Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is ons genoeg om misdaad in SA te stuit?
Donald Katts

Die nuutste misdaadstatistieke is skokkend, veral die moordsyfer. Amper 5 000 mense se lewe is in die afgelope drie maande op dié wyse beëindig.

Dit lyk of die polisie die stryd teen misdaad verloor omdat die manne en vroue in uniform nie sigbaar genoeg is nie, hulle te min is in verhouding tot die getal inwoners in ’n gegewe gebied en nie bekwaam genoeg is nie. En ja, hulle vrees self vir hul lewe en het daarom omkoopbaar geword, wat die samelewing verder onveilig maak.

Die veiligheid van alle burgers is prioriteit.

Hoe gemaak in Suid-Afrika? Hoe gemaak in ons woongebiede?

Dalk is dit omstandighede wat mense laat moor. Dalk is dit aanhitsing deur ander, die behoefte om te behoort en om mag te hê wat mense laat moor. Dalk is dit ekonomiese redes wat maak dat mense ander se lewe neem. Dalk het ons te selfsugtig geword. Dalk is ons te besorg oor ons eie veiligheid. En ja, dalk het ons net te afgestomp geraak vir die misdaad om ons en vir die nood en behoefte van ander.

Die invloed van drank en dwelms speel egter ook ’n rol.

Dalk is daar sielkundige redes of geestelike en emosionele redes waarom mense tot die uiterste daad oorgaan.

Die misdaadsyfers plaas ook ’n vraagteken oor ons eie mensheid. Watter soort mense het ons geword as die moordsyfer in ons land nie afneem nie?

Hoe dit ook al is, drastiese ingrype van kerk én samelewing en die openbare en private sektor word al hoe nodiger.

Skole en universiteite kan seker meer doen om leerlinge en studente te help om beter keuses uit te oefen, morele wilskrag te bevorder en om morele besluite te neem.

As ons gewone burgers die morele moed het, kan ons op klein skaal begin om hierdie golf van moorde en ander misdaad te help stuit. Die stand van sake is ’n klad op ons godsdienstige instellings, wat juis leer dat ons God moet eer, dat ons ons naaste moet liefhê en ander moet respekteer.

Die misdaadsyfers plaas ook ’n vraagteken oor ons eie mensheid. Watter soort mense het ons geword as die moordsyfer in ons land nie afneem nie? Edmund Burke, ’n Ierse filosoof, het reeds in die 18de eeu gesê euwel triomfeer omdat goeie mense niks doen nie.

Paulus moedig ons in Romeine 14:17 aan om ons te beywer vir die dinge wat onderlinge vrede en opbou bevorder.

Duidelik kan ons nie apaties wees, wegskram of hande gevou staan terwyl so baie mense daagliks vermoor word nie.

Moord en misdaad is omvattende uitdagings, tog bly ek glo in ons vermoë en potensiaal om die gety van die gruwelike euwels te kan omdraai.

Die vraag is of daar genoeg burgers is wat oor die morele moed beskik om daadwerklik iets te doen en betrokke te raak by pogings om veral ons moordgetalle, maar ook ander misdaadsyfers, af te bring.

  • Dr. Katts is ’n voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.