Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is SA werklik ’n demokrasie?
Leopold Scholtz

Die geskarrel om die herinstelling van klagte van korrupsie teen pres. Jacob Zuma laat die vraag ontstaan: Is Suid-Afrika werklik ’n demokrasie en ’n regstaat?

Op papier beslis – kyk maar na die Grondwet. Maar papier is geduldig. Is dit ook in die praktyk die geval?

Ons sit met ’n president en ’n regerende party wat openlik vrae oor die onafhanklikheid van die regbank stel. Wat reguit sê hy wil sy hande op al die “hefbome van die mag” lê, en mediavryheid bevraagteken.

Die ANC/SAKP se agtergrond voor 1990 is nie liberaal-demokraties nie. Hul denke hieroor is ingrypend beïnvloed deur die ortodokse Marxisme-Leninisme en die Afrika-ideologie, wat albei daarop neergekom het dat één beweging of mens die reg het om ongebreidelde staatsmag uit te oefen.

In die maande voordat hulle begin 1990 gewettig is, het die ANC/SAKP blyke van beweging in die rigting van demokratiese denke gegee. Dit was in ’n tyd dat die bankrotskap van die kommunisme vir selfs die mees stiksienige kameraad sigbaar moes wees.

Die jare van onderhandeling, 1990-’94, is gekenmerk deur ’n mee­doënlose oorlog waarin die ANC/SAKP hulself met brute geweld as die enigste geloofwaardige groep onder swart mense gevestig het. Lees gerus Anthea Jeffery se meesterlike boek People’s War, waarin sy die alliansie se brute stoomroller-strategie aan die kaak stel.

Tydens pres. Nelson Mandela se bewindstyd (1994-’99) het die ANC homself oorwegend binne die reëls van die regstaat gehou. Maar selfs toe al het demokrate verskeie kommerwekkende ontwikkelinge geïdentifiseer.

Met pres. Thabo Mbeki – en veral Zuma – se bewindsoorname het dinge van kwaad na erger gegaan. Soos sake nou staan, kan die ANC absoluut nie as ’n demokratiese party beskryf word nie (ofskoon die SAKP, verrassend genoeg, blykbaar meer van die demokrasie as sy bondgenoot verstaan).

Dis waar dat die Grondwet sekere belangrike gebreke het, maar in die breë trekke is dit tog ’n dokument wat die demokrasie, onderhewig aan sekere voorwaardes, goed kan beskerm.

Deel hiervan is die regsapparaat. Dít illustreer tegelyk die gebreke en sterk punte van ons grondwetlike stelsel.

Enersyds word die nasionale direkteur van openbare vervolgings deur die president aangestel, sonder dat hy enig­iemand daaroor hoef te raadpleeg.

Gegewe sy klaarblyklike gebrek aan onafhanklikheid, sal ek nog wil sien of hy die klagte herinstel.

Dis ’n bevoegdheid wat ’n uitvoerende staatshoof nie eksklusief in ’n demokrasie behoort te hê nie; dit vra om misbruik in die hande van ’n politikus soos Zuma. Kort voor sy aftrede het die vorige adjunk-hoofregter, Dikgang Moseneke, dié soort mag genoem as een van die aspekte van die Grondwet waarna weer gekyk moet word.

Dit was juis twee direkteurs van nasionale vervolging, Mokotedi Mpshe en Shaun Abrahams, wat voorkom het dat Zuma in die hof verantwoording oor sy beweerde korrupsie doen.

Gelukkig het ons regbank andersyds ’n stel stewige regters wat hul rol in die beskerming van die regstaat ernstig opneem. Hulle het nou bevind dat die terugtrekking van die korrupsieklagte teen Zuma, gegewe die prima facie-getuienis, “irrasioneel” was.

Nou is die bal terug by Abrahams. Gegewe sy klaarblyklike gebrek aan onafhanklikheid, sal ek nog wil sien of hy die klagte herinstel.

Uiteindelik is daar nog die burgerlike samelewing wat ook deel van die demokrasie vorm. Dáár sit AfriForum se bulhond, adv. Gerrie Nel, en wag. As Abrahams wéér sy plig versuim, gaan Nel hom skraap.

Dus: Is Suid-Afrika ’n demokrasie? Die antwoord is so helder soos modder: Ja-nee.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.