Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is dit vryheid van spraak?
Gert van der Westhuizen

Die stilswye wat Twitter en Facebook Donald Trump in die doodsnikke van sy omstrede termyn as president van die VSA opgelê het, het talle vrae oor die begrip “vryheid van spraak” laat ontstaan.

Min daarvan is nuut omdat vryheid van spraak lank reeds ’n onderwerp is wat politici, regerings en menseregte-aktiviste besig hou.

Daar is ook talle voorbeelde in die geskiedenis waar vryheid van spraak onderdruk is, soms op wrede maniere.

Dink maar aan die Sowjetunie en aan Nazi-Duitsland, waar boeke in die openbaar verbrand is en andersdenkendes in konsentrasiekampe beland het.

In Suid-Afrika was vryheid van spraak ook iets waaraan ons nie voor 1990 gewoond was nie.

Die apartheidsregering het nie net boeke, koerante en rolprente verbied nie, maar ook probeer om ideologieë en selfs mense te verban.

Die apartheidsregering het nie net boeke, koerante en rolprente verbied nie, maar ook probeer om ideologieë en selfs mense te verban.

In sommige dele van die wêreld is egter besef dat vryheid van spraak nie absoluut kan wees nie en dat dit nie gebruik kan word om haat teen sommige groepe te predik nie.

Daarom is dit vandag in Duitsland en Oostenryk ’n misdaad om die Joodse volksmoord te ontken.

Met deesdae se sosiale media is dit natuurlik nie altyd so maklik om die verspreiders van haat en verdeeldheid aan bande te lê nie. Mense is geneig om op sosiale media te sê net wat hulle wil. Hulle kan ander beledig en allerhande stories versprei sonder om dit met feite te staaf en daarvoor gestraf te word.

Dit is verstommend en kommerwekkend om te sien wat op sosiale media aangaan.

As jy nie met iemand saamstem nie, probeer jy nie om ordentlik met hulle debat te voer nie. Nee, jy beledig hulle bloot en sweep ander teen hulle op.

Deesdae dink enigiemand met ’n Twitter-rekening en slimfoon dat hy of sy joernalis kan speel.

Is dit vryheid van spraak?

Deesdae dink enigiemand met ’n Twitter-rekening en slimfoon dat hy of sy joernalis kan speel, met die gevolg dat ongegronde stories versprei en deur liggelowiges vir soetkoek opgeëet en verder aangestuur word. Dit kan, en het al, in die onsekere tye waarin ons leef, tot paniek en wantroue gelei.

Is dit vryheid van spraak?

Trump weer, het al van lank voordat hy president van die VSA geword het, blatante leuens, soos dat oudpres. Barack Obama nie in Amerika gebore is nie, op veral Twitter versprei. Dit het bygedra tot die alternatiewe werklikheid waarin sy ondersteuners deesdae vas glo en wat gelei het tot die onlangse gebeure in Washington.

Is dit vryheid van spraak?

Die antwoord moet nee wees.

Baie sal ook wil weet of Twitter konsekwent gaan wees teen die aanhitsers van geweld in ander lande.

Eintlik moet gevra word waarom Twitter hom nou eers stilgemaak het en waarom hy vir so lank toegelaat is om ongegronde stellings die wêreld in te stuur wat mense verdeel het.

Baie sal ook wil weet of Twitter konsekwent gaan wees teen die aanhitsers van geweld in ander lande.

Gaan Facebook se sensors aanhou om by kletsgroepies in te meng terwyl daar Facebook-blaaie bestaan wat wilde samesweringsteorieë as die waarheid verkondig?

Sal dit help as Facebook hiervan werk maak, maar programme waarin dieselfde soort teorieë verkondig word, kan op hoofstroom-televisie gesien word?

Vrae soos dié is nie maklik om in ons moderne samelewing te beantwoord nie.

Daar is ook ander: Moet daar perke aan vryheid van spraak wees? En wie kan besluit wat gesien en gesê word en waar dit gesien en gesê kan word?

Maar ons moet antwoorde soek omdat vryheid van spraak ’n kosbare skat is wat beskerm moet word teen mense en organisasies wat dit wil misbruik.

Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.