Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is Mkhize ANC se ‘eenheids-leier’?
Gert Coetzee

Hier kom die voorlopers. Cyril Ramaphosa is voor! Nee, dis Nkosazana Dlamini-Zuma! In die pylvak is dit CR, nee, dis NDZ . . .

Hier kom Mkhize! Hy steek verby. Mkhize, Zweli Mkhize is die wenner!

Dink hoe spiekeries Gerhard Viviers oor die ANC-leierswedloop sou kon uitsaai, veral noudat ’n buiteperd die twee gunstelinge kan fnuik.

Premier Ace Magashule van die Vrystaat, oftewel eredoktor Ace van Turkye se Bahçesehir-universiteit, het verlede week onverwags in The New Age geluide oor ’n eenheidskandidaat vir die ANC begin maak.

Die Vrystaatse ANC het nie sy steun vir NDZ laat vaar nie, maar sal hom nou agter ’n samesnoerder skaar, het hy laat weet. Asook dat die Vrystaatse ANC ’n “vereniger” van die party sal steun. Magashule het by monde van Thabo Meeko, segsman, ook gesê die partyleierskap moet nie op geslag berus nie, maar afhangende van wie die party kan saamsnoer.

As dit NDZ is, sal dit nie wees omdat sy ’n vrou is nie, maar omdat sy ’n goeie leier is, sê dr. Magashule.

Hoftwiste, faksiegevegte, tweestryde en onmin in die Vrystaat, Oos-Kaap, Noordwes en KwaZulu-Natal waarin ANC teen ANC veg, wys die party het dringend ’n “eenheidsleier” ter wille van oorlewing nodig.

Siedaar, skielik tree Mkhize sterk na vore, soos City Press Sondag berig het.

Nadat dié ondersoekende blad in Januarie Ramaphosa, Dlamini-Zuma, Baleka Mbete en Jeff Radebe as die voorlopers in die leierstryd bestempel het en Mkhize as een van sewe “dark horses” gelys is.

Of Mkhize die regte kandidaat sou wees? Vir die inploffende ANC dalk, maar hoogstens vir lapwerk.

As Mkhize heeltyd as volgende leier geoormerk en doelbewus teruggehou is, sou dit ’n briljante strategiese skuif wees. Of kry hy nou die gaping omdat nie Ramaphosa of Dlamini-Zuma die voortou beslissend neem nie? En wend die Zuma-faksie hom nou tot ’n “eenheidskandidaat” as teenvoeter vir die risiko dat Dlamini-Zuma uitval?

Mkhize, ’n mediese dokter, het die struggle-getuigskrifte én die ervaring as ANC-gesagsdraer (nou tesourier; Kwazulu–Natalse oudpremier) en is ’n vertroueling van Jacob Zuma. Uit die nuwe boek Khwezi – The Remarkable Story Of Fezekile Ntsukela Kuzwayo blyk dit hoe Mkhize probeer keer het dat die saak van beweerde verkragting (waaraan Zuma onskuldig bevind is) buite die hof geskik word.

Of Mkhize die regte kandidaat sou wees? Vir die inploffende ANC dalk, maar hoogstens vir lapwerk.

Vir Suid-Afrika, nee. G’n ANC-kandidaat het die staal om die ingrepe te bewerkstellig wat nodig is vir ’n ommekeer in die land nie.

Terloops, dit is bekend dat Mkhize tydens die wapenskandaal – dis so 10 skandale terug in die ANC se Pandora-kis – ook Shaik-meevallers gekry het. Dlamini-Zuma spog natuurlik met die Sarafina-skandaal, wat die model was van die verduistering van staatsgeld deur tenderbedrog. En Ramaphosa, die buffelboer, se rykdomme danksy swart ekonomiese bemagtiging en die albatros van Marikana diskwalifiseer hom in sommige ANC-kringe.

Sou Mkhize van oënskynlik nêrens skielik bo uitkom, is die vraag wat dan van Dlamini-Zuma, want op Planeet ANC sal een van die twee topleiers ’n vrou moet wees. Sal sy bereid wees om as Nommer Twee in te val?

Met die ANC wat party-eenheid bo landsbelang stel, is dit duidelik dat die nuwe leier prosesgedrewe deur die strewe na “vereniging” uitgeskarnier word. Met die DA wat in die Wes-Kaap sy eie krisis beleef, is ’n verenigde front vir die ANC nou noodsaaklik.

Mkhize se eindpoging in die wedloop om leierskap wek belangstelling.

Dis te sê as die ANC-konferensie in Desember wel plaasvind.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Menings  |  Eenheidsleier  |  Politiek  |  Presidentskap  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.