Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is suur gesiggie doeltreffende kommunikasie?
Jana Luther

In ’n woordeboek soos die HAT word die betekenisse van omtrent 100 000 woorde verklaar; baie meer as wat enige spreker of skrywer daagliks nodig het. Met sowat 1 200 woorde kom ’n mens reeds oor die weg. Met 5 000 praat jy ’n vreemde taal al redelik vlot. Die passiewe woordeskat van ’n gemiddelde moedertaalspreker word op sowat 20 000 geraam. As jy jou bewustelik op taal toespits, ken jy dalk nog meer. Maar van al die woorde tot ons beskikking gebruik ons net ’n breukdeel.

Mense en dinge kom en gaan; gebruiksvoorwerpe en gewoontes verskyn en verdwyn, saam met die gepaardgaande woorde en begrippe. In die oues se plek kom daar nuwes. En meestal staan duidelikheid en doeltreffendheid voorop.

Moenie woorde gebruik wat jou teikenhoorders of -lesers dalk nie ken nie, want dan sluit jy hulle uit, word aangevoer. Pasop dat jy jou luisteraar of leser nie vervreem nie. Wees versigtig om teen niemand te diskrimineer nie. Wie vir jong lesers skryf, word gemaan om “moeilike” woorde te vermy.

Handboekskrywers word vir die eenvoud van hul woordkeuses geprys.

Handboekskrywers word vir die eenvoud van hul woordkeuses geprys. “Dis te moeilik,” is by opvoedkundige uitgewers ’n knaende refrein. “Die kinders (onderwysers!) gaan dit nie verstaan nie.”

Om te beweer dat dié voorstanders van eenvoudige kommunikasie ongelyk het, sal onregverdig wees, en verkeerd. Vanselfsprekend doen ’n mens jou bes om kennis só oor te dra dat geen misverstand ontstaan nie. Natuurlik wil elke spreker en skrywer graag begryp word. Maar verstaan verg grammatika én woordeskat. Vir 100%-kommunikasie die eerste keer is nuanse nodig.

Hoe voel daardie skrywer wat sy boodskap met ’n suur gesiggie afsluit werklik? Afgehaal? Bedruk? Bekommerd? Beswaard of depressief? Is hy desperaat, gefrustreerd, gegrief, gekrenk? Gekwel, gekwets? Knieserig? Melancholies, moedeloos; mismoedig, misnoeg? Sit hy op moedverloor se vlakte? Is hy miserabel? Morbied, neerslagtig? Negatief, nukkerig, ontevrede?

Ontnugter, ontstem, onvergenoegd? Pessimisties? Platgeslaan en seergemaak? Somber? Swaarmoedig? Swartgallig? Teleurgesteld, te na gekom? Vies? Wat beteken daardie enkele laggende gesiggie? Is dit ’n teken van blydskap, blymoedigheid? Is die emotikongebruiker entoesiasties, geesdriftig? Geamuseerd, geanimeerd? Gelukkig, gemoedelik, joviaal? Opgetoë, opge-ruimd, opgewek? Plesierig, pretlustig?

In ons hedendaagse beeldkultuur kommunikeer ons al hoe makliker, al hoe vinniger, maar met al hoe minder woorde ook toenemend oppervlakkig. Met die gang van die geskiedenis het woorde soos hierbo niks te make nie; wel met mense se diepste gedagtes en emosies. Wanneer holrugfrases, piktogramme en ander hiërogliewe stelselmatig die nodige uitings- en uitdrukkingsmoontlikhede van ’n genuanseerde taalkultuur begin vervang, moet ’n mens dalk tog maar vra: Waar hou doeltreffende kommunikasie op? Waar begin beperkte geletterdheid?

Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.