Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is ons denke reg vir 'n revolusie?
Esté Gross

Is jy werklik so oopkop soos wat jy dink? Met die vierde nywerheidsrevolusie (VNR) aan die ontvou is dit dalk nodig om vir ’n oomblik kop te krap hieroor.

Volgens prof. Klaus Schwab, stigter en uitvoerende voorsitter van die Wêreld- Ekonomiese Forum, gaan die VNR die manier waarop ons werk en leef, vir altyd verander.

Daar is al heelwat gesê oor die tegnologiese vooruitgang wat die VNR gaan teweegbring, maar is ons kop al reg aangeskroef daarvoor?

Die gevaar is dat verouderde denkwyses ons idees oor ons eie vermoëns kan inperk.

In die artikel “How to be a leader in the Fourth Industrial Revolution” deur Jennifer Artley (www.weforum.org, 19.01) sê Schwab daar is VNR-leiers nodig wat “emosioneel intelligent is en ’n mentorrol kan vertolk”.

Hulle moet ook “gedryf word deur empatie en nie ego nie en moet ’n mensliker leierskapstyl volg”.

Die leier moet dus die vermoë hê om homself in iemand anders se skoene te plaas.

Die leier moet dus die vermoë hê om homself in iemand anders se skoene te plaas.

Hopelik word die nodige kennis op voetsool- en persoonlike vlak ingesamel, want die teorieë wat ons gebruik om ander mense mee op te som, is nie almal so pluis nie.

Sommige is wel nuttig, maar baie is mites. Dit word ook dikwels misbruik deur growwe veralgemenings wat ironies genoeg lei tot ’n nuwe massa-stereotipering – ’n formule oor wie iemand nou eintlik is.

Daar is talle voorbeelde van die etikettering wat op dié vervoerband plaasvind:

Is jy liberaal of konserwatief? Wat is jou geboorte-orde – is jy die oudste, die jongste of die middelkind? Aan watter generasiegroepering behoort jy – die Stil Generasie, die Baby Boomers, Generasie X, Generasie Y, die Millenniërs of die nuwe Generasie Z?

Is jy ’n introvert of ’n ekstrovert? Dit is selde dat enigiemand net die een of die ander is, daarom is daar nou ook die ambivert – iemand wat ewe veel eienskappe van albei het, die kategorie waartoe die meeste mense behoort.

Wat is jou IK-telling? Die gebreke met die tradisionele IK-toets is reeds bekend. Jou IK is ook nie onveranderlik nie – jy kán dit verhoog.

Is jy ’n linker- of ’n regterbreinmens? Volgens prof. Ignatius Gous van Unisa in die program Die geheime van die brein, aangebied deur Johan van Lill (RSG, 13.05), is dié teorie ’n neuromite wat skadelik is en mense se denke oor hul eie vermoëns beperk. Alles gaan oor netwerke in die brein – en nie hemisfere nie. Jou vermoë is nie beperk tot ’n breinoriëntasie nie.

Dit is enkele voorbeelde van hoe bekende teorieë in die hoofstroom jasse is wat nie almal pas nie. En dikwels onwaar is.

Ons is minder voorspelbaar en tot meer in staat as wat ons soms dink. Met ’n oopkop kan jy maklik saam swem in enige gety van verandering. En wie weet, dit selfs geniet!

Gross is ’n vryskut-omroeper, -nuusleser en -joernalis.

Meer oor:  Esté Gross
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.