Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is ons dan besig om gek te raak?
Leopold Scholtz

Rassisme is verwerplik. Géén mens het die morele reg om teen ’n ander op grond van dié se afkoms te diskrimineer of hom as minderwaardig te beskou nie.

Dit druis nie alleen in teen die Grondwet nie, maar ook teen die Christelike geloof. Dit druis in teen alles wat ek tuis van my ouers ontvang het.

Maar laat ons nou ook nie heeltemal van ons trollie af raak nie. En ek is bevrees dit is presies wat tans in Suid-Afrika gebeur.

Twee flagrante voorbeelde het vandeesweek in die media opgeduik.

Die een is die politieke ontleder Theo Venter, verbonde aan die NWU, wat in opdrag van sy rektor, prof. Dan Kgwadi, aan ’n “ondersoek” onderwerp gaan word na aanleiding van ’n uitlating in ’n radioprogram.

Luidens ’n nuusberig het Venter in ’n radiodebat met Carl Niehaus gesê pres. Jacob Zuma was ’n swakker regeringsleier as D.F. Malan, Hans Strijdom, Hendrik Verwoerd, John Vorster of PW Botha.

Die tweede is dat die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, bevind het Helen Zille, Wes-Kaapse premier se omstrede twiet dat kolonialisme nie “net sleg” was nie, ’n oortreding van die Grondwet was. Die Wes-Kaapse wetgewer kry 30 dae om “gepaste stappe” teen haar te doen.

Dié twee voorbeelde wys dat ons besig is om heeltemal gek te raak.

Dié twee voorbeelde wys dat ons besig is om heeltemal gek te raak.

Venter is ’n gerespekteerde, ewewigtige en onafhanklike politieke ontleder wat meestal baie raak is met sy analises van die politiek.

En ofskoon Zille onverstandig was om ’n ingewikkelde onderwerp soos die koloniale erfenis in ’n twiet te behandel, het ook sy ’n genuanseerde standpunt oor die saak.

Natuurlik kan ’n mens met Venter en/of Zille verskil. Hulle is nie onfeilbaar nie en hul standpunte dra nie die gesag van die Heilige Gees nie. Maar al gaan staan jy op jou kop en sing “God Save the Queen” op die wysie van “Die Stem”, kan jy hulle op geen wyse onder die hemel van rassisme beskuldig nie – soos wat nou gedoen word.

Die Kanadees-Duitse politieke wetenskaplike Heribert Adam het op ’n keer gesê oor die gereelde beskuldigings dat dié of daardie standpunt fascisties is: “As alles fascisme is, is op die ou einde níks meer fascisme nie.”

As alles rassisme is, is níks uiteindelik meer rassisties nie.

Inderdaad. Overgeset synde: As alles rassisme is, is níks uiteindelik meer rassisties nie.

Of, soos Hompiekedompie in Lewis Carroll se sprokie Alice in Wonderland sê: “Wanneer ek ’n woord gebruik, beteken dit presies wat ek wil hê dit moet beteken – niks meer of minder nie.”

Deesdae word die begrip rassisme met oorgawe herdefinieer. Swart mense kan nie rassiste wees nie. Maar laat ’n wit mens nou net iets sê wat iemand anders irriteer en hy is ’n rassis.

Art. 16 van die Grondwet maak dit baie duidelik daar is slegs één beperking op die vryheid van spraak: Waar geweld gepredik word.

Dié artikel waarborg eksplisiet onder meer persvryheid en “akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing”.

Wil die rektor van die NWU nou op sy eie die Grondwet gaan herskryf?

Voorts: Dat Mkhwebane – wat nogal die titel “advokaat” voor haar naam skryf – daardie einste artikel aangryp om te sê Zille het die Grondwet oortree, wys eenvoudig dat sy van wetsuitleg geen snars begryp nie.

Dit begin ’n histeriese heksejag word wat – as dit nie vinnig in die bek geruk word nie – die Grondwet en ons demokrasie kan ondermyn.

Nogmaals, niemand kan jou verplig om Venter en Zille te steun nie. Maar om hulle die mond te snoer, oorskry ’n gevaarlike grens.

Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Theo Venter  |  Leopold Scholtz  |  Helen Zille  |  Rassisme  |  Haatspraak  |  Rassisties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.