Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is dit omdat ons bruin is?

Die onlangse rassebotsing by die Hoërskool Brackenfell en ander rasverwante verwikkelings, het bruin-wees opnuut in die spervuur laat beland, skryf Heindrich Wyngaard.

EFF-ondersteuners betoog Vrydag in Brackenfell. Foto: Adrian de Kock

“Ondanks die feit dat moderne navorsing by herhaling aangetoon het dat daar nie iets soos ‘rasse’ onder die mensdom bestaan nie, vind dit steeds neerslag in ons politiek, ons woonbuurte en die manier waarop ons oor onsself praat en dink,” skryf Jurie van den Heever, ’n paleontoloog, en Chris Jones, ’n teoloog, verlede week.

Die afgelope ruk was dié mondvol glas weer aan die orde van die dag. Hier by ons is ras immers steeds ’n werklikheid, ’n emosionele debatspunt en ’n albatros om die nek van die Suid-Afrikaanse samelewing – 70 jaar nadat die Bevolkingsregistrasiewet van 1950, ’n hoeksteen van apartheid, inwerking gestel is om elke landsburger volgens ’n spesifieke rasgroep te klassifiseer, herklassifiseer of as “ander” te tjap as die persoon se oorsprong en voorkoms dit onmoontlik gemaak het om hom of haar te kategoriseer.

Wat drie dekades nadat die wet in 1991 afgeskaf is, nie ontken kan word nie, is dat bruin mense in die besonder hard deur die bepaalde wetgewing getref is. Sommige families is middeldeur geskeur deurdat die een helfte as bruin en die ander as wit of swart geklassifiseer is; óf die een kind van dieselfde egpaar wit, die ander bruin.

“Die wet het bruinmense baie pyn veroorsaak,” sê Danie van Wyk, voorsitter van die Doman, Autshomao en Krotoa Netwerk (DAK).

Sedertdien is dit nogmaals bruin-wees wat dikwels onder die loep kom wanneer daar oor ras koppe gestamp word, soos ook die afgelope ruk die geval was. Die stimulus is gewoonlik geskiedskrywing, wetenskaplike navorsing of politieke bewussyn; die respons wissel van selftrots tot empatie tot uittrap. In die ruimte tussen-in, vind jy die land se tweede grootste bevolkingsgroep – nagenoeg 5 miljoen siele – wat hulself as “bruin mense” klassifiseer, ’n doodsonde na sommige (ander) se mening.

’n Groep met ’n belangrike rol

Ouers en ondersteuners van die EFF argumenteer met mekaar tydens die eerste betoging in Brackenfell met die polisie wat hulle uitmekaar probeer hou. Foto: Jaco Marais

Die reëlmaat waarmee bruin-wees of bruin identiteit egter ’n besprekingspunt is, dui op die belangwekkende rol van dié groep in Suid-Afrika. Net die afgelope week nog het Van den Heever en Jones in hul betoog in die Afrikaanse pers – dat raskategorieë summier verwyder moet word – verwys na twee onlangse gevalle waar bruin-wees die middelpunt was.

Die een is oor die navorsingstuk by die Universiteit Stellenbosch oor bruin vroue se kognitiewe vermoëns, wat in April verlede jaar groot opspraak gewek het en tot beskuldigings van “intellektuele rassisme” gelei het; die ander was die meer onlangse geval oor die “bruin” onderwyser Glen Snyman wat geweier het om hom op ’n werkaansoek as sodanig te klassifiseer omdat hy as “African” self-identifiseer.

Hieroor het die DAK Netwerk ook sy stem verhef: dat Snyman aanvanklik van bedrog aangekla is, was “absurd” en “grens aan die belaglike”, het Van Wyk gesê namens die organisasie – ’n organisasie “wat kwessies van bruin mense aanspreek”.

So, wat staan jou te doen wanneer amptelike vorms jou ras vereis? Ons behoort dan, aldus Van den Heever en Jones, 'net ‘mens’ in te vul'. Die mat sal só summier uitgetrek word 'onder een van die voorheen sterkste kriteria om teen mense te diskrimineer'.

In navolging van dié bestaansrede, het Van Wyk verlede naweek by DAK se jaarlikse toekenningsgeleentheid, waar hulde gebring is aan mense wat ’n verskil in die gemeenskap maak, aangekondig dat ’n beraad oor die kwessie van rasseklassifikasie vir vroeg in die nuwe jaar beplan word.

’n Mens kan seker aanneem dat daar by dié geleentheid nie net gesanik sal word oor die “ondier” van hedendaagse rasseklassifikasie nie, maar ook gedink sal word oor hoe om die “skoonheid” van historiese regstelling sonder ras as bepalende faktor bereik kan word.

Dit het onder hierdie skrywer se aandag gekom dat die Menseregtekommissie ook tans aan ’n strategie werk om die voortgesette gebruik van rasseklassifikasie van die wetboek te laat verwyder; of dan ten minste ’n meer genuanseerde toepassing daarvan te bewerkstellig vir die doel van regstelling.

Van den Heever en Jones se standpunt oor “rassekategorieë” is duidelik, maar dit spreek ook nie die ras-vir-regstel-dilemma aan nie. Rassekategorieë, skryf hulle, “behoort van alle amptelike vorms, bepalings en wetgewing verwyder te word”. Wat hulle betref bestaan daar in elk geval slegs een ras op aarde – “die menseras”.

So, wat staan jou te doen wanneer amptelike vorms jou ras vereis? Ons behoort dan, aldus Van den Heever en Jones, “net ‘mens’ in te vul”. Die mat sal só summier uitgetrek word “onder een van die voorheen sterkste kriteria om teen mense te diskrimineer”.

Die verskil is weliswaar dat dié kriteria nou gebruik word (noodsaaklik is?) om uitvoering te gee aan die verpligting, wat in die Grondwet verskans is, op die demokratiese regering om, soos wat pres. Cyril Ramaphosa dit verlede week in die Nasionale Vergadering uitgespel het, stappe te doen waardeur voorheen benadeeldes op gelyke voet gebring word met hul landgenote “wat deur die vorige regime bevoordeel is”.

Dit was in reaksie op die DA se afkeer van die gebruik van rasgegronde wetgewing.

Bruin mense as ‘deputy whites’

Heindrich Wyngaard

Ondanks Van den Heever en Jones se eie ongemak oor ras, wonder hulle hoekom daar steeds soveel “rasgegronde” voorvalle oor die hele wêreld heen plaasvind. En: “Rassediskriminasie bly ’n wêreldwye verskynsel.”

Maar hulle vat ook nie die uitdaging aan van hoe regstelling anders gedoen kan word nie, terwyl die DA darem ’n alternatief bied, naamlik dat dit op grond van omstandighede eerder as ras moet geskied. Nierassigheid is mos nou die party se amptelike beleid.

Nou weet ek net nie of ’n mens dan verbaas moes wees toe die party se hoofsweep, Natasha Mazonne, begin verlede week gekap het na die EFF-LP Nazier Paulsen oor sy “neerhalende en aanstootlike” Facebook-inskrywing wat onder meer lui: “[N]othing beats taking the p**s out of white people’s brown pets”. Maar Paulsen het hom bereid verklaar om Mazzone die stryd aan te sê omdat sy glo buite konteks – en verkeerdelik – sou aanvoer dat hy álle bruin mense beledig het.

Selfs al het hý dit nie gedoen nie, het EFF-ondersteuners nie teruggehou in hul kritiek op bruin gemeenskapslede se teenwoordigheid aan die sogenaamde “wit” kant van die onlangse rassebotsing by die Hoërskool Brackenfell nie. Talle twiets uit swart geledere het na bruin mense as “deputy whites” verwys, want hoe durf hulle saam met wit inwoners staan teen swart (skoorsoekende) protesteerders?

Hoe meer daar dus stemme van protes opgaan teen die voortgesette gebruik van ras in ons samelewing, “vind dit steeds neerslag in ons politiek, ons woonbuurte en die manier waarop ons oor onsself praat en dink”, soos Van den Heever en Jones dit in hul artikel stel.

Dit is dié vermengdheid wat dikwels tot verwarring lei en wat ruimte laat vir die EFF’s en ander om bruin mense weens hul unieke diversiteit – én denke – as onseker oor hul herkoms of hul staanplek in die hedendaagse Suid-Afrika verdag te maak.

“Etnisiteit lyk vir ons na ’n bruikbare en waardevolle plaasvervanger vir die r-woord,” skryf hulle, “maar dan moet dit uit die oogpunt van ’n spesifieke maatskaplike taksonomie beskou en beskryf word – en beslis nie ‘ras’ nie!”

Taksonomie, aldus die Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe, is sinoniem met die definisie van familie, naamlik ’n groep van twee of meer individue wat afstam van ’n gemeenskaplike voorouer.

Die bruin mense wat hulself as sodanig identifiseer, beroep hulle gewoonlik op die verbintenis van afstammelingskap van die oorspronklike inwoners van die land en dié se “vermenging” met ander groepe van ’n ander “spesifieke maatskaplike taksonomie”.

Dit is dié vermengdheid wat dikwels tot verwarring lei en wat ruimte laat vir die EFF’s en ander om bruin mense weens hul unieke diversiteit – én denke – as onseker oor hul herkoms of hul staanplek in die hedendaagse Suid-Afrika verdag te maak.

Maar soos die (bruin) kunstenaar Lady Skollie gesê het in ’n onderhoud oor haar keuse van ontwerp vir die nuwe R5-muntstuk – Khoisan-figure wat in ’n krullende tou staan en wag, soos met die 1994-verkiesing: “Om Kleurling [sic] te wees, is baie kompleks en dis baie moeilik en dis baie crazy. Ons staan al hoe baie jare in ’n queue.”

Geduldig en gemaklik in ons bruin vel.

* Wyngaard bied aktualiteitsprogramme op kykNET en RSG aan. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Eff  |  Chris Jones  |  Cyril Ramaphosa  |  Jurie Van Den Heever  |  Brackenfell  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.