Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is prins Harry se boek ’n gifbeker?

Prins Harry se komende memoires het die Britse koningshuis op die agtervoet, maar hoeveel skade sal dié “eerlik en hartlike” skrywe van die rebel-prins aan die Britse koningshuis aanrig? Arlene Prinsloo gee haar mening.

Hoeveel wil Harry nóg kwytraak oor sy bitterheid en wraaksug jeens die familie wat hom eens só beskerm en uiting aan sy droom gegee het om in die voorste linies in Afganistan as ’n soldaat te gaan veg?

Duidelik baie, veral omdat hy die Pulitzer-pryswenner J.R. Moehringer as spookskrywer ingespan het en hulle reeds langer as ’n jaar aan die boek werk.

Prins Harry, eens een van die gewildste lede van die Britse koninklike gesin, se gewildheid het aansienlik gedaal nadat hy oor sy lewe as koninklike begin uitpraat het. Foto: Getty Images

Tog sal die memoires, wat einde aanstaande jaar verskyn, ’n skadu werp oor wat een van koningin Elizabeth se grootste triomfe tot nog toe sal wees: die viering van haar platinum-jubileum.

Vir Harry sal sy memoires uiteindelik aan hom die kans bied om eerstehands en akkuraat sy waarheid te vertel. Hy het hom al dikwels in onderhoude uitgelaat oor die “vals narratief” wat oor hom versprei word.

Harry se waarheid sal egter ongekende skade en skandes vir die koningshuis inhou, wat in die goue jare van Elizabeth se heerskappy besig is met ’n ratverwisseling na die troonopvolger, prins Charles, en sy opvolger, prins William.

Hoeveel wil Harry nóg sê?

Harry het vanjaar reeds by vier geleenthede die spreekwoordelike nagemmer se vrot inhoud oor die paleismure geskiet.

In sy verskyning op James Corden se The Late Late Show With James Corden was sy staaltjies heel skadeloos, maar tydens sy en sy vrou, Meghan, se onderhoud in Maart met Oprah Winfrey is die gifpyle na die hart van die monargie geskiet.

Bewerings van institusionele rassisme, ’n gesprek wat ’n senior koninklike met hom nog voor sy troue met Meghan oor die kleur van hul toekomstige kinders gevoer het, ’n gebrek aan steun vir hom en Meghan, asook die monargie se beskerming van ander koninklikes ten koste van hom en Meghan, was deel van ’n lys beskuldigings wat hom laat besluit het om sy heil elders te soek.

In ’n latere Armchair Expert-podsending het Harry dit onomwonde gestel dat hy vir sy kinders ’n beter pa wil wees as Charles, wat aan Harry gesê het dit is deel van sy posisie en hy moet dit aanvaar toe die media hom begin teiken het. Harry het ook gesê hy wil as pa die “sirkel van genetiese pyn” verbreek. 

In die AppleTV-reeks The Me You Can’t See, wat Harry saam met Winfrey vervaardig het, het hy openlik oor sy stryd met geestesgesondheid gepraat en selfs die kameras toegelaat om ’n terapiesessie met ’n terapeut by te woon.

Sy geestesgesondheid is moontlik een van die redes dat die koningshuis desperaat probeer om sake op die agtergrond te beredder, eerder as om in die openbaar uitsprake teen Harry te maak.

SO WAAROOR WIL HY IN DIE BOEK UITBREI?

1. Diana se dood

’n Verwese prins Harry ná die begrafnisdiens vir sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, in die Westminster-abdy in Londen op 6 September 1997. Foto: Getty Images

Die traumatiese dood van sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, sal volgens ingeligtes soos die skrywer Angela Levin ’n hooffokus in die boek wees. Harry blameer die media vir die dood van Diana, wat vir hulle die spreekwoordelike gans was wat die goue eiers gelê het. Maar dit sal interessant wees om te sien wie nóg in die beskuldigdebank moet gaan staan oor sy ma se dood en die gebeure in die dae ná haar dood. Sal Harry iemand blameer omdat hy en prins William die oggend nadat hulle oor Diana se dood ingelig is, saam met die res van die gesin ’n kerkdiens bygewoon het?

Die leraar het op versoek van die koningin nie tydens die diens na Diana se dood verwys nie. Dit het die 11-jarige Harry laat vra: “Is Mamma regtig dood?”

Dan is daar die besluit dat hy en William agter Diana se kis in die stoet moes stap. Hy het al vantevore in onderhoude gesê daar moet van geen kind verwag word om so iets te doen nie, maar later jare gesê hy is dankbaar hy het dit wel gedoen.

