Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is geld gif vir ’n gemeenskap of bringer van geluk?

Sê nou jy wen R10 000, sal dit jou gelukkiger maak? Vir hoe lank? En sal jy twee keer so gelukkig wees as jy R20 000 sou wen?

Bun Booyens

Dit is vrae soos dié – die sogenaamde “sielkunde van armoede” – wat die Busara-sentrum in Nairobi, Kenia, probeer beantwoord.

Bring geld geluk, of werk dit andersom? Gelukkige mense werk harder en verdien dus meer geld. En waarom is party arm gemeenskappe in die geheel meer tevrede as ander?

In een Busara-studie het 503 gesinne in 120 arm nedersettings elk uit die bloute ’n kontantbedrag in hul rekening ontvang. Die gemiddelde bedrag was $357, maar nie almal het ewe veel gekry nie. Party mense het tot $1 525 ontvang, meer as die jaarlikse per capita-inkomste.

Al die inwoners van die nedersettings se algemene tevredenheid is voor die tyd gemeet, en toe ná die skenkings weer.

Soos verwag, was die mense wat geld ontvang het, meer tevrede as voorheen. Maar dalk meer betekenisvol, die res van gemeenskap het nou opvallend ontevrede gevoel, ofskoon niks hulle ontneem is nie.

Hoe groter die bedrag wat die “wenners” gekry het, hoe dieper ontevrede was die mense in hul onmiddellike omgewing.

Trouens, hul onvergenoegdheid was selfs meer intens as die “wenners” se vreugde. ’n Mens sou kon sê die geluk wat $100 aan een gesin gebring het, het meer as $100 se onvergenoegdheid by hul bure en kennisse veroorsaak.

Was geld dus die wortel van die kwaad? Nie opsigself nie. Die mense was nie spesifiek naywerig teenoor die persoon wat skielik ryk geword het nie, hulle was eerder besorg oor hul eie posisie, wat nou oënskynlik binne die groter opset verswak het.

Wanneer ander mense se situasie verbeter, vrees die res dat hulle kan uitsak.

Wanneer ander mense se situasie verbeter, vrees die res dat hulle kan uitsak. En mense wat ryker word? Hulle vergelyk hulself met dié wat nog ryker is.

Feitlik al die emosies rondom die Busara-bonusgeld het binne ’n jaar vervaag en verdwyn, want almal was toe weer min of meer so ryk of arm as voorheen, en almal was weer ewe tevrede of ontevrede as vroeër.

Maar sodra daar sigbare uitskieters in die gemeenskap is, ontstaan ’n amperse “keeping up with the Joneses”-situasie.

Dit is moeilik om peilings soos hierdie op die breë ekonomie van toepassing te maak, maar daar is tog raakpunte.

Wanneer ’n land se ekonomie sterk groei, gaan dit nie eensklaps beter met almal nie. ’n Klein groepie mense verdien aanvanklik meer geld – amper soos met die Busara-eksperiment – en hul “skielike” voorspoed ontlok ontevredenheid en frustrasie by diegene wat minder welaf is hulle.

Dit is ’n situasie wat ons in Suid-Afrika, ’n land met meer as 30% werkloosheid, goed ken. Armoede is erg, maar in die aangesig van welvaart is dit veel erger.

Hoe meer ’n nuwe middelklas hier floreer, hoe groter raak die risiko dat ’n groter groep mense ontevrede kan begin voel daaroor.

Die doring in die vlees is dus dalk nie “white monopoly capital” nie, maar ewe veel daardie Breitling-horlosie om die pols van die man met die rooi oorpak doer in die parlement.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Geld  |  Gemeenskap  |  Geluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.