Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is oorreding doeltreffender as om te dreig?

Daar was ’n olifant in die vertrek toe vier wêreldleiers vandeesweek in Parys byeen was om oor die oor die globale handelspolitiek te praat.

Die vier was pres. Xi Jinping van China en pres. Emmanuel Macron van Frankryk, asook bondskanselier Angela Merkel van Duitsland en Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie.

Niemand het die olifant se naam genoem nie, maar sy skaduwee het oor die beraad gehang: Donald Trump van Amerika. Enersyds wou Macron, Merkel en Juncker wys hulle loop nie aan Trump se leiband nie; andersyds het hulle baie dieselfde soort probleem met Xi as Trump.

China se verstommende ekonomiese groei van die afgelope twee, drie dekades is deels te danke aan sy onregverdige handelspraktyke. Hy hef aansienlike tariewe op invoer en subsidieer terselfdertyd sy uitvoerprodukte. Daardeur bevorder hy ’n kunsmatig positiewe handelsbalans, wat egter ten koste van sy handelsvennote is.

China verteenwoordig ’n ongelooflik winsgewende en groeiende mark. En danksy sy ekonomiese groei is die land goed op pad om ’n nuwe supermoondheid te word. Dit het meegebring dat die breë Westerse bondgenootskap met groeiende irritasie kyk na die wyse waarop die Chinese eenvoudig hul elmboë gebruik om ’n plek onder die son oop te dwing.

Trump se antwoord was ’n handelsoorlog – op sigself begryplik, maar ekonomies ongeletterd, want die geskiedenis toon onomwonde dat ’n handelsoorlog slegs verloorders oplewer.

Die Paryse beraad verteenwoordig ’n alternatiewe benadering. Macron, Merkel en Juncker probeer oorreding pleks van dreigemente. Aan die een kant is dit dus by implikasie ’n effense klap in Trump se gesig.

Oor hoe om op die Chinese ekonomiese opmars te antwoord, is daar nog geen konsensus nie.

Die vergadering pas in by wat ’n mens soms in aksieflieks sien – die “good cop, bad cop”- aanslag. Luister na ons, was hul boodskap aan Xi, want ons is die “good cops”. Jou alternatief is Trump, die “bad cop”.

Vandaar dat Macron die Chinese wysgeer Confucius oor vriendskap aangehaal het. Die implikasie was volgens waarnemers dat die Europeërs die goeie soort vriende is en Trump die slegte soort wat jy nie alte kwaad moet maak nie. En daarby dat die Chinese moet besluit oor watter soort vriende húlle is.

Merkel het dinge minder subtiel aangepak. Mededinging, het sy gesê, beteken nie dat ’n oorwinning vir die een noodwendig verlies vir die ander moet wees nie.

Soos die konserwatiewe Duitse dagblad Die Welt dit in sy ontleding stel: “ ’n Mens kan dit as ’n steek onder die water na Trump verstaan, maar seker ook as eis aan die Chinese.”

Die Chinese opmars word op talle terreine en op talle plekke met kommer aanskou. Oor hoe om daarop te antwoord, is daar egter nog geen konsensus nie.

Meer oor:  Parys  |  Politiek  |  Vergadering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.