Harry het in die podsending en AppleTV-reeks erken dat hy die pad byster geraak het ná sy ma se dood. William se vriende was Harry se vriende, hoewel Harry jare jonger as hulle was. Harry het saam met dié vriendekring gekuier en vroegjare al begin drink, rook en later dwelms gebruik.

Prins Charles (heel links), prins Harry, graaf Charles Spencer (hul oom aan moederskant) en prins William stap op 6 September 1997 agter die stoet van Diana, die ontslape prinses van Wallis. Foto: Getty Images

William was ook met tye by dié partytjies teenwoordig, maar dit is Harry wat onder groot geskal in die Britse poniepers na ’n rehabilitasiesentrum geneem is vir ’n besoek toe sy veiligheidswagte aan Charles genoem het dat hy dagga rook. Charles is as die goeie pa uitgebeeld en Harry as die daggakop. William se naam is nêrens in die berigte genoem nie.

2. Die stiefma en derde persoon in Charles en Diana se huwelik
Diana, ontslape prinses van Wallis, prins Harry, prins William en prins Charles op William se eerste skooldag in 1995 by Eton-kollege. Foto: Getty Images

Harry se verhouding met sy stiefma, Camilla, hertogin van Cornwall, was nog nooit hartlik nie. Toe William kosskool toe is, het Harry Diana se vertroueling geword. Charles en Diana was toe reeds lank van bed en tafel geskei, met Charles wat sy heil by Camilla gaan soek het en Diana wat verskeie minnaars gehad het.

Diana het alles met haar seuns gedeel – so Harry sou die ene ore gewees het as sy oor Camilla en Charles gepraat het.

Op ’n tydstip dat Charles opnuut veg om sy tweede vrou haar regmatige plek as koningin langs hom te laat inneem met sy uiteindelike bestyging van die troon, kan sy jongste seun se memoires weer die anti-Camilla-sentiment in Brittanje laat opvlam.

3. Die skoonpa wat hy nog nie ontmoet het nie

Wat, behalwe Meghan se hartroerende brief aan haar pa, Thomas Markle, wat die Daily Mail wederregtelik gepubliseer het en waarvoor die publikasie in die hof op die vingers getik is, het werklik gebeur dat Meghan alle kontak met haar pa verbreek het?

Harry het Thomas selfs voor die troue in ’n teksboodskap berispe omdat hy met die media gepraat het, maar die volle storie is nog lank nie vertel nie . . .

4. Die Sandringham-beraad

Harry hou tot vandag toe vol dat iemand in die paleis die nuus dat hy en Meghan wou terugstaan as senior koninklikes aan die Britse poniepers gelek het.

Dié berig in The Sun het daartoe gelei dat hy en Meghan vroeër as beplan hul verklaring oor die kwessie die wêreld moes instuur, met William wat sy broer derhalwe verwyt het dat hy die koningin ’n oneer aangedoen het.

Wat tussen die vier mense gesê is, is tot vandag toe ’n staatsgeheim, een wat sekerlik in die memoires oopgevlek sal word.

Met die Sussexe se mediaverklaring was hul webwerf, www.sussexroyal.com, reeds gereed met ’n volledige plan van aksie van hoe hulle hul lewe as semi-senior koninklikes sien: Hulle wou steeds die koningin van diens wees, maar ook self hul eie brood en botter verdien.

Gemoedere het verlede jaar in Januarie só hoog geloop toe die koningin, Charles, William en Harry mekaar op Sandringham ontmoet het, dat William nie eens kans gesien het om saam met sy broer middagete te eet nie. Meghan is ook nie toegelaat om telefonies deel van die gesprek te wees nie. Wat tussen die vier mense gesê is, is tot vandag toe ’n staatsgeheim, een wat sekerlik in die memoires oopgevlek sal word.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se onderhoud met die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey is op ’n Sondag in Amerika uitgesaai, maar was die Maandag, 8 Maart, reeds voorbladnuus in Brittanje. Foto: Getty Images

5. Wie is die ‘rassistiese’ koninklike?

Harry sal heel moontlik die sluier lig oor wie in die familie met hom gepraat het oor die velkleur van sy en Meghan se toekomstige kinders.

Bespiegelings is dat prinses Anne moontlik met Harry daaroor gepraat het op haar eerlike en op die man af manier (sy aard na haar pa!) en dat dít die rede is dat Harry en Anne se dogter, Zarah Tindall, se verhouding ook nie meer so gemoedelik soos altyd is nie.

6. Wie het wie laat huil?

Of Harry sy geliefde skoonsuster, Catherine, vir die wolwe gaan gooi soos Meghan tydens die Oprah-onderhoud gedoen het, moet gesien word. Die vraag bly egter: Wie het wie voor Harry en Meghan se troue laat huil?

