Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is Suid-Afrika op die afdraande pad?

Dit raak al hoe moeiliker om te bly glo dat pres. Cyril Ramaphosa nie sy hand gaan oorspeel nie, skryf Liezel de Lange.

Gaan pres. Cyril Ramaphosa sy hand oorspeel? Foto: Deaan Vivier

Die temperature styg alkante rondom die gronddebat en Ramaphosa se versekerings dat die regering nié van plan is om die ekonomie te skaad óf voedselsekerheid sal belemmer nie, klink al hoe meer hol.

Sy beloftes is heeltemal te wollerig vir die boer wat moet besluit of hy ’n paar miljoen gaan bestee om ’n nuwe boord aan te plant, óf die entrepreneur wat dit oorweeg om sy onderneming uit te brei.

En dis net die Suid-Afrikaners wat moet help werk skep nie, ons praat nog nie eens van die buitelandse beleggings waarop Ramaphosa sy visier het nie. Die regering het in April ’n ambisieuse plan bekend gestel waarvolgens die land oor die volgende vyf jaar buitelandse beleggings ter waarde van $100 miljard wil lok.

Ramaphosa word gekritiseer omdat hy die land se ekonomiese uitdagings voor die deur van grondhervorming lê eerder as dié van sy voorganger én die ANC.

En daar, vlak voor Vrouedag, vergelyk die gesiene en uiters invloedryke The Wall Street Journal (WSJ) Suid-Afrika met die rampspoedige ekonomië en grondbeleid van Zimbabwe en Venezuela. In dié doyenne van internasionale finansiële publikasies moes buitelandse beleggers lees: “Suid-Afrika het nog ’n wyse leier soos Nelson Mandela nodig, maar hou aan om nabootsings van Robert Mugabe te kies.”

Die WSJ kritiseer Ramaphosa ook dat hy die land se ekonomiese uitdagings voor die deur van grondhervorming lê eerder as korrupsie en wanbestuur deur sy voorganger, oudpres. Jacob Zuma én die ANC.

Dis skaars ’n week nadat The New York Times plek op sy voorblad én twee blaaie binne in die koerant afgestaan het aan ’n ondersoek oor ernstige korrupsie deur adj.pres. David Mabuza. Dit vertel onder meer hoe miljarde rand wat vir skole in Mpumalanga bestem was, in sy tyd as premier verdwyn het of wanbestee is.

Die opskrif van dié berigte lui: “Suid-Afrika beloof om korrupsie te beëindig. Is die nuwe leiers deel van die probleem?”

Waar lê die probleem werklik?

Die ANC se eie interne navorsing wys dat grondhervorming nié die ding is wat sy ondersteuners die grootste hoofbrekens besorg nie. Misdaad, werkloosheid en korrupsie is die kwessies waaroor ANC-ondersteuners die meeste wakker lê.

Tog hou die regering aan om diegene in die tande te skop wat moet help werk skep in die uiters wankelrige ekonomiese klimaat waarin ons ons bevind.

Die skandes rondom die omgewingsvriendelikheid van dieselenjins in Europa en modeneigings vir juweliersware in China is onder die vernaamste redes waarom die platinumprys beroerd is – iets waaraan ons regering én die vervaardigers weinig kan doen.

Impala Platinum het nou aangekondig dat 13 000 werkgeleenthede afgeskaf gaan word in ’n omvattende herstruktureringsproses oor die volgende twee jaar.

Ramaphosa het nie werklik enigiets nuuts gesê nie, maar die tydsberekening het mense op hol gejaag.

Wat is die regering se reaksie?

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, trap Impala Platinum uit en voer aan dat verhoudinge met werkers die grootste uitdaging is. Geen woord oor die oneindige onsekerheid waaronder mynbou al jare lank moet werk nie – die gebrek aan behoorlike beleid in die mynboumanifes, die rondvallery oor bemagtiging en dan nou bo-op alles nog onsekerheid oor grondeienaarskap ook.

Jare lank al word daar geen eksplorasiewerk deur enige mynbou-ondernemings in Suid-Afrika gedoen nie, wat beteken hulle beplan nie nuwe skagte of enige uitbreidings nie. Dis ’n baie kommerwekkende neiging in ’n bedryf wat naastenby ’n halfmiljoen mense in diens het.

Die regering speel met vuur deur vae beloftes en uitsprake oor grondhervorming te maak.

Net om sout in die ekonomie se wonde te vryf, saai die SAUK verlede Dinsdagaand ’n vreemde, opgeneemde boodskap van Ramaphosa uit dat die ANC grondonteiening sonder vergoeding steun. Dít op dieselfde dag as Risenga Maluleke, statikus-generaal, se skokaankondiging dat die land se werkloosheidskoers met 0,5 persentasiepunte tot 27,2% gestyg het in die tweede kwartaal van 2018.

Ramaphosa het nie werklik enigiets nuuts gesê ná die ANC se nasionale uitvoerende komitee se vergadering nie, maar die tydsberekening (terwyl die parlementêre proses nog aan die gang is) en die skielike, laatnag-televisie-opname het mense op hol gejaag.

Die regering speel met vuur deur vae beloftes en uitsprake oor grondhervorming te maak. Dis doodeenvoudig nie aanvaarbaar dat daar berigte is oor 139 plase op ’n onteieningslys, maar niemand wil meer sê nie.

Dis ook onaanvaarbaar dat Olly Mlamleni, burgemeester van Mangaung, stellings maak soos dat die ANC “daarna uitsien” om plase en erwe uit te deel wat rondom Bloemfontein onteien gaan word.

Onsekerheid is toksies

Liezel de Lange

Tussendeur word daar gepraat van die onteiening van grond wat nié produktief gebruik word nie asook besette, vervalle geboue in ons stede om dit in goedkoop behuising te omskep. Sulke planne maak goeie sin.

Onsekerheid is egter toksies. Dit laat almal op hul hande (en hul geld) sit. Van die gewone gebruiker wat besluit om nie sy huis op te knap nie tot die boer wat nie wil plant nie, die myn wat vroeër eerder as later werkers aflê en die fabriekeienaar wat uitbreidings uitstel. Dit kos die ekonomie geld en ons mense werkgeleenthede.

Ook laat wilde uitsprake ons desperate landsburgers (daardie werklose armes wat voel hulle het niks meer om te verloor nie) se hoop en gemoedere en ongeduld opvlam. Dit skep ’n kruitvat, want hulle is juis diegene wat reeds die ergste in die steek gelaat is deur die regering se patetiese hantering van grondhervorming die afgelope dekade.

Grondhervorming hét misluk en die uitdaging móét getakel word, maar om dit as populistiese retoriek te misbruik vir volgende jaar se verkiesing is gevaarlik.

As die ekonomie teen die huidige tempo aanhou werkgeleenthede bloei en al hoe meer mense (van alle klasse) moedeloos raak, gaan dit die ANC in elk geval duur te staan kom by die stembus.

Die skade raak nou so groot dat dit moeilik gaan wees om om te keer as Ramaphosa ná volgende jaar se verkiesing ’n behoorlike mandaat het om die drastiese, ongewilde stappe te neem wat nodig is om Suid-Afrika se lot om te keer (ek tel onder diegene wat vertrou dat Ramaphosa ’n sinvolle langtermynplan het).

Vir nou kan ons net hoop en bid dat die man wat van die mees kritieke en ingewikkelde onderhandelinge (Kodesa) in ons geskiedenis suksesvol help lei het, opnuut in ons almal se belang die pyp sal rook.

* Liezel de Lange is besturende redakteur van Rapport.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.