Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is ons aan die ‘digitiseer’ of ‘digitaliseer’?
Gerhard van Huyssteen

Terwyl almal nog ter strande is, skryf ek maar ’n bietjie vir die bleeksiele wat al hierdie week agter hul rekenaars en ander digitale toestelle moes inskuif.

Die woord “digitaal” is lank reeds in Afrikaans en ander Germaanse tale bekend. Oorspronklik ’n afleiding van die Latynse “digitus” wat “vinger” beteken, het dit in die 16de eeu verwys na dit wat betrekking het op vingers. Ook Afrikaans het vroeër slegs dié betekenis geken, soos in 1955 in die WAT opgeteken:

digitaal’ b.nw. Wat op die vingers of tone betrekking het: Digitale eksplorasie, ondersoek van die liggaamsholtes met die vinger. (!!!)

Pas later – hier in die 1960’s en 1970’s – ontstaan by ons die betekenis dat “digitaal” te make het met syfers (soos die tien vingers aan jou hand), en nog later ontstaan die betekenis dat dit te make het met stelsels en tegnologieë wat nie analoog is nie. Vandag is “digitaal” en “elektronies” byna sinonimies; dis waarskynlik net deskundiges wat duidelik sal weet waar om die grense tussen die twee begrippe te trek.

’n Desgevolglike nuwigheid is dat ons goed wat analoog is na ’n digitale formaat kan omskakel. Is ons dan besig om te “digitiseer” of te “digitaliseer”?

Toe die Taalkommissie in voorbereiding op die 2017-AWS oor “digitiseer”/“digitaliseer” moet besluit, was daar nog geen betekenisspesialisering by enige van die twee woorde te bespeur nie. Onses insiens kon hulle gewoon as wisselvorme gebruik word, na die patroon van “maksimaliseer” of “maksimeer”; “optimaliseer” of “optimeer”.

Maar intussen het daar in die vakgemeenskap wel ’n betekenisspesialisering ingetree.

Maar intussen het daar in die vakgemeenskap wel ’n betekenisspesialisering ingetree.

“Digitiseer” verwys na die eerste stap om ’n voorwerp (byvoorbeeld ’n papierboek of analoë videoband) na ’n digitale formaat om te skakel. Dit is ’n eenvoudige proses wat deur enigeen met die regte toerusting onderneem kan word, byvoorbeeld deur met jou telefoon ’n foto van ’n koerantartikel te neem. Die resultaat is ’n redelik statiese weergawe van die oorspronklike dokument: Jy kan met dié digitale lêer weinig doen, behalwe om dalk ’n bietjie aan die kleur en so te torring. Die groot voordeel is egter dat jy dit nou op jou rekenaar (en nie in ’n plakboek nie) kan stoor.

“Digitaliseer” verwys na ’n tweede, meer ingewikkelde stap wat met meer gespesialiseerde programmatuur uitgevoer word, soms nog met men-sehande waar en wanneer die programmatuur faal.

Een van die belangrikste onderdele van digitalisering is optiese karakterherkenning (OKH; in Engels “OCR”), waar ’n PDF-dokument verwerk word sodat jy met jou programmatuur se soekfunksie daardeur kan soek, jy die PDF-dokument na ’n Word-dokument kan omskakel, ensovoorts.

Dié betekenisonderskeid geld natuurlik maar net in die kringe waar ek werksaam is. Dalk gebruik julle dit anders in jou nywerheid of vakgebied? Laat hoor gerus van jou.

Van Huyssteen is ’n taalkundige aan die Noordwes-Universiteit (gerhard.vanhuyssteen@nwu.ac.za)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.