Meghan het tydens die Oprah-onderhoud gesê anders as wat berig is, was dit Catherine wat haar laat huil het. The Telegraph se Camilla Tominey se bron hou egter voet by stuk dat die omgekeerde gebeur het, en toe Catherine met ’n bossie blomme in die hand na Meghan is om vrede te maak, is die deur in haar gesig toegeklap.

7. Die breuk tussen die twee broers
Prins William en prins Harry met die onlangse onthulling van ’n standbeeld ter ere van hul ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, in die gesonke tuin by Kensington-paleis. Foto: Reuters

Volgens Phil Dampier se boek Battle of the Brothers het Harry William se besorgde vermaning oor of hy Meghan goed genoeg ken om so vinnig verloof te raak en te trou, as baasspelerig ervaar.

Verhoudinge het verder vertroebel toe die bewerings van Meghan se boeliegedrag teenoor personeellede wat vir sowel William as Harry se huishoudings gewerk het, die lig gesien het. William het daadwerklik opgetree en besluit die koninklike stigting wat hy, Harry, Meghan en Catherine saam bedryf, moet ontbind. Elkeen slaan hul eie rigting in. Kort hierna het die Sussexe ook besluit om anders as wat beplan is, nie in die wooneenheid langs die Cambridges in Kensington-paleis in te trek nie, maar koers gekies Windsor toe.

8. Meghan se rol

In hoe ’n mate Meghan die vertellings in die boek gaan beïnvloed, is ’n ope vraag. Vir dié waarnemer is dit duidelik dat sy die manuskrip sal hersien en kantlynaantekeninge sal maak wat Harry nie sal ignoreer nie.

Meghan was teleurgesteld toe sy die koninklike area betree en besef het dat sy nie, soos dit haar wens was, die wêreld sal kan verander nie, omdat die koninklike area te klein was vir haar idees en opinies.

‘Never complain, never explain’

Koningin Elizabeth se kort maar kragtige reaksie op haar kleinseun en sy vrou se opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey. Foto: Twitter/The Royal Family

Harry se ferm aantyging dat senior koninklikes vasgevang is in ’n toksiese tango met die Britse pers en dat sy pa en broer in dié dans vasgevang is, laat die koningshuis met feitlik geen skietgoed nie.

Ingeligtes in koninklike kringe sal dalk hier en daar ongelukkigheid met die boek uitspreek, maar nooit op die naam genoem kan word nie.

Die koningshuis en die Britse pers het ’n verhouding van gee en neem, met genoegsame respek vir koninklikes se private lewe, maar geen ontsag vir ’n sappige skinderstorie nie.

Die koningshuis het nog al die jare ’n motto van “never complain, never explain”. Ná die Oprah-onderhoud het die koningin lank gewag voordat sy in ’n kort bewoorde verklaring vermeld het dat hoewel Harry en Meghan geliefde lede van die gesin bly, “sommige gebeurtenisse verskillend onthou kan word”.

Wat wil Harry bereik?

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, stap op 10 Junie 2018 van die balkon by Buckinghampaleis af. Of die twee ooit weer saam met die res van die koninklike gesin op dié balkon sal verskyn, is ’n ope vraag. Foto: Getty Images

Harry weet dat hy, as outeur, die geleentheid het om sowel vir Charles as William in ’n kwesbare posisie te stel, ’n posisie waaruit hulle nie sal kan terugvuur nie, behalwe om alle kontak met hom te verbreek.

As die memoires Harry se manier is om die monargie te dwing om hom en Meghan om verskoning te vra vir gebeure waar hy voel hulle te na gekom is, gaan hy tot in der ewigheid wag. Veral omdat hy (weer) vuil wasgoed in die openbaar was.

Wat sy memoires wel gaan bereik, is om sy ma se nalatenskap deur die modder te sleep. Harry het Diana feitlik tot heilige verklaar, en geen ouer is perfek nie.

Ek skryf nie die boek as ’n prins van geboorte nie, maar as die man wat ek geword het.

Hy is ook veilig in die wete dat sy ouma nie sommer ’n koninklike verordening sal afvaardig om hom sy titel as prins te ontneem nie, die einste titel waarmee hy in die bekendstelling van die boek vandeesweek gespog het: “Ek skryf nie die boek as ’n prins van geboorte nie, maar as die man wat ek geword het.”

Dit is dié einste woorde wat dié waarnemer laat wonder of die outeur bloot as Harry Sussex aangedui sal word, of prins Harry, die hertog van Sussex.

Harry se finale wraak op die koningshuis kan dalk nie net bittersoet wees nie, maar net ’n gifbeker.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.