Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is taalrusie nuwe soort rassisme?
Leopold Scholtz

Hoe gaan ’n volwasse demokrasie om met sy minderhede? Soos Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, of soos Angie Motshekga, minister van basiese onderwys?

Die kontras tussen die manier waarop dié twee, albei voorbokke in die ANC, hulle die laaste tyd oor Afrikaans uitgelaat het in verband met die rusie oor die Hoërskool Overvaal, kan nie groter wees nie.

Enersyds het Lesufi die skool probeer dwing om 55 “Engelssprekende” kinders te akkommodeer. Die taal van die kinders is hier in aanhalingstekens geplaas, want waarskynlik is geen enkele een van hulle se moedertaal Engels nie; dit gaan om Afrikataalsprekers.

Die departement se streekdirekteur het, luidens die uitspraak in die hofsaak oor Overvaal, twee Engelse skoolhoofde in die omgewing geïntimideer om meineed te pleeg deur voor te gee dat hul skole vol is. Dit is om Overvaal te dwing om die kinders te aanvaar.

Luidens haar beëdigde verklaring in die saak het die streekdirekteur Afrikaans bestempel as “ ’n separatistiese taal wat hartseer en trane meegebring het vir die meeste van diegene vir wie dit geen moedertaal was nie”.

Andersyds het Motshekga na aanleiding van die rusie gesê Afrikaans kan nie weggesmyt word nie: “Daar is ’n plek vir almal en elke taal in die land. Ons het al soveel in Afrikaans belê. Dit is nie net die Afrikaners se taal nie. Daar is meer mense wat nie wit is nie wat Afrikaans praat.”

Etniese minderhede met hul eie taal kom voor in byna elke Europese land, van Denemarke tot Italië. Dit is interessant om te sien hoe hulle behandel word: Byna oral word hul regte erken en wetlik beskerm, nie slegs op papier nie, maar op praktiese beleidsvlak.

Spanje is ’n onlangse uitsondering. Daar het die gemoedere opgevlam nadat ’n klein meerderheid van die Katalane te kenne gegee het hulle wil onafhanklik word. Die regering in Madrid se hantering van die saak is ’n handboekvoorbeeld van hoe om minderheidsaspirasies nié te hanteer nie.

Dit is nie net die Afrikaners se taal nie. Daar is meer mense wat nie wit is nie wat Afrikaans praat.
Angie Motshekga

Die benadering op die res van die vasteland – dit is vasgelê in verskeie internasionale akkoorde met volkeregtelike status – is dat minderheidsregte gewoon ’n aspek van menseregte as sodanig is. Polities word dit ook as verstandig gesien, omdat dit die lont uit ’n potensiële kruitvat haal en die minderhede juis aan die staat bind.

Die Spaanse regering weier egter om ’n millimeter toe te gee en wil nie eens met die Katalaanse nasionaliste praat nie. Al wat hy daardeur regkry, is om die saak te laat eskaleer.

Dieselfde beginsel geld vir Suid-Afrika en Afrikaans. Die benadering wat dikwels in swart geledere aangetref word, is dat ’n aandrang op Afrikaans, byvoorbeeld op skool, ’n skelm manier is om swart mense uit te hou.

Dat verskeie swart kinders by Overvaal skoolgaan, maar dan in Afrikaans, word eenvoudig geïgnoreer.

Lesufi se soort benadering is goed weergegee deur ene Lukhanyo Vangqa in ’n blog op Huffpost Suid-Afrika.

Hy het die aandrang op Afrikaans afgemaak as “ ’n fasade vir rassistiese regsgesinde wit oorheersingsgesindes wat wil segregeer, maar wat nou taal in die plek van ras stel”.

Anders gestel: As ons “Afrikaans” sê, hóór hy “rassisme”. En dit geld blykbaar vir Lesufi-hulle ook. Miskien is dit maar eweneens ’n fasade. Wanneer hulle Afrikaans as ’n fasade vir rassisme wil uitskuif, is dit nie maar dat hulle nie Afrikaners soek nie? En wat is dit anders as swart rassisme?

Die tyd is ryp dat ons in gesprek tree met redelike mense soos Motshekga (en hopelik ook Cyril Ramaphosa).

Dié rusie sal op politieke vlak besleg moet word.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.