Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
TRUMP: Is dit die einde van fopnuus en Twitter-diplomasie?

Is die verkiesing van Joe Biden en Kamala Harris in Amerika ’n waarborg dat die Westerse wêreld nie weer in ’n spiraal van leuens en onsinnighede vasgevang sal word nie? Of kan ’n tweede Donald Trump in die toekoms verrys? vra Liesl Louw-Vaudran.

’n Jolytmaker hou ’n plakkaat omhoog nadat die Demokrate se kandidaat, Joe Biden, Saterdag die presidensiële verkiesing in Amerika gewen het Foto: Getty Images

In die mini-reeks Years and Years vertolk Emma Thompson die rol van Viv Rook, ’n regse Britse politikus wat met haar werkersklas-aksent en opruiende toesprake daarin slaag om tot die Britse eerste minister verkies te word.

Dit is die jaar 2025 en Donald Trump het pas sy tweede termyn in die Withuis voltooi.

Viv het geen werklike politieke beleid nie. Sy wil Brittanje weer “great” maak en blameer die res van die wêreld vir alles wat skeefloop.

Sy verdraai die waarheid links en regs, en weier om onderhoude toe te staan. Sy praat net via haar eie TV-kanaal en dus kan niemand haar direk aanvat nie.

Eintlik wil ek net my CNN vir ’n rukkie afsit en hoop dat ek nooit weer Donald Trump se gesig sien nie.

Die uiteinde is skrikwekkend.

Met die gebeure in Amerika die laaste paar dae kan ’n mens ’n sug van verligting slaak en tydelik van sulke beelde van onheil wegdraai.

Eintlik wil ek net my CNN vir ’n rukkie afsit en hoop dat ek nooit weer Donald Trump se gesig sien nie.

Maar is die verkiesing van Biden en Harris ’n waarborg dat die wêreld – die Westerse wêreld soos ons dit tot nou toe ken – nie weer in ’n spiraal van leuens en onsinnighede vasgevang sal raak nie?

Kan ons hoop op versoening?

Trump het gedink mense sal enigiets glo solank jy dit net aanhou in hoofletters en met uitroeptekens op Twitter uitbasuin.

Hy het diplomasie nek omgedraai deur sy verhoudinge met ander lande in ’n paar sinne uit te spoeg en dan te hoop sy eweknieë elders sal terugdeins. Sy houding het internasionale verhoudinge omskep in ’n skreeugeveg onder leiers wat nie ’n duit vir samewerking of wêreldvrede omgee nie.

Die verkose Amerikaanse president, Joe Biden, spreek Saterdag die Amerikaanse nasie toe in Wilmington, Delaware nadat hy die huidige president, Donald Trump, in die presidentsverkiesing verslaan het. Foto: Getty Images

Biden hoop om die land weer op die regte pad te kry deur terug te keer na redelikheid, respek vir waardes en vir die waarheid. Hy wil kundiges aanstel om probleme soos die Covid-19-pandemie te probeer oplos.

Sy eerste beleidstoespraak dui op toenadering en versoening. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan in ’n land wat weens die afgelope vier jaar se bitter twis en konflik diep verdeel is.

“The land of the free and home of the brave” het diep teleurgestel.

Op internasionale terrein sal Biden weer Amerika se beeld moet herstel, maar dit gaan moeilik wees. Mense oor die wêreld heen het hul vertroue in Amerika as ’n toonbeeld van gelykheid en demokrasie verloor.

“The land of the free and home of the brave” het diep teleurgestel.

’n Nuwe Donald Trump?

Vir sommige regerings in Afrika het China nou eerder die model van ontwikkeling en doeltreffendheid geword. Dit is nie heeltemal ’n slegte ding nie, aangesien dit Afrikane – wat nietemin sterk vasklou aan demokratiese vryhede – nou dwing om hul eie kop te volg en nie modelle elders slaafs na te volg nie.

Liesl Louw-Vaudran

Om die ideologiese debat tussen Oos en Wes te navigeer is nie maklik nie, maar as almal saamstem oor die feite is dit beslis makliker. Hoe stewig is Amerika se demokrasie? En wat beteken China se uitbreiding eintlik vir Afrika?

Die Viv Rooks van hierdie wêreld kan vir jou enige storie spin en mense sal dit glo, selfs al het hulle met hul eie oë die teendeel gesien.

In een episode word die karakter Stephen Lyons gedwing om te erken dat die kernontploffing wat sy suster beleef het, dalk nie regtig gebeur het nie. Hy is desperaat vir ’n werk by die Viv-ondersteuners en sy ontken daar was ooit so ’n ontploffing.

... anders sal ’n nuwe Donald Trump in die toekoms verrys wat dalk baie erger kan wees as die een vir wie ons nou (genadiglik) totsiens sê.

Gewone burgers het geen voet op te staan in so ’n situasie nie.

Maar wie sal dan verseker dat die regte feite bevestig word? Twitter se nuwe sogenaamde feite-waghond? Ek hou nie my asem op nie.

Sterk onafhanklike instansies en geloofwaardige media-organisasies moet eerder daardie rol oorneem.

Die Biden-span en ander regdenkendes oor die wêreld heen sal hiervan moet werk maak, anders sal ’n nuwe Donald Trump in die toekoms verrys wat dalk baie erger kan wees as die een vir wie ons nou (genadiglik) totsiens sê.

*Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings in hierdie rubriek is haar eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Joe Biden  |  Liesl Louw-Vaudran  |  Donald Trump  |  Twitter  |  Leuens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.