Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is dit polities reg om aan die verlede te dink?
Martie Retief Meiring

Op die sypaadjie voor ’n gebou staan ’n opgestapelde toring gebruikte baddens. ’n Kunsinstallasie? Dalk ’n monument vir ’n verlede? Toe mense nog gebad het.

Selfs in Gauteng, waar water volop is, bad mense nie meer nie. Daar is te min tyd vir bad. Nie soos die Kapenaars wat uit waternood ’n bad vol water as ’n misdaad teen die mensdom beskou nie.

Hoeveel badkamers hét nog baddens wat regtig gebruik word?

Is ’n bad deesdae ’n kapitalistiese oordadigheid, ’n teken van morele ongevoeligheid, les bes ’n uitgediende tydrowende gebruik? Wat máák jy tog met hierdie ellendige luukse?

Natuurlik kan jy van ’n ou bad wat nog van yster gemaak is, ’n stuk uit die kant sny en ’n ougat tweesitplekbankie daarvan maak. Of jy kan dit in die jaart gaan gooi vir ou gereedskap waar roes dit sal opvreet.

Tye verander. Jy raak vies vir al die huidige “so maak ’n mens”-dinge. En so sug jy na ’n onbeskofte, groot, gekraakte ou leerleunstoel. Of na ’n kamerwydte lessenaar waarvan die handvatsels al afgeval het. Of jou groottante se sisbankie, só diep al uitgesit dat die sitter daaruit opgetrek moet word.

Hoeveel badkamers hét nog baddens wat regtig gebruik word?

’n Landsreisiger vertel dat feitlik elke verrinneweerde, amper verlate dorpie in die land darem nog ’n winkeltjie het waar jy kitskoffie en “ougoed” kan koop. Die grootste aanbod is afgeskerfde enemmelbekers, -bakkies of -potte. Daar is tans ’n aanvraag na groot enemmelkoffiekanne, vertel ’n winkelier op Queenstown hom.

My vriendin se memorabilia sluit in ’n bakkie met ’n sepiatekening van die Voortrekkermonument daarop (haar ma het ses van hulle gehad).

Sy koester hierdie oorblywende kleinood. En hoewel dit nie in ’n glaskas uitgestal word nie, sluimer dit rustig in ’n donker kas vol “ougoed” met onder meer ’n kamerpot versier met bal­dadige rose.

Dis nou wel ’n moewiese probleem om oupa se portret in die diep, groot houtraam iewers geparkeer te kry. Tans onder die bed in ’n tas met ’n ingekleurde (om liefdeswil) foto van iemand se grootouers.

Tyd en dae sou jy ’n huis se politiek dadelik kon eien aan óf ’n foto van Jan Smuts óf een van D.F. Malan. Laat staan die “verraad” van die Ford of Chev in die waenhuis.

’n Rustige, geleerde huis was selde sonder die piëteit van ’n bronsafdruk van Dürer se hande. Ag, en ai toggie, daardie bootvormige cut glass- vrugtebak op die sideboard.

Nou wonder ek: Is dit polities korrek of is dit AfriForum-korrek of is dit hoegenaamd sielkundig korrek om nou en dan te gaan sit en dink aan die verlede? Hemeltjie tog, behoede my dat ek nou ’n verlange moet kry na ’n Voortrekkermonument-bakkie.

’n Vriendin span die kroon toe sy vra of dit nog polities oukei is om sagopoeding voor te sit. Ek sê toe maar: “Ag, jou . . . tant Alie.”

Meer oor:  Tas  |  Ougoed  |  Verlede  |  Bad  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.