Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is dit dan nie infantilisme opgedis as pret?
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

’n Bekende vrouetydskrif nooi lesers en ander belangstellendes om ter viering van Vrouedag in hul duisende by fliekteaters landwyd op te daag om na The Lion King te kyk.

Bring asseblief ook niebederfbare kos saam as deel van die fondsinsameling en, laastens, dames, daag asseblief op in jul nagklere. Want ’n wêreldrekord word nagejaag vir die meeste vroue wat tot nog toe in hul pejakkies gaan fliek het.

By monde van Phillip Bruwer, woordvoerder van Helpende Hand, word vroue versoek om in hul onesies op te daag en onder meer só ’n verskil in ’n kind se lewe te maak. Ek slaan summier in ’n koue sweet uit met die lees daarvan; slaak ’n sug van diepe verligting toe dit blyk nie een van die rolprentteaters in die Laeveldse geweste neem blykbaar deel hieraan nie.

Maar dit laat my met ’n handvol vrae.

Waarom, o waarom wil ’n mens in pajamas fliek toe gaan? Ieder geval behoort onesies myns insiens verbied te word vir enigeen ouer as twee jaar (dit is met goeie rede ook bekend as ’n kruipertjie of ’n babygrow).

Vir wat is daar so ’n simpel wêreld­rekord? Kon dit nie eerder een wees soos hoeveel vroue landwyd op ’n spesifieke dag by sorgsentrums opdaag om oorwerkte personeel ’n brood­nodige blaaskans te gee nie? Of bedlêendes se voete te gaan was en toonnaels te knip nie?

Waarom, o waarom wil ’n mens in pajamas fliek toe gaan?

Grens dit nie aan infantilisme (toestand waarby die liggaam en/of gees tot in die jare van volwassenheid bly soos dit in die kinderjare was) wat opgedis word as pret nie? Kyk maar: Is daar ’n ma-en-dogter-dag, dan moet Mams en Sus mos alewig eierresies hol of ’n appel uit die meel vis met hul mond terwyl Paps en Boet gaan kamp en jag en ander dergelike avonture aanpak.

Presies so was dit toe oudste destyds as matriekkoshuiskind met die uitnodiging opdaag dat alle moeders ’n aand in die koshuis moet oorslaap om ’n hegte band met haar dogter te smee en tegelyk weer die wonder van kussing­gevegte en middernagfeeste te herontdek.

Gelukkig was daar voor die tyd ’n doodgewone ete in ’n doodgewone restaurant voordat ons met pejakkies en al ons intrek sou neem in die koshuis. En gelukkig hoor ek toe hoe beplan ’n klomp vroue van 40-plus hoe hulle die klok voor die seunskoshuis gaan lui en “dalk vang hulle ons”!

Net daar verklaar ek die band tussen my en oudste as heg genoeg en sê sy moet dit geniet om 17 jaar oud te wees; ek was dit reeds, dankie.

Jongste het nooit eens gebodder om die uit­nodiging in haar jaar te oorhandig nie.

Dit sou soveel meer beteken het om iets sinvols aan te pak met die jong vroue wat ons groot­gemaak het. En hulle veral te leer van liefdadigheid wat jy enige tyd, enige plek en op jou eie kan doen, sodat die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Vrouedag  |  Pajames  |  Lion King  |  Infantilisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.