Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is Kaaps dalk ’n Europese dialek?
Leopold Scholtz

Afrikaans moet herstandaardiseer word, is die mening wat ’n mens deesdae meermale hoor.

Nie net van bruin akademici nie, ook van wit akademici wat hulself as Afrikaners beskou. Dié mening is onlangs weer op die DAK-taalberaad in Kaapstad gehoor, onder meer van mense wat ek besonder hoog ag. Dus, met die grootste respek: Ek verskil.

Laat ek eers een ding uit die pad kry: Ek beskou nie Kaaps of ander “bruin” variëteite van Afrikaans as minderwaardig nie.

Ek weet genoeg van die geskiedenis om bewus te wees van die diep minagting wat die Engelssprekendes ’n eeu en meer gelede vir Afrikaans – en dus ook vir die Afrikaners en bruin Afrikaanssprekendes – gehad het. Hulle het ons mense se poging om ’n taal te “maak” (in die woorde van Jaap Steyn) as ’n groot grap beskou.

Sprekers van Standaardafrikaans – en hier bedoel ek wit mense – sal dus ’n groot fout maak as hulle minagtend neersien op die idees wat in bruin akademiese geledere leef om Kaaps in ’n volwaardige akademiese en onderwystaal om te skakel.

Die wit Afrikaners kon dit slegs met ’n uiterste kragsinspanning, die bestee van ongelooflike intellektuele kapitaal en baie trane regkry, en bruin mense sal self moet besluit of hulle die mas sal kan opkom. As hulle ja sê, kom ons probeer dit, sal hulle op die hulp en bystand van tallose Afrikaners kan reken – as hulle dit wil hê.

Ek beskou nie Kaaps of ander “bruin” variëteite van Afrikaans as minderwaardig nie.

Maar intussen pleit sommige dat Standaardafrikaans soos hy nou bestaan, herstandaardiseer moet word om ook “bruin” Afrikaans op te neem. Ek is bevrees dis onwenslik.

Ek het tevore al in dié ruimte genoem dat elke taal ter wêreld ’n standaardvorm het, naas die dialekte wat mense dikwels op streekvlak tuis praat.

Dit geld vir Engels, Duits, Frans, Italiaans, Nederlands, Deens, Russies, Mandaryns, Hindi, Maleis – die lys is te lank om hier op te noem. Ook by dáárdie taalsprekers was daar vroeër ’n neiging om neer te kyk op dialekte of aksente wat “plat” genoem is. Dit was hoofsaaklik omdat die elite anders gepraat het as mense van laer stande.

Nou nog kan jy in Engeland vinnig agterkom of iemand ’n arbeiders-, middelklas- of hooggebore agtergrond het, net deur na sy uitspraak te luister. En glo my, diskriminasie teen mense wat byvoorbeeld “cockney” praat, is steeds algemeen, sy dit informeel.

Niemand ontken dat bruin mense ’n aandeel in die skep van Afrikaans gehad het nie

Nog ’n saak is die aanklag dat die wit Afrikaners die taal eksklusief vir hulself geannekseer het. Dis oordrewe, maar bevat genoeg waarheid.

Maar die woede ágter die klag, hoe begryplik ook al, neem nie die historiese omstandighede in ag nie. Dit was ’n reaksie op die grenslose Engelse minagting vir ons taal en ons mense, eintlik ’n oorreaksie.

Niemand ontken dat bruin mense ’n aandeel in die skep van Afrikaans gehad het nie. Maar ek woon nou al 11 jaar in die Lae Lande, en op grond van wat ek hóór, is daar ’n interessante verskynsel waaroor geen enkele taalgeleerde nog navorsing gedoen het nie.

Op talle plekke waar moderne Afrikaans van Nederlands afwyk, word dit aan die bruin invloed toegeskryf. Hier en daar is dit waarskynlik waar, maar dit val my op dat ek in die Nederlandse dialekte, veral dié wat in die land se kusstreke gepraat word, baie “Afrikanismes” hoor.

Wat my laat wonder of die plekke waar Afrikaans van Standaardnederlands afwyk, nie ook – en dalk veral – van Nederlandse dialekte afkomstig is nie. Ek is geen taalgeleerde nie, maar ek het – hopelik – ’n bietjie gesonde verstand. Dis in elk geval ’n rigting wat ’n polities inkorrekte akademikus gerus kan ondersoek.

Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.