Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is dit regtig wat vroue wil lees (en wees)?

E-erotika is veral in die inperkingstyd ’n gewilde literêre genre. Maar, skryf Carla Lewis, vroue moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir die soort inhoud wat hulle in hul fantasiewêreld innooi.

Dis ’n voorblad wat jou amper laat terugverlang na die dae van die langhaar-Botticelli-babe met die deinende boesem, vasgeklem teen die gebeitelde borskas van ’n Lothario.

Ten minste het die heldinne op die Mills & Boon- en Barbara Cartland-slapbande gelyk of hulle daar wóú wees en die hartebreker hul belangstelling geprikkel het.

Op die voorblad van Lapa-uitgewers se erotika-e-boek Roekeloos deur Christelle Woudberg ontmoet ons vir Storm.

Hy is ’n gespierde blink Stefaans en kryger wat ingedagte op ’n stoel sit, met twee vrouebene wat oor sy skouers hang.

Die eienaar van die bene, lig die reklameteks ons in, heet Zara: ‘‘ ’n onafhanklike, standvastige vrou”.

Die e-boek het vandeesweek omtrent ’n herrie op sosiale media veroorsaak.

’n Klassieke slapband-hygroman, met ’n swymelende heldin en ’n breëbors-hartebreker.

Op Marita van der Vyver se Facebook-blad het Afrikaanse vroueskrywers en akademici goed uitgepak oor die voorblad wat arme Zara tot ’n identiteitlose voorwerp van seksuele plesier verminder.

Om te ontsnap

Jou eerste reaksie is inderdaad om alles wat jy in feministiese kritiese teorie geleer het hier bloot te lê: die stroping van die vroulike identiteit deur haar nie net gesigloos nie, maar sommer torsoloos te laat. En hoe die sogenaamde male gaze grillerig oor daardie paar agterstewe gly.

Benewens dit het ek soveel ander vrae.

Wat maak Storm op daardie stoeltjie wat lyk asof dit met tamatieplankies aanmekaar getimmer is?

Neem hy ’n blaaskans?

Het Zara te swaar geword?

In in daardie geval, kon sy nie maar op sy skoot gesit het nie? Om so koponderstebo te hang lyk maar baie ongemaklik.

Toe ek die voorblad vir ’n vriendin stuur om haar mening te hoor, vra sy: “Is dit ’n hygroman of misdaadfiksie? Ek weet nie of die kêrel haar wildste fantasieë gaan bewaarheid, of planne maak om van die lyk ontslae te raak nie.”

Voor ons egter ons eksemplare van The Feminine Mystique en The Female Eunuch afstof en na ons notas van literatuurwetenskap gryp om die voorblad te ontleed, moet ons dalk net diep asem haal.

Ons lees in elk geval nie dié tipe boeke deur ’n postmoderne, kritiese lens nie.

Ons lees dit vir ontsnapping en prikkeling.

Dis net so goed jy probeer ’n bloufliek ontleed met alles wat jy in filmstudie en -teorie geleer het.

Die voorblad van Roekeloos.

Ek verstaan verskillende boeke en genres het verskillende teikenmarkte. Ek wil nie ’n oordeel vel oor vroue se keuse van leesstof of polities korrekte polisievrou oor hul seksuele fantasieë en leefstylkeuses speel nie.

In ’n tydperk waar uitgewersmaatskappye geld bloei, moet vindingryke uitgewers ook nuwe vorme van inkomste identifiseer.

E-erotika gedy. Amazon kan nie voorbly nie met die aanvraag na e-boeke waar daar in die inperkingstyd gehyg en geswymel word. Mense, en veral vroue, soek nou ontsnapping. Plaaslike uitgewers sal dwase wees as hulle nie ook die literêre tendens aangryp nie.

Maar ’n mens hoef nie ’n module in literatuurwetenskap 101 te hê om te besef hierdie voorblad is nie oukei nie.

Waar is Zara se gesig?

Dis te verstane dat vroue nou fantaseer oor ’n man wat ons soos ’n streepsak mielies oor sy skouer gooi, ons ’n voorwerp van sy begeerte en seksuele plesier maak.

En ons kan neem na ’n plek waar ons nie hoef te dink oor kinders se huiswerk, tuisonderrig, aandete, wie die skottelgoed gaan was, en ons belastingopgawes nie.

Ek verneem ook die voorblad is eers aan ’n fokusgroep van die veronderstelde teikenmark voorgelê, wat glo algeheel positief op Storm, sy stoeltjie en Zara se bene gereageer het.

As moderne, bevryde vroue kan ons deesdae verantwoordelikheid aanvaar vir ons eie genot en voorkeure, wat ons lees en kyk om geprikkel te word, wie ons minnaars en minnaresse is.

Carla Lewis

Maar ons moet ook besef dat daar vroue is wat dié regte nog ontneem word.

Suid-Afrika sit met die hoogste vlakke van verkragting, gender- en huishoudelike geweld in die wêreld.

Om so ’n voorblad vir ’n hyg­roman te kies is nie net onverantwoordelik nie, maar ook toondoof.

Die belangrikste element van enige goeie seksuele ervaring – entoesiastiese, wedersydse instemming – skitter hier in sy afwesigheid.

My vriendin se opmerking of die boek onder misdaadfiksie of erotika hoort, onderstreep dit.

Daar kan nie in enige seksuele materiaal enige onduidelikheid wees of ’n vrou teen haar wil daar is nie. As ek miskien net Zara se gesig kon sien, waar sy wellustig en grootoog na Storm staar, sou ek reeds meer gemaklik gevoel het.

Verantwoordelik vir jou en ander

Dus, liewe liefhebber van erotika, praat ek vandag met jou . . . Net soos ek met ’n vriendin sal gesels wat met ’n twyfelagtige moegoe deurmekaar is en my probeer wysmaak “dat hy haar nou nie so goed behandel nie, maar dat dinge tussen die lakens kookwater is”.

Ek gaan beslis nie vir haar ’n keurspel van Betty Friedan en Germaine Greer se werke in my boekrak uitsoek sodat sy haar selfwaarde as vrou kan ontdek en meer bekend word met feministiese literatuur nie.

Ek gaan prontuit vir haar sê: “Jy verdien beter as dit en jy mag en moet op beter aandring. Nie net vir jouself nie, maar ook vir ander vroue.”

Ons verdien nie ’n javel wat lyk asof hy naweke in hole uithang en swartmark-gim-aanvullings vir ’n ekstra inkomste smous nie.

Ons verdien beter voorblaaie – al word die boek in elektroniese formaat gepubliseer – wat nie lyk asof dit uit ’n fotografiediens se winskopie-argief opgediep is nie.

En ons hyg-heldin verdien beslis ’n gesig wat wys dat sy orraait is daarmee om oor haar beminde se skouer geslinger te word en dat sy uitsien na wat hy ook al volgende beplan.

  • Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Inperkingstyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.