Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is dit ’n beter benadering tot die pandemie?

Suid-Europese lande het weens die snelle opmars van die Covid-19-virus polisiestate geword – voorlopig, altans.

In Frankryk, Italië, Spanje en Portugal mag niemand sonder ’n geldige rede buitenshuis wees nie. Jy moet ’n ingevulde vorm by jou hê waaruit blyk dat jy noodsaaklike lewensmiddele gaan koop of op pad werk toe is of so iets.

Tienduisende gewapende polisiebeamptes en soldate patrolleer die strate en beboet jou summier as dit blyk jy het byvoorbeeld net ’n entjie gaan stap.

Die ervaring in China, waar dergelike drakoniese maatreëls ook getref is, wys dat dit die verspreiding van die virus tydelik kan stuit.

Maar die vrees is dat die opmars hervat word die oomblik dat hierdie maat­reëls verslap word. Weens die rampspoedige uitwerking op die ekonomie kan dit immers nie onbepaald gehandhaaf word nie.

In Nederland en Duitsland is die benadering op die oog af soepeler en intelligenter. Daar is die algemene uitgangspunt dat die lande verby die stadium is dat die virus gekéér kan word – hy kóm, en hy kóm onherroeplik.

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, het ’n paar dae gelede gesê tot 70% van die bevolking sál met die virus besmet word.

Die Nederlandse en Duitse benadering berus op die feit dat die sterftesyfer nog betreklik laag is – en dit tref hoofsaaklik oues van dae of mense wat al klaar weens siekte verswak is. Normale, gesonde mense met ’n gewone afweerstelsel word wel siek, maar dan is dit meestal soos ’n verkoue of ligte griep.

Die benadering berus voorts op die feit dat byna almal wat besmet is daarna immuun is. Dus kom dié strategie nie neer op ’n futiele poging om die virus te probeer stuit nie, maar om dit op ’n beheerde manier te laat versprei en terselfdertyd die kwesbare groepe te beskut.

Intussen, tot tyd en wyl dit blyk of dié strategie suksesvol is, ly ook die Duitse en die Nederlandse ekonomie onder die feit dat die openbare lewe byna tot stilstand kom.

Die idee is dat wanneer die virus die sterk, gesonde deel van die bevolking geraak het, meer as 95% van al die mense immuun sal wees. Hulle vorm dan ’n ondeurdringbare skans, wat verdere verspreiding keer.

Ná ’n paar maande sal die virus dan vanself uitsterf. As byna almal immuun is, kan niemand meer aangesteek word nie.

Intussen, tot tyd en wyl dit blyk of dié strategie suksesvol is, ly ook die Duitse en die Nederlandse ekonomie onder die feit dat die openbare lewe byna tot stilstand kom.

Restaurante, flieks, kerke – alles staan leeg. Maar mense is vindingryk. Kerkdienste word al gehou met wat as live streaming bekend staan. Almal wat kán, werk tuis. Inkopies word aanlyn gedoen en tuis afgelewer. Die kerke koördineer hulp vir bejaardes sodat die beskikbare vermoëns optimaal benut word.

’n Rubriekskrywer in De Volkskrant (Amsterdam) noem verskeie voorbeelde van hoe mense mekaar in dié moeilike tye bystaan. Sy sluit dan haar rubriek af: “Lank lewe óns!”

Meer oor:  Wêreldburger  |  Leopold Scholtz.  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.