Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is ons geloof in ’n god bloot brein-evolusie?

Is geloof in ’n god nie maar net ’n produk van evolusie nie, is ’n vraag wat by ál meer mense opkom.

Wilhelm Jordaan

Vir die meeste tradisionele gelowiges, wat ook al hul godsdienstige denominasie, is die vraag nie ter sake nie, want vir húlle het die “God” in hul godsdiens met evolusie niks te doen nie. God het alles geskep soos dit is. Finish en klaar.

Tog is daar ’n ander manier om oor ’n god, godsdiens en evolusie te dink: Om ’n godsdiens, tesame met die leerstellings wat dit onderlê, te bedink, te beleef en dit gelowig te beoefen, veronderstel selfbewussyn. Daar is voldoende getuienis dat selfbewussyn uit die eeue lange evolusie van die menslike brein stam en dat spirituele belewenisse, as die grondslag van geformaliseerde godsdienste, ’n brein-grondslag het.

Selfbewussyn inspireer mense om oor spirituele belewenisse te praat en te skryf – oor die verlange na ’n verklarende “iets” buite hulself. Dit word gedoen met ekstase, blydskap, verwondering, verligting, deernis, liefde en vrede, ’n mistieke ervaring van eenheid met alles en die omhelsing van ’n meelewende kosmos.

Betreklik onlangs is die brein-grondslag daarvan ontdek – in die temporale lob van ’n normale menslike brein. By mense wat na spirituele belewenisse smag, is dié breingebied neurochemies besonder aktief. Omdat mense dán gereeld “ ’n goddelike teenwoordigheid” beleef, word dié gebied soms die “god-kol” genoem.

’n Mens kan redeneer jy hét dié soort belewenisse omdat jy jou oopstel vir “prikkels” wat dit voortbring. Dié prikkels kan enige fokuspunt van jou keuse wees – God, Allah, die meditatiewe Boeddhistiese pad, die natuur, kristalle, sterrestande, die son, die maan, ensovoorts.

Dit lyk dus of die mens evolusionêr toegerus is om die gedagte van ’n god te ontwerp omdat dit bruikbaar is, jou troos en goed laat voel.

Dit lyk dus of die mens evolusionêr toegerus is om die gedagte van ’n god, of enige ander spirituele krag, te ontwerp omdat dit bruikbaar is, jou troos en goed laat voel.

Hieruit lei sommige mense af dat spiritualiteit en godsdiens niks meer is nie as ’n evolusionêr bepaalde breinfunksie en dat geloof in en aanbidding van ’n god onsinnig is. Dít is egter ’n kortsigtige vertolking.

’n Grondiger vertolking is om te sê die mens hét ’n evolusionêr gegewe kapasiteit om spiritueel of godsdienstig te wees, maar hoe jy daaraan uitdrukking gee, berus op wisselwerking tussen breinfunksies en omgewingsinvloede.

Laasgenoemde sluit in jou opvoeding, kulturele agtergrond, die boeke en geskrifte wat jy lees, die soort opvattings wat jy verken, en jóú keuse van spirituele of godsdienstige prikkels.

Uit dié wisselwerking kom ryk belewenisse wat die allerdiepste betekenis vir mense kan hê en hul lewens gelowig rig.

Dié wisselwerking beteken byvoorbeeld jy aanvaar die evolusionêre erfenis van die “god-kol” én leer terselfdertyd om deur oortuigde toewyding meer godsdienstig of spiritueel te leef.

Dit is inderdaad geloofsverrykend – ’n diep bewustheid van die ontsagwekkende mysterium tremendum waarbinne die mens bestaan.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Godsdiens  |  Geloof  |  God
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.