtig te gebruik, dit kan opraak.

“Vrydag, toe ek weer moet kies of baked beans of two-minute noodles aandete sal wees, stuur iemand vir my ’n link. Ek maak dit vinnig oop met die present data. Weet jy hoe beledig voel mens oor die Sassa-mense so nevermaaind werk om daardie klein bietjie ekstra geld – R350 – uit te sorteer?

“Is ons wat swaar trek dan hónde in hul oë?”

*Skuilnaam

  • Die regte term is PrDP, maar in volksmond steeds PDP vir ’n openbare bestuurspermit.
Meer oor:  Werkloosheid  |  By  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.