Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is hierdie dalk ’n geval van slim vang sy baas?
Heinz Mödler

Op 28 Oktober 1918 maak die Oostenrykse kunstenaar Egon Schiele ’n laaste skets van sy sterwende vrou.

Minute later blaas Edith haar asem uit. Saam met haar sterf haar ongebore baba. Egon is nog gesond, maar drie dae later is hy ook dood.

Selfs Egon se jeugdige ouderdom (28 jaar) en sy goeie algemene gesondheid kon hom nie teen die “Spaanse griep”, wat hy by sy vrou gekry het, beskerm nie.

Asof die Eerste Wêreldoorlog nie genoeg sterftes en ellendes veroorsaak het nie, tref die Spaanse griep Europa direk ná die wit vlag gehys is. Binne ’n paar maande sterf meer mense weens hierdie infeksie as wat gedurende die vier jaar van die oorlog gesterf het.

Hoeveel mense werklik gesterf het, is moeilik om te bepaal. Konserwatief geskat is dit ongeveer 20 miljoen, maar kundiges reken dit is nader aan 100 miljoen.

Hierdie griep het bitter min mense gespaar. Ooggetuies vertel hoe gesonde mense op straat skielik begin hoes en binne minute hygend op sypaadjies neerval. Om net daar te sterf.

Die Spaanse griep het op 22 Mei 1918 in Madrid uitgebreek. Binne ’n paar maande was die hele Europa ’n siekeboeg.

Wat veral verstommend is, is dat die meeste mense wat gesterf het, jonk en gesond was.

Nie eens skindernuus kan so vinnig versprei nie (die enigste uitsondering is dalk wanneer Karlien ’n witwarm selfie aanstuur waar hulle iets ongeloofliks doen. Soos om petrol in te gooi.)

Die virus wat vir Spaanse griep verantwoordelik is, is nie ’n kiem wat toevallig saam met ’n meteoriet die aarde getref het nie, maar ’n gewone Influenza A-virus. Hierdie H1N1-virus is familie van die virusse wat varkgriep en voëlgriep veroorsaak.

Wat veral verstommend is, is dat die meeste mense wat gesterf het, jonk en gesond was. Die rede hiervoor is dalk die uitbreking van die sogenaamde Russiese griep ’n paar dekades tevore wat immuniteit aan ouer persone verleen het. Sonder hierdie immuniteit is dit gewoonlik ouer mense, met swak gesondheid, wat eerste sneuwel in ’n griepepidemie.

Die H1N1-virus was die voëlgriepvirus van daardie tyd en het baie ooreenkomste met die H5N1-virus van deesdae. Navorsers doen vandag nog navorsing op hierdie virus. Die rede hiervoor is om altyd ’n stappie voor die virus en sy moontlike mutasies te wees.

Sou daar weer ’n uitbraak van H1N1, of ’n soortgelyke familielid wees, is hulle hopelik gereed om ’n vaksine te maak voordat die griep in ’n pandemie ontaard.

Ons planeet steun onder al die voete en ’n mens kan nie help om te bespiegel hoe ons situasie sonder die Spaanse griep en ander soortgelyke pandemies sou gelyk het nie.

Die afgelope paar dekades het die natuur die balans van ons ekosisteem telkemale probeer herstel.

Daar is MIV/vigs, varkgriep, voël­griep, Ebola en nog ’n paar ander infeksies. Maar elke keer is wetenskaplikes paraat genoeg om massiewe ellende redelik vinnig hok te slaan.

Al kan elkeen van ons, as individu, veilig voel, is dit debatteerbaar of hierdie tegnologie ons as mensdom op lang termyn enigsins baat. Is dit dalk ’n geval van “slim vang sy baas?”

Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.

Meer oor:  Heinz Mödler  |  Virus  |  Siektes